Glansplasing

Ou Getroudes

Op ‘n koringplaas langs ‘n nuut gespande draad

Staan twee bejaarde bome ewe kordaat

In die veld omring deur goudgeel koring gerwe

Teen die blou lig is die twee se silhoeët uitgekerwe

 

Ingedagte jaag almal verby na waar hulle gaan

Onbewus van die twee bome wat daar staan

Hand aan hand is hulle in tak en loof vervleg

Soos ou getroudes in toewyding en opreg

 

Seisoen na seisoen het hul saam gegroei

Deur wind en weer en met koue bemoei

Staan hulle saam om die wêreld in die oë staar

Al verloor hulle jaar na jaar elke blaar

 

Diep gewortel in die sanderige Sandveld grond

Ondersteun hulle mekaar in hul huweliksverbond

Saam deel hulle die voeding en genade vog

Om soos een met hulle groen loof te spog

 

En soos hulle meer volwasse raak

Word daar plek vir ander gemaak

Skadu kolle om teen die son te beskerm

Met koelte word die vee in lafenis ontferm

 

Selfs wanneer dit lyk of alles skeef loop

En die mens gaan lê in onbeholpe wanhoop

Of dit lyk of die wêreld besig is om te vergaan

Sal die twee ou bome in die eg regop bly staan

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking