Glansplasing

My Lewensreis

In die hoëveld is ek gebore en getoë

Gegroei, geleer, geval en gevind

My tiener hart gebreek uit en liefkry se onvermoë

Heel laas uit liefde in die eg verbind

 

My Weskus nooi wou die vuur in my bedaar

Toe ek onseker die wêreld agternagesit

Dapper het ek die lewe in die oë gestaar

Slegs deur die Vader se hand beskut

 

Later my vroutjie se geboorteplek leer ken

Lambertsbaai, Velddrif en Paternoster se bekorings

Ongerepte met sy eenvoudigheid moes ek verken

My lot aangewys deur die lewe se vuurtorings

 

Na elke besoek aan die Weskus jaar op jaar

Moes ons terug na die stad in die noorde se gejaag

Om van vooraf weer die druk en stres te aanvaar

Die alewige roetine wat ons drome weereens vertraag

 

‘n Halfeeu oud is my my wens eers bewaarheid

Ek en my liefling het in die Weskus kom woon

Rustig en veilig van die res van die land se naarheid

Met aanskoulike sonsondergange beloon


Die laaste pylvak wenpaal toe lê voor ons deur

Om van vooraf weer ‘n nuwe lewe bou

Ons sal sukkel, swoeg en swaarkry en voort beur

Om ‘n nalatenskap vir ons kinders en hulle kinders te behou

 

Optimisties benoud durf ek die hindernisse aan

Nuwe uitdagings en dinge om te leer

Slag gereed om geleenthede hok te slaan

Gee my wysheid en waardering O Liewe Heer!

Is ek of was ek?

Ek bevind myself deesdae gereeld in die moeilike posisie waar ek nie weet waar ek inpas nie en waar vandaan kom nie.  Die gevoel van, ek was amper daar, of het dit net-net nie gemaak nie, is oorweldigend.  Soms voel dit dat ek dit wel gemaak het en deel was van dit wat belangrik was, maar wie weet dit en maak dit werklik saak?  Daar is so baie “glory hunters” daar buite en k*k praters wat vir die hele wêreld wil vertel saam met wie hulle wat gedoen het.  Hulle laat jou gou verstaan dat hulle skouers skuur of geskuur het met die bekendes, beroemdes en berugte onderwêreld.  Hulle lieg onbeskaamd saam met wie hulle wapendraers was in die oorlog teen die vyand wat ons voor 1994 geveg het.  Ek ken baie van hulle en eien hulle bitter gou as jy in geselskap verkeer of by ‘n watergat gaan sit en kuier.  Hulle praat groot van hulle ervarings of skermutselinge en suksesse saam met die groot name saam met wie hulle kwansuis die wapen opgeneem het.  Onbewus van ons wat daar kom sit net om bietjie weg te breek van ons verlede, of miskien akute nostalgie op ons eie wil ervaar.  Ons wat werklik daar was of regtig deel was van daardie operasie, of self deel was van daardie nou berugte eenheid, maar weereens, wat maak dit saak?

Toe ek jonger was wou ek graag hê dat mense moes weet wie ek is en die werk wat ek saam met die groot name gedoen het, maar nou dat ek ouer is word ek werklik kwaad vir die verlede en die onreg wat ons aangedoen is.  Almal wil erkenning hê vir die opofferings wat jy gemaak het om nie eers te praat van die opofferings wat jou gesin noodgedwonge en onvermydelik moes maak nie.  Die laat nagte en vrees of jy veilig sal terugkom was onafwendbaar en onregverdig.  Vir ons was dit ongetwyfeld ons roeping en het dit uitgeleef en selfs geniet.  Ek moet eerlik erken dat ek heel waarskynlik selfsugtig verslaaf was daaraan.  Die aksie was ongetwyfeld verslawend, en ja die adrenalien was ons fix.  Die satisfaksie na die aksie was die nabetragting daarna om die kampvuur.  Met drank wat vloei het ons opgewonde, amper jubelend, die hele scenario oorvertel en oor en oor herleef.  Niemand sal daardie kameraderie ooit verstaan as jy nie deel daarvan was nie.  Daardie sterk band met jou makkers, daai “band of brother”  is onvernietigbaar, ‘n amper heilige (met respek gesê) bondgenootskap.

Ek dink dit is wat baie van die grootpraters na smag.  Dit is hoekom daar so baie onnadenkende, entoesiastiese en gretige Gung Ho’s is wat kwansuis honger is om aan gevegte of oorlogvoering deel te neem en met smaak vertel hoe hulle nou gereed is daarvoor.  Weet hulle dan nie dat daar geen wenners in oorlog is nie?  Afgesien van die hartseer van dood, emosionele wonde en post traumatiese stresversteuring wat baie van ons makkers ervaar het en steeds ervaar, is daar die pynlike hartseer van verraaiers soos Mr X, en die oorlopers, en natuurlik die k*k praters, en die onverwagte wantroue en vrese tydens die politieke tonele in ons land tussen 1990 en 1994.

CODESA, die Harms Kommissie en Die Waarheid-en-Versoenings Kommissie (WVK) het baie van ons bevrees, vervolg en verwerp laat voel.  Wat nou?  Wat gaan nou van ons word?  Ons wat ons lewe opgeoffer het vir dit wat vir ons kosbaar was.  Wat is dit wat vir ons kosbaar was?  Weet ons ooit?  Ek dink baie hieroor na sonder enige bevredigende antwoorde.  Is dit ons geskiedenis?  Almal se geskiedenis is vir hulle belangrik.  Wie se geskiedenis is reg, en hoe weet ons of dit ooit die waarheid is?  Soms is dit net oorvertellings van werklike gebeure wat verdraai word en deur baie generasies oorgedra te word en stertjies aan kry.  Soms is dit net opgemaakte verhale of staaltjies.  Ek weet nie meer nie, of ek weet eintlik baie goed, maar besef dit word nie meer erken nie.

Dit is seker onvermydelik dat ons erkenning wil hê vir die impak wat ons op mense se lewens en harte gemaak het en dat jy met so ‘n nalatenskap beloon kan word.  Ek sien so baie van my kolegas skryf boeke oor hulle ervarings en gebeure wat opslae gemaak het, ... en daarin lê my dilemma.  In baie van die boeke wat geskryf word, het ek deel aan gehad, maar nie genoeg om self ‘n boek te skryf nie.  Ek was net daar, of het dele daarvan oorsien, of was direk betrokke, maar kon nie daaroor praat nie.  Dit is seker hoekom ek nou hier sit en hieroor skryf?  Miskien wil ek tog hê mense moet dit weet, of is dit maar net daardie hol gevoel wetende niemand verstaan dit nie en dat ek het nooit erkenning daarvoor gekry nie?  Of is dit omdat ek nou in my vyftigs dit nie meer kan doen nie en net bloot opgegee het?  In elk geval is die helfte van die inligting wat in daai boeke oorgedra is weereens net die alom ontwykende najaag na glorie en beslis halwe waarhede.  Die mense wat dit moontlik gemaak het vir die Piet Byle van die lewe om naam te maak word nie eens die boeke genoem nie.  Sukses word nooit deur een persoon bepaal nie, maar deur spanwerk en samewerking.  Dit is per slot van rekening wat sake oplos, booswigte agter tralies laat beland en vervolging suksesvol maak.  Die veldspanne en operasionele lede wat na ure, nag na nag inligting opvolg en kriminele, terroriste en boosdoeners jag en hulle lewens in gevaar stel, is altyd agter die skerms en word nooit van gehoor nie.  Die dag as jy erkenning kry word ‘n medalje stilweg agter toe deure aan jou bors vasgesteek.  Geen publieke erkenning op ‘n medalje parade of erkenning in ‘n “bestseller” vir jou nie my ou maat!

Dit is ook seker hoekom so baie van ons adrenalien “junkies” geword het of soms na die bottel gegryp het, juis omdat ons gedoen het wat gedoen moes word, wetende dat ons nie raak gesien gaan word nie.  That was part of the job.....!  Ek het nou onlangs die eerste keer in my lewe fisiese hartseer ervaar en gehuil.  Hartstogtelik soos ‘n baba het ek skaamteloos gehuil toe my ou kameraad aan ‘n hart aanval dood is.  Nie in ‘n kontak nie, nie aan diens nie!  Alleen in sy bed.  Geen staatsbegrafnis vir hierdie yster nie!  Elke keer as ek daaroor praat of daaraan dink huil ek van voor af.  Ek kan dit nie keer nie en weet nie hoekom nie.  Afgesien van die feit dat ek en hy al in ‘n kontak saam was en ek hom met my lewe vertrou het, en dat ek onlangs na jare weer met hom verenig het, dink ek ook dit is omdat ek tot die besef gekom het dat ek nooit weer die voorreg sal hê om operasioneel te wees nie.  Dit is verby vir en my kamerade en ons is verby ons verval datum.  Selfs my protégé wat nog steeds operasioneel is en sy kant bring se rak lewe gaan een van hierdie dae verval.  Die besef dat my kanse verby is sny soos ‘n koue winter deur my.  Geen geleenthede meer vir ons nie.... Vir die laaste 20 jaar het ek agter ‘n lessenaar in ‘n kantoor van korporatiewe wolwe gesit en ‘n leuen gelewe net om te oorleef en om na my gesin om te sien.  Ek is natuurlik ongelooflik dankbaar vir die kans om stabiliteit, sekuriteit en ‘n dak oor ons koppe te kon sit, maar is dit my nalatenskap?  Wat het ek om te wys daarvoor?

Ek wens soms dat die regte manne wat in ons situasie was meer met mekaar kon deel, sodat die stilte tussen ons, om hierdie aaklige geskiedenis onder die mat te probeer vee, die selferkenning aan ons te kan gee en ons kan bevry van dié wat dit so aandik en verheerlik.  Ons wat die waarheid ken en nou bedreigde spesies geword het moet nou ons eie potjie krap.  Ons moet nou entrepreneurs word, selfonderhoudend wees, ons eie besighede begin om te oorleef.  Verwerp uit die nuwe bedeling moet ons aanvaar, vergewe en om verskoning vra!  Wie gaan vir ons om verskoning vra of aanvaar dat ons ook hier hoort en dit verdien om hier te wees.  Sal ons ooit vergewe word?

Jy my broer of suster wat nooit ‘n wapen op jou bors gedra het of ‘n wapen in jou hand gehad het nie en wat met outoriteit wil kom praat oor wat reg en verkeerd is en die verlede.  Ja, jy wat tussen jou vriende so spog oor jou veldslae en jou bravade!  Julle wat so graag op Facebook, Twitter en Instagram julle stories deel, foto’s plaas en opinies lig...., bly maar eerder stil.  Jy ken nie die volle, hartseer waarheid soos wat ons dit beleef het nie my ou mater!

Op die einde van die dag sal ons ook seker maar sing soos Koos Kombuis in sy liedjie Boer In Beton:

Iewers in my klink die stem,

van Strydom, Verwoerd en die knipmeslem

van patriotisme wat nog flits,

al maak ek Sondae vuur met blits

elke voorvader 'n pionier,

en ek weet ek hoort nie hier

ek sit in laatnag kroeë rond,

maar ken nie meer die reuk van grond

daar's iewers velde wat nog roep,

daar’s iewers nog 'n boere stoep

die Groot Trek oor die oop Savanna,

die blink loop van 'n Sanna

Trots moet ons aanhou veg vir ons voortbestaan en kontak hou met mekaar, want ons alleen weet waaroor dit gaan.  Ons, die onteerde, onerkende, gemuilbande kollektief, in ewige verbintenis tot die suksesse van ons opofferings, die vooruitgang van ons nasie, en die standvastige lojaliteit aan ons kamerade wat ons skouer aan skouer saam mee geveg het.

Nooit ooit sal ons bedel vir troos, vergifnis en erkenning nie!

Alles word toe swart voor my

Swart is die donkerste kleur in die kleurspektrum. Dit word gedefinieer as "die totale afwesigheid van lig of kleur" of as "'n mengsel van alle kleure of kleur-pigmente". Dit is die kleur wat alle lig absorbeer, nie weerspieël nie en dus verskyn as ontbloot van die orde. - https://af.wikipedia.org/wiki/Swart


Patrollie ry is die kern van misdaad voorkoming. Polisiepatrollies speel 'n baie belangrike rol in die bekamping van misdaad en skep ‘n gevoel van veiligheid onder die publiek en ontmoedig misdadigers om misdade te pleeg. Indien dit reg gedoen word, skep dit ook vertroue tussen die gemeenskap en die polisie. Die reg doen kom saam met skoon en netjiese voertuie en goed geklede en parate polisie beamptes. Dissipline en paraat loop saam met beskerm en dien.
 
Sersant Fires was een van daai slaggereed, oorentoesiasties, parate manne. Streng, altyd pynlik netjies en gedissiplineerd en het dieselfde dissipline op sy ondergeskiktes afgedwing. Hy het elke dag parade en inspeksie gehou. Almal se uniform moes dieselfde wees, nie somers drag met winters drag gemeng of veld drag met uniform saam geflans nie. As een ‘n baadjie aan het, moet almal een aan hê. Blink skoene só gepoets dat jy jouself kon sien daarin, hare mooi gesny en netjies vasgebind vir die dames, pet op die kop en sakke leeg. Jou sakboek op datum aangeteken en voertuig skoon en blink met logboek op datum.
 
Om patrollie te ry was nie enige man se voorreg nie, nee dit was net die voorreg van die wyk Sersant en sy bemanning, gewoonlik die mees senior lid aan diens en dit was die voorreg van Sersant Rooies en sy bemanning of “crew” Konstabel Elias Ndlovu. Saam was hulle ‘n gedigte span en het tydens elke skof ten minstens een arrestasie gemaak. Verder was hulle taak om die res van die skof te besoek en seker te maak dat ordentlike polisiëring plaasvind op straat en dat wet in orde gehandhaaf word. Sersant Fires was die aanklag kantoor bevelvoerder en ook skof leier en het dinge per radio vanaf die stasie gekoördineer. Die res moes hekwag diens doen, voet patrollie stap en in die aanklag kantoor dienste verrig.
 
In die polisie het almal ook byname gehad en die oorsprong van so ‘n bynaam is gewoonlik afkomstig van ‘n ou se van soos Fires Van Vuuren, of Vissie Visser, Nella en seker die mees bekendste, Blackie Swart. Almal was op hul rang gevolg deur sy bynaam of van aangespreek, soos Sersant Fires en ander. Konstabels was egter nie op rang aangespreek nie en was nie waardig om aangespreek te word as konstabel nie, behalwe as jy weer moes bewus gemaak word van waar jy op die food chain lê. Konstabels is sommer aangespreek op die van en instruksies was ook so uitgedeel: “Botha!, kom op parade..., of Van der Walt kry jou gat op ‘n drafstap!.
 
Sersant Rooies daarenteen se bynaam is nie afgelei van sy van nie, maar van sy gesig wat so rooi word as hy bedonderd is. Sersant Johannes Gerhardus Louw was sy volle name, maar heet Sersant Rooies onder die manne, maar definitief nie voor hom of in hoorbare afstand nie en hy was van dieselfde stoffasie as Sersant Fires. Sersant Rooies was ‘n yster op die skof, altyd reg om op patrollie by te staan en te help met arrestasies. Sy voertuig was sy trots, altyd skoon en netjies en daai 1800 Toyota patrollie bakkie of vangwa was na elke skof gewas en voor elk skof geïnspekteer en hy was oor daai vangwa soos Sersant Fires was oor uniform.
 
Staatsvoertuie in daardie dae was met respek behandel en was deel van die dissipline en magsvertoon van die mag. ‘n Skoon netjiese polisie voertuig het die beeld van die polisie uitgedra en deel van die verhouding van gesag en vertroue tussen die polisie en die publiek. SERVAMUS ET SERVIMUS – OM TE BESKERM EN TE DIEN, die leuse van die polisie moes ten alle tye uitgebeeld en uitgeleef word in jou voorkoms, gedrag en dissipline. Geen polisie voertuig was op die pad toegelaat as dit vuil of nie in volle werkende orde was nie. Indien ‘n voertuig ‘n stamp of krap gekry het, was ‘n volledige ondersoek daarna geloods en moes die bestuurder volle verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Alle ongelukke moes deur ‘n offisier op die toneel bygewoon word en het gewoonlik gelei tot ‘n dissiplinêre verhoor, maak nie saak wie se skuld dit was nie en die voertuig is dadelik onttrek en na die polisie motorhawe verwys vir herstelwerk.
 
Dit is dus ‘n onomwonde feit dat almal graag die patrolliewa wou ry, maar dat niemand kans gesien het vir die verantwoordelikheid en vervelige en oneindige administrasie en verslaggewing wat daarmee gepaard gaan nie, wat nog van al papierwerk en moontlike reperkussies indien die ryding iets sou oorkom? Indien jy ‘n voertuig lisensie gehad het was dit nie ‘n gegewe dat enigiemand die patrolliewa kon ry nie, nee jy moes aansoek doen vir magtiging, waarby jy weer deur ‘n toets gesit word en magtiging voor aansoek doen, slegs deur die stasie bevelvoerder goedgekeur op aanbeveling van adjudant offisier in beheer van logistiek en die skof sersant wat die moeisame bestuurstoets toegepas het.  
 
Dis was dan ook onafwendbaar dat daar soms interessante en snaakse verduidelikings voortgespruit het uit ongelukke waarby van die bestuurders van hierdie patrollie voertuie betrokke was. Soms moes innoverende relase van gebeure voorgelê word om uit die moeilikheid te bly of te verhoed dat jy vir beskadiging van staatseiendom aangekla gaan word wat ook dan kan lei tot die opskorting van die magtiging om ‘n staatsvoertuig te bestuur.      
 
So was dit dan ook toe sersant Rooies eendag tydens die eet van ‘n draai roomys in ‘n oomblik van swakheid sy aandag vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde van die pad na die roomys wat op sy broek gedrup het moes verskuif. Met die opkyk was dit klaar te laat en het ‘n voertuig skielik voor hom tot stilstand gekom. Sersant Rooies het met mening gerem, maar onvermydelik met die peper duur Mercedes C230 Coupé se gat te kenne gemaak. Die oorblywende roomys in skakerings van wit, pienk en bruin het op sy ligblou somers hemp beland. Dit het sonder twyfel gepaard gegaan met gekruide taal en ‘n paar impulsiewe vyandige verwysings na onwelvoeglike anatomie. Hoe sê hulle? ....elke gek het sy gebrek.
 
Sersant Rooies was in die sop en moes baie vinnig en flink ‘n plan maak. Hy beveel onmiddellik vir Ndlovu, sy bemanning om sy baadjie uit te trek en vir hom te gee, en trek dit bo oor sy uniform aan om enige bewys van ‘n roomys weg te steek. Intussen vlieg hy by die deur uit om hom na die verwarde en emosionele dame van die Mercedes te snel. Hy stel onmiddellik die jong en goed versorgde dame, wat meer bekommerd is oor wat haar man aan haar gaan doen as die skade aan die voertuig, dat sy oor niks moet bekommer nie, maar dat hy wat sersant Rooies is alles onder beheer het en sal sorg dat sy niks oorkom nie en dat die polisie alle skade sal betaal.
 
Ter selfde tyd blaf sersant Rooies sarsies instruksies na Ndlovo om die beheerkamer te kontak en die diens offisier na die toneel te ontbied, die verkeer te beheer en te sorg dat die bakkie netjies skoon is binne in, sodat dat daar geen sweempie van roomys of iets dergeliks sal wees nie. Met sy hande vol met die emosionele bestuurder van die Mercedes en die skare wat nou begin saamdrom raak sersant al rooier en moeriger. Gelukkig is die skade gering. Die Mercedes het net ‘n gebreekte agterlig met ‘n effense duik teen die buffer en die ou taai Toyota bakkie het ongedeerd daarvan af gekom.
 
Intussen moet sersant Rooies en konstabel Elias Ndlovu hulle storie agtermekaar kry. Die twee werk al jare saam en verstaan mekaar en vertrou mekaar ten volle. “Luister Ndlovu... sê sersant Rooies. “Ons sê niks van roomys eet nie, verstaan jy?” “Dis reg so sersant..” antwoord Ndlovu vol selfvertroue. Sersant Rooies gaan voort: “My storie is soos volg, ons het patrollie spoed gery en gekyk vir handsak diewe en sakkerollers soos ons altyd doen in spitstyd”. Sersant Rooies gaan ernstig voort met sy relaas en sy gesig nou ‘n ligter skakering van pienk terwyl Ndlovu aandagtig luister. ”Ek het die hele dag nie lekker gevoel nie en my kop was baie seer....en ek het al slegter gevoel deur die dag”. Sersant Rooies bly vir ‘n oomblik stil in diep denke en kyk na Ndlovu...”is jy nog met my Ndlovu?”... “Ja Sersant ek het gesien jy voel sleg en was sommer bietjie wit by die geseg.”...”net so, jy verstaan mooi....en toe word alles net swart voor my en toe ek weersien toe stop die Mercedes dood voor my!?”...”Verstaan jy?”. Ndlovu knik sy kop, glimlag en wys vir sersant Rooies bevestigend ‘n duim in die lig om te wys hy het die storie. “Onthou alles het net swart voor my geraak voor die blerrie vrou sommer so kom dood stop het vir niks...”
 
Met die aankoms van die diens offisier op die toneel is dit toe nie Luitenant Barries Badenhorst soos verwag nie. Luitenant Badenhorst was nog jonk en het sy rang met boeke kennis gekry, nie harde polisie ervaring nie en met hom sou daar dadels van kom. Die diens offisier aan diens was Kaptein Spyker Van Wyk, die stasie se speur bevelvoerder. Kaptein van Wyk was ‘n ou hond wat gou ‘n geurtjie aan ‘n storie kon ryk en hy was berig vir sy kort humeur. Daar was al na hom verwys dat hy so geïrriteerd is dat hy fok as ‘n komma gebruik. Sersant Rooies en Konstabel Ndlovu salueer die Kaptein gespanne en weet nóú moet hulle hul storie mooi agter mekaar kry. Kaptein van Wyk stap nader en vra: “Wie was die drywer wat my middag tee kom kortknip het?” Sersant Rooies stap vorentoe en salueer sommer weer die Kaptein: “Dit was ek Kaptein...” Die Kaptein gluur hom aan bo-oor sy morsige dik snor en mompel: “Dan wil ek nie met jou praat nie, maar met jou bemanning, wie is jou crew Sersant? Vra die Kaptein moedswillig. “Dis sal Konstabel Ndlovu wees Kaptein” en beduie in die rigting van Elias. “Staan nader dat ek hoor wat gebeur het Konstabel....Jy kan maar solank die verkeer gaan reguleer Sersant!, en wys die sersant op die daad ongevoelig die pad.
 
Sersant Rooies is alweer bloedrooi in die gesig, maar hierdie keer van bekommernis en stap hangskouers weg, maar kyk oulaas verleë na die Kaptein en maak groot oë vir Ndlovu, so asof hy wil sê...”onthou wat ons ooreengekom het...” Kaptein Van Wyk leun teen die patrolliewa se modderskerm en maak reg om sy aantekening agter op ‘n boksie dertig Rothman sigarette te maak, “So wat is die storie Konstabel en moenie my tyd mors met stront nie, hoor jy my?”. Konstabel Ndlovu staan amper op aandag en rol ongemaklik sy broek se naat tussen sy duim en voorvinger. “Ek en die Sersant het stadig gery...patrollie spoed...opsoek na handsak diewe en sakkerollers soos elke dag...”. Die Kaptein loer op asof hy toestemming gee om voort te gaan, “Ja en toe?” sê hy ongeduldig. Ndlovu gaan voort: “Die Sersant het nie lekker gevoel vandag nie, hy was maar bietjie wit by die geseg“. Die Kaptein loer ongelowig na Ndlovu en knik wee dat hy moet voortgaan. “Toe ons nog so ry ek sien die Sersant kry swaar en hy voel siek...”.”Moet ek nou elke keer vir jou sê om aan te gaan?...wat toe?!” Ndlovu is nou asvaal en groot sweet druppels vorm op sy voorkop...”en toe ek hom weer kyk, ek kyk en ek sien alles word net swart voor by die sersant en toe stamp ons daai Mercedes”.
 
Dit is nodeloos om te rapporteer dat Kaptein Spyker Van Wyk agter die kap van die byl en die eet van die roomys gekom het. Die Kaptein was ‘n streng, tog regverdige man. Na onderhandeling met die jong dame wat gesoebat het dat niemand haar man moet vertel nie en dat sy eerder die Mercedes self sou laat regmaak en dat sy nie haar man se versekering wou in kennis stel nie, en die feit dat die Toyota niks oorgekom het nie, het Sersant Rooies en Konstabel Ndlovu lig daarvan af gekom. Beide van hulle moes ses maande diens in die radio kamer verrig en vir ‘n maand lank na elke skof die patrolliewa was en skoonmaak. Hulle twee het weer saam patrollie gery en misdadigers vasgetrek, maar nooit weer draai romys geëet aan diens wat duisternis veroorsaak nie.