Glansplasing

Windpompe

Jy kry hulle oral in die platteland gesaai

in afwagting vir die winde om te waai

met koppe regop soos ‘n Sonneblom

meestal pen orent, ander skeef en krom

 

Van die Weskus op tot middel in die Karoo

wag hulle geduldig vir die reën van bo

om die aarde te voed met lewens water

uit genade gestuur van die hemelse Vader

 

In die Kalahari waar droogte baljaar

lyk hulle maar moeg jaar na jaar

hulle koppe hang verlep en geboë

skaam en verleë in hul onvermoë

 

Die mielies en gewasse pronk in die Noordwes

die Genade het die grond se dors geles

blink in die son draai nuwe lemme bly

om vars water in die plaasdamme te lei

 

Die plase lyk mooi, maar die dorpe is besmet

wie sal ooit hierdie wanbestuur kan red

korrupsie in dorpe en stede maak my bang

selfs van die windpompe se koppe hang

 

Stadig draai hul kreunend en vergete

party geroes of stukkend en verslete

in die veld staan hulle eensaam en verlate

opgeneuk en flenters soos Wolmaransstad se strate

 

 

Al is van hulle moer toe gepomp en ongedaan

sal windpompe altyd bly voortbestaan

in die hart van ons Boerevolk sal hy bly leef

al is dit net as baken om vooruit te streef

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking