Glansplasing

Wys tans plasings met die etiket Poem. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Poem. Wys alle plasings

Weskus

 Aan die kus tussen Lambertsbaai en Yzerfontein,

sal jou sorge en jou laste vinnig verdwyn

Ongeëwenaarde skoonheid rym gesaai,

waar die wonder van Fynbos die wêreld verfraai

 

As jy net voor jou uit bly staar,

sal jy nooit die Weskus se skoonheid gewaar

Staan ‘n slag stil om alles om jou te bekyk,

die veld sal jou met ‘n skatkis van prag verryk

 

Sout van die aarde mense sal jy hierlangs kry,

hard besig om te werk of kos voor te berei

Snoek en patat of waterblommetjie bredie,

vir moskonfyt op brood se ek nooit nee nie

 

Plaaslike vissers werk hard en gedwee,

vir seekos en kreef uit die koue diepblou see

So kom en verlustig julle asseblief gerus,

aan Paternoster se heerlike kreef en vis

 

Joviale toeriste wat salig in die strate loop,

waar kinders hul skulpie handewerk verkoop

Sierlike gastehuise word ten duurste bewoon,

blind teen die verslawing wat armoede beloon

 

By Velddrif neffens die Bergrivier,

word jy verras met nóg Weskus plesier

Hier kan jy bokkoms by die vis-huise koop,

of leer hoe mens harders uit ‘n net kan stroop

 

St. Helena baai en Laaiplek se werkende hawe,

waar politiek die waarheid van kwotas begrawe

Vissermanne wat ‘n bestaan probeer voer,

verloën deur gierigheid wat om elke hoekie loer

 

Voor Lambertsbaai kry jy ‘n opelug eetplek,

met kreef en vars vis uit die see oopgevlek

As die blou see water aan jou voete soen,

word boerekos resepte se geheime verbloem

 

Na die nat en koue winterreën,

word daar meer sierlikheid aan ons verleen

As die son sy arms oor die oop velde straal,

openbaar miljoene blomme hulle kleurryke verhaal

 

Ons eertydse beminde Weskus juweel,

word nou deur binnelanders en uitlanders gesteel

Menigte vlug nou meteens weg van die plundery,

om hulle stukkie hemel voor die res te kan kry

 

Wat sal word van ons Weskus se mooi,

as almal hulself eensklaps hiernatoe nooi

Ons hoop en ons bid die migrasie is gou verby,

sodat ons sierlike Weskus behoue kan bly 

Klein Bondeltjie Liefde

Einde ten laaste is die wag nou verby

Onseker of jy pienk of blou skoentjies gaan kry

Daai bondeltjie liefde is nou oortuigend oppad

Ons sal vir eers wag-‘n-bietjie-pille moet vat

 

Uitbundig klop ons harte en ons is innig geraak

 Ons het lank gewag dat jy jou verskyning sal maak

Dit was met tye moeilik om vir jou te wag

Nuus van jou aankoms het ons laat huil en laat lag

 

Geduldig sou ons wag het ons beloof

Mamma en pappa was sterk in hulle geloof

Gebed en hoop het ons aan vasgeklou

Liewe Jesus het jou nou aan ons toevertrou

 

Toe kom die nuus jy is nie alleen

‘n Wonderwerk het gebeur moes ons verneem

Nou is julle twee wat ons kom verras

Ons is so trots ons borste wil bars

 

Mamma sal julle nou veilig in haar magie beskerm

Terwyl pappa hom oor mamma en julle ontferm

So groei mooi sterk tot julle die wêreld kom betree

Tot dan sal oupa jul paadjie vir julle skoon vee

 

Bevryding uit die kloue van die ondier

Jou jakkals, jy dink jy is beter as ander

Gulsig vir aandag wat almal negatief verander

Glo alles kom jou toe en dat jy alles verdien

Listige geveinsde ondier, ek kan deur jou sien

Jou gedurige beledigende manipulasie

Om jou kloue in te slaan op ander of die situasie

 

Soos ‘n Hiëna, berekend, maar onverstandig

Maak jy die mense om jou doelbewus vyandig

Sonder grense of respek en tot jy eie vermaak

Boelie jy almal uit vrees vir weerwraak

Jy voel magtig as jy sien jy kan iemand beheer

Om hulle tot jou voordeel te manipuleer

 

Jy is die slang wat jou emosionele gif versprei

Spoeg beskuldigings om jóú tafel voor te berei

Met jou gevurkte tong doen jy jou aanbeveling

Die plan is net verdere onderlinge verdeling

As iemand jou planne en aksies wil aanspreek

Seil jy ongedeerd weg om jouself te versteek

 

Met jou skerpioen knypers beklemtoon jou selfsug

Jou gebrek aan empatie kan gevoelens verwurg

Nimmer apologeties en sonder enige berou

Sal jy jou aantygings aan ander toesnou

Jy raak gou die slagoffer as jy kwesbaar is

Jou gifangel reg om jou onderduimsheid te beslis

 

Jy het my lank onseker en onbekwaam laat voel

En jou mond maklik oor almal se foute uitgespoel

Vir ‘n lang tyd het jy my geluk probeer steel

Net om jou enorme ego te streel

My laat twyfel oor my kwansuise onvermoë

Sodat jy beter kan voel oor jou eie misnoeë

 

Jy het gedobbel met my etiek en integriteit

Om jou eie agenda opwaarts te bepleit

Jare se harde werk en ervaring probeer stuit

My loopbaan by die venster uitgesmyt

Jy het my magteloos en ondergeskik laat voel

My selfvertroue met jou gif en leuens oorspoel

 

Maar tot hier toe en nie verder nie my ou maat

Vir te lank het ek jou optrede toegelaat

My oë het oopgegaan en my die lig laat sien

Ek weier om jou verder met lojaliteit te dien

Om onder ‘n narsissistiese egoïs te werk

Is hoegenaamd nie die moeite werd

 

 

Ou Getroudes

Op ‘n koringplaas langs ‘n nuut gespande draad

Staan twee bejaarde bome ewe kordaat

In die veld omring deur goudgeel koring gerwe

Teen die blou lig is die twee se silhoeët uitgekerwe

 

Ingedagte jaag almal verby na waar hulle gaan

Onbewus van die twee bome wat daar staan

Hand aan hand is hulle in tak en loof vervleg

Soos ou getroudes in toewyding en opreg

 

Seisoen na seisoen het hul saam gegroei

Deur wind en weer en met koue bemoei

Staan hulle saam om die wêreld in die oë staar

Al verloor hulle jaar na jaar elke blaar

 

Diep gewortel in die sanderige Sandveld grond

Ondersteun hulle mekaar in hul huweliksverbond

Saam deel hulle die voeding en genade vog

Om soos een met hulle groen loof te spog

 

En soos hulle meer volwasse raak

Word daar plek vir ander gemaak

Skadu kolle om teen die son te beskerm

Met koelte word die vee in lafenis ontferm

 

Selfs wanneer dit lyk of alles skeef loop

En die mens gaan lê in onbeholpe wanhoop

Of dit lyk of die wêreld besig is om te vergaan

Sal die twee ou bome in die eg regop bly staan

 

Brief Aan My Seuns

  Van kindsbeen af het ons julle gekoester

Vertroos, versorg en met liefde omvou

Geskenke uit God se genade hand

Hoe sou ons julle groot kry sonder berou

 

Onseker en onhandig het ons julle grootgemaak

Met wat ons het en weet ons beste probeer

Julle lewens paadjie het ons vir julle voorberei

Met hoop en vertroue het ons julle alles geleer

 

In ‘n oogwink het julle ons opvoeding ontgroei

Te vinnig het julle ons nie meer nodig gehad

Julle eie paadjies vir julle mooi uitgekerf

Om vreesloos die moeder nes te verlaat

 

Nou is julle groot, onafhanklik en volwasse

Julle keuses is gemaak en visie bepaal

Met trots en verwondering kyk ek op na julle

Dankbaar om deel te wees van julle verhaal

 

Ek skryf hierdie brief in ‘n ode nou aan julle

Om hierdie laaste opdragte aan julle te gee

Ons verdrag van onfeilbare liefde te bekragtig

En om onvoorwaardelik eerbaar op te tree

Windpompe

Jy kry hulle oral in die platteland gesaai

in afwagting vir die winde om te waai

met koppe regop soos ‘n Sonneblom

meestal pen orent, ander skeef en krom

 

Van die Weskus op tot middel in die Karoo

wag hulle geduldig vir die reën van bo

om die aarde te voed met lewens water

uit genade gestuur van die hemelse Vader

 

In die Kalahari waar droogte baljaar

lyk hulle maar moeg jaar na jaar

hulle koppe hang verlep en geboë

skaam en verleë in hul onvermoë

 

Die mielies en gewasse pronk in die Noordwes

die Genade het die grond se dors geles

blink in die son draai nuwe lemme bly

om vars water in die plaasdamme te lei

 

Die plase lyk mooi, maar die dorpe is besmet

wie sal ooit hierdie wanbestuur kan red

korrupsie in dorpe en stede maak my bang

selfs van die windpompe se koppe hang

 

Stadig draai hul kreunend en vergete

party geroes of stukkend en verslete

in die veld staan hulle eensaam en verlate

opgeneuk en flenters soos Wolmaransstad se strate

 

 

Al is van hulle moer toe gepomp en ongedaan

sal windpompe altyd bly voortbestaan

in die hart van ons Boerevolk sal hy bly leef

al is dit net as baken om vooruit te streef

Elandsbaai

Elandsbaai tussen Redelinghuys en Verlorenvlei

of van Velddrif langs Dwarskersbos verby

op die grondpad langs die spoorlyn moet jy ry

tot daar waar jy die beste kreef aan die Weskus kry

 

Ongerepte natuurskoon met fynbos besaai

blomme en kleureprag wat die omgewing verfraai

die reuk van die see wat kreef se skuilplek verraai

destyds het die vissermanne hier koning gekraai

 

Jong avontuur soekers wat branderplank ry

‘n verskeidenheid voël spesies baljaar in die vlei

rots tekens uit die Bobbejaan berg wat jou verlei

in die grotte sal jy oeroue Boesman kunswerke kry

 

Sout van die aarde mense by die ou fabriek se kaai

maak hul bestaan uit die see al word hulle verraai

uitvoer krewe (nie vir ons bedoel) word hier afgelaai

skelm kwotas wat ongewenstes se sakke belaai

 

As jy ooit kans kry om Elandsbaai toe te ry

op die N7 of teen die kus langs verby

maak seker dat by die hotel gaan draai

en beslis ‘n paar krewe langs die see kom braai

My Lewensreis

In die hoëveld is ek gebore en getoë

Gegroei, geleer, geval en gevind

My tiener hart gebreek uit en liefkry se onvermoë

Heel laas uit liefde in die eg verbind

 

My Weskus nooi wou die vuur in my bedaar

Toe ek onseker die wêreld agternagesit

Dapper het ek die lewe in die oë gestaar

Slegs deur die Vader se hand beskut

 

Later my vroutjie se geboorteplek leer ken

Lambertsbaai, Velddrif en Paternoster se bekorings

Ongerepte met sy eenvoudigheid moes ek verken

My lot aangewys deur die lewe se vuurtorings

 

Na elke besoek aan die Weskus jaar op jaar

Moes ons terug na die stad in die noorde se gejaag

Om van vooraf weer die druk en stres te aanvaar

Die alewige roetine wat ons drome weereens vertraag

 

‘n Halfeeu oud is my my wens eers bewaarheid

Ek en my liefling het in die Weskus kom woon

Rustig en veilig van die res van die land se naarheid

Met aanskoulike sonsondergange beloon


Die laaste pylvak wenpaal toe lê voor ons deur

Om van vooraf weer ‘n nuwe lewe bou

Ons sal sukkel, swoeg en swaarkry en voort beur

Om ‘n nalatenskap vir ons kinders en hulle kinders te behou

 

Optimisties benoud durf ek die hindernisse aan

Nuwe uitdagings en dinge om te leer

Slag gereed om geleenthede hok te slaan

Gee my wysheid en waardering O Liewe Heer!

Die Jaar 2020

Die jaar van drome en opwinding
‘n nuwe begin soos elke jaar
moeilik sal dit wees het almal beding
ekonomies op sy knieë dit weet ons is waar
 
Ons sien kans vir hierdie mutasi
en lag ligsinnig die uitdagings uit
‘n virus in Wuhan dui as indikasie
wat ons in ons spore gaan stuit
 
En tóé die skok en ongelowige terugslag
met inperking word almal huis toe stuur
opgewonde met ‘n innerlike onsekere lag
kan ons die grendeltyd verduur?
 
Kamers en eetkamers word ontruim
om plek vir oefening of iets anders te maak
om nie buite te kan oefen ‘n bitter aalwyn
bitterbek deur die aandklok vermaak
 
Onverhoeds is ons geboelie tot vlak beheer
die bullebakke wat ons verder inperk
in pogings om ons lewens te regeer
word ons nou as kriminele gebrandmerk
 
Inperkings wat families en vriende vervreem
ons mag taxi ry en dobbelhuise bywoon
tog word ons van ander sondes ontneem
rook of te drink word met vervolging beloon
 
Skole maak oop in slae verwondering
jy kan uiteet en fliek - familie steeds verbied
dae word maande in afsondering
die pandemie ondier styg uit die nuut
 
Kerke is leeg en hospitale loop oor
almal se oë is op statistiek gerig
daagliks morbiede nuus wat ons versmoor
hoe lank nog?  .. is daar is geen einde in sig!


Winter

Donker gruis wolke op die horison in sig

en die reuk van nat grond hang in die lug,

Met ‘n stilte voor die storm om eers te besin en te wonder.


Saggies val 'n druppel hier en daar,

Al natter word alles en blink elke blaar,

En dan die strormwind saam met die reën sonder weerlig of donder.

 

Koue trek deur my hele liggaam deur,

In die kombuis die reuk van winter kos se geur,

Vertroosting teen die misterieuse mis kombers afgesonder.


Die reën bring die stilte met haar saam,

Om einde van die dorre somer te beaam,

Welkom Kaap se winter met jou groen, geel en pers wonder.




Voggies

Geen drank of sigarette is meer beskikbaar,

Al die wyn en whisky in die huis is ook nou klaar,
Al die ou verbode voggies is oral nou op
hoe nou gemaak vir die nodige dop?

Hoe moet ons cope onder hierdie geweldige stres?
Ek rook nie eers nie, maar wat van die res!
Ons kan na nie na werk gaan stap of gaan draf,
en met my dik lyf is yoga of pilates net laf!

Almal maak tuisgemaakte vodka of pynappel bier,
al gooi jy koeldrank daarby .. proe dit of te wild of te suur.
In die kettingwinkels is non-alcoholic voggies oral volop,
maar hoe maak dit sin om iets te drink sonder skop.

By ‘n verbode braai word inligting uitgedeel,
oor wyn sonder etikette of sonder ‘n seël.
Al proe dit sleg of is die oorsprong onbekend,
betaal ons enigiets al is dit duur tot op die laaste sent.

O, my lus hang uit vir ‘n goeie Skotse versnit,
selfs Vat 69 sal ek nou ten volle benut!
Goedkoop drank wat ons nou duur voor betaal,
proe net so lekker soos dié op die hoogste skaal.

As ek moet kies tussen die voggies en ons huidige las,
verkies ek natuurlik my gesondheid bo ‘n babbelas.
So .. tot wanneer ons dan weer daai kosbare voggies kan drink,
wag ek geduldig om met julle almal weer ‘n glasie te klink.

Gatsrivier

Het jy al deur die Ceres Karoo gery

‘n Vlugteling uit die stad en sy geraas,

Om die stres wat jou versmoor te vermy

Weg van pad woede en gekruide taal,

Daar waar jou sintuie blootstelling kry

Eensame stukkie aarde, droog en kaal

So wyd dat die aardse kurwe sigbaar is

En waar jou gedagtes in jou kop verdwaal

 

Die doodse stilte wat jou ore verdoof

Tussen drie riviere, Gats-, Tankwa- en Doring-,

Het die droogte die riviere van hul water beroof

Tussen die Roggeveld- en Koedoes berg

Nuanse wat verrassings beloof

In die Karoo is jou metgesel rustigheid en vrede

Die grensloosheid onmeetlik groot

En lê die bergreekse platvloers uit veld verhewe

 

Karee- en doring bome wat met koelte verkwik

In die afwesigheid van selfoon opvangs,

Kwetter die voëls wat vreedsaamheid beskik

Effe wild maar tog beskaafde vakansie plaas,

Jou gesindheid en gemoed bepaal jou geluk

Min mense ken hierdie inspirerende ervaring

Vreemde mense wat mekaar vertrou 

Om op die boek te drink vir latere betaling

 

Maar hierdie plek is nie vir almal beskore

Ry jy die Patats rivier afdraai mis,

Raak jy gou in hierdie landskap verlore

Al wys die GPS vir jou waarlangs jy moet ry,

Word nuwe avonture sommer gou gebore

As jy verdwaal tot amper in Sutherland,

Wag ‘n koperkapel met die omdraai vir jou

Die son al hoog om oppad terug jou te verblind

 

Die diesel raak min en naby is nou ver

Deur droë rivier beddings en ou hutte verby,

Nou 'n twee spoor paadjies baie sinister

By ‘n gaste plaas, moedeloos trek ek af,

Word ek gegroet deur ‘n paar bokke wat blêr

Kry instruksies wat die regte rigting aandui

Versigtig volg ons die landmerke soos oorgedra,

Teen laat middag by Bakens rivier verby

 

Oor die laaste bult teen lang die helling af,

Verskyn onnatuurlik die groot houthek voor my

Niemand in sig, die kamp is so stil soos die graf

Vanaf ‘n radio teen ‘n paal ontbied ons die voorman,

En kom hy oor die vlakte aangedraf

My hart klop nou tydsaam, die adrenalien verdwyn,

Die rivierloop omtower die veld in lowergroen 

Gatsrivier se nuanse wat voor my verskyn 

Die Virus

Die mensdom is in hul huise vasgevang

Ingeperk om mekaar weer te ervaar

Van vooraf lief te kry en te aanvaar

Ons vryheid gaan van ons gedrag afhang

 

Party beweer dit is ons eie toedoen

Moeder aarde veg genadeloos terug

Oorbevolking, gemors en versmorende lug

Om natuur en mense weer eendag te versoen

 

In ‘n verdeelde wêreld met selfsug daarin

Mens wat nie omgee of die aarde vergaan

Nou gedweë gedwing om saam te staan

Moet ons nou oor ‘n nuwe toekoms besin 

 

Met vrees en paniek besaai

Baatsug van die egoïstiese mens

Koop gulsig al wat kan vir die spens

Drankloos voel ander verraai

 

Dit gons en daar word baie gepraat

Sameswering, nalatigheid of noodlot

China, Amerika, terroriste deel van die komplot

Sal ons ooit weet wie het die virus uitgelaat


In ons huise sal ons volhard sonder verset

Hou die nuus dop in groot verwagting

Aanvaar die noodregulasies met minagting

Julle sal klaarkom met wat jul het!

 

Almal probeer om kop bo water te hou

Die geestelik geveg om normaal te bly

‘n Ewige stryd om die virus te vermy

Ons kan maar net bid en te vertrou

 

Koester hierdie kosbare tyd wat God ons gee

Leer geduld, geloof en verdraagsaamheid

Ervaar rus en vrede, liefde en familie tyd

Aan die ander kant sal ons nou ‘n nuwe wêreld betree