Glansplasing

Gatsrivier

Het jy al deur die Ceres Karoo gery

‘n Vlugteling uit die stad en sy geraas,

Om die stres wat jou versmoor te vermy

Weg van pad woede en gekruide taal,

Daar waar jou sintuie blootstelling kry

Eensame stukkie aarde, droog en kaal

So wyd dat die aardse kurwe sigbaar is

En waar jou gedagtes in jou kop verdwaal

 

Die doodse stilte wat jou ore verdoof

Tussen drie riviere, Gats-, Tankwa- en Doring-,

Het die droogte die riviere van hul water beroof

Tussen die Roggeveld- en Koedoes berg

Nuanse wat verrassings beloof

In die Karoo is jou metgesel rustigheid en vrede

Die grensloosheid onmeetlik groot

En lê die bergreekse platvloers uit veld verhewe

 

Karee- en doring bome wat met koelte verkwik

In die afwesigheid van selfoon opvangs,

Kwetter die voëls wat vreedsaamheid beskik

Effe wild maar tog beskaafde vakansie plaas,

Jou gesindheid en gemoed bepaal jou geluk

Min mense ken hierdie inspirerende ervaring

Vreemde mense wat mekaar vertrou 

Om op die boek te drink vir latere betaling

 

Maar hierdie plek is nie vir almal beskore

Ry jy die Patats rivier afdraai mis,

Raak jy gou in hierdie landskap verlore

Al wys die GPS vir jou waarlangs jy moet ry,

Word nuwe avonture sommer gou gebore

As jy verdwaal tot amper in Sutherland,

Wag ‘n koperkapel met die omdraai vir jou

Die son al hoog om oppad terug jou te verblind

 

Die diesel raak min en naby is nou ver

Deur droë rivier beddings en ou hutte verby,

Nou 'n twee spoor paadjies baie sinister

By ‘n gaste plaas, moedeloos trek ek af,

Word ek gegroet deur ‘n paar bokke wat blêr

Kry instruksies wat die regte rigting aandui

Versigtig volg ons die landmerke soos oorgedra,

Teen laat middag by Bakens rivier verby

 

Oor die laaste bult teen lang die helling af,

Verskyn onnatuurlik die groot houthek voor my

Niemand in sig, die kamp is so stil soos die graf

Vanaf ‘n radio teen ‘n paal ontbied ons die voorman,

En kom hy oor die vlakte aangedraf

My hart klop nou tydsaam, die adrenalien verdwyn,

Die rivierloop omtower die veld in lowergroen 

Gatsrivier se nuanse wat voor my verskyn 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking