Swart is die donkerste kleur in die kleurspektrum. Dit word gedefinieer as "die totale afwesigheid van lig of kleur" of as "'n mengsel van alle kleure of kleur-pigmente". Dit is die kleur wat alle lig absorbeer, nie weerspieël nie en dus verskyn as ontbloot van die orde. - https://af.wikipedia.org/wiki/Swart
Patrollie ry is die kern
van misdaad voorkoming. Polisiepatrollies speel 'n baie belangrike rol in die
bekamping van misdaad en skep ‘n gevoel van veiligheid onder die publiek en
ontmoedig misdadigers om misdade te pleeg. Indien dit reg gedoen word, skep dit
ook vertroue tussen die gemeenskap en die polisie. Die reg doen kom saam met
skoon en netjiese voertuie en goed geklede en parate polisie beamptes.
Dissipline en paraat loop saam met beskerm en dien.
Sersant Fires was een van
daai slaggereed, oorentoesiasties, parate manne. Streng, altyd pynlik netjies
en gedissiplineerd en het dieselfde dissipline op sy ondergeskiktes afgedwing.
Hy het elke dag parade en inspeksie gehou. Almal se uniform moes dieselfde
wees, nie somers drag met winters drag gemeng of veld drag met uniform saam geflans
nie. As een ‘n baadjie aan het, moet almal een aan hê. Blink skoene só
gepoets dat jy jouself kon sien daarin, hare mooi gesny en netjies vasgebind
vir die dames, pet op die kop en sakke leeg. Jou sakboek op datum aangeteken en
voertuig skoon en blink met logboek op datum.
Om patrollie te ry was nie enige man se voorreg nie, nee dit was net die
voorreg van die wyk Sersant en sy bemanning, gewoonlik die mees senior lid aan
diens en dit was die voorreg van Sersant Rooies en sy bemanning of “crew” Konstabel
Elias Ndlovu. Saam was hulle ‘n gedigte span en het tydens elke skof ten minstens
een arrestasie gemaak. Verder was hulle taak om die res van die skof te besoek
en seker te maak dat ordentlike polisiëring plaasvind op straat en dat wet in
orde gehandhaaf word. Sersant Fires was die aanklag kantoor bevelvoerder en ook
skof leier en het dinge per radio vanaf die stasie gekoördineer. Die res moes
hekwag diens doen, voet patrollie stap en in die aanklag kantoor dienste
verrig.
In die polisie het almal ook byname gehad en die oorsprong van so ‘n bynaam
is gewoonlik afkomstig van ‘n ou se van soos Fires Van Vuuren, of Vissie Visser,
Nella en seker die mees bekendste, Blackie Swart. Almal was op hul rang gevolg
deur sy bynaam of van aangespreek, soos Sersant Fires en ander. Konstabels was egter
nie op rang aangespreek nie en was nie waardig om aangespreek te word as konstabel
nie, behalwe as jy weer moes bewus gemaak word van waar jy op die food chain
lê. Konstabels is sommer aangespreek op die van en instruksies was ook so
uitgedeel: “Botha!, kom op parade..., of Van der Walt kry jou gat op ‘n
drafstap!.
Sersant Rooies daarenteen se bynaam is nie afgelei van sy van nie, maar van
sy gesig wat so rooi word as hy bedonderd is. Sersant Johannes Gerhardus Louw was
sy volle name, maar heet Sersant Rooies onder die manne, maar definitief nie voor
hom of in hoorbare afstand nie en hy was van dieselfde stoffasie as Sersant
Fires. Sersant Rooies was ‘n yster op die skof, altyd reg om op patrollie by te
staan en te help met arrestasies. Sy voertuig was sy trots, altyd skoon en
netjies en daai 1800 Toyota patrollie bakkie of vangwa was na elke skof gewas
en voor elk skof geïnspekteer en hy was oor daai vangwa soos Sersant Fires was
oor uniform.
Staatsvoertuie in daardie dae was met respek behandel en was deel van die dissipline
en magsvertoon van die mag. ‘n Skoon netjiese polisie voertuig het die beeld
van die polisie uitgedra en deel van die verhouding van gesag en vertroue
tussen die polisie en die publiek. SERVAMUS ET SERVIMUS – OM TE BESKERM
EN TE DIEN, die leuse van die polisie moes ten alle tye uitgebeeld en uitgeleef
word in jou voorkoms, gedrag en dissipline. Geen polisie voertuig was op die
pad toegelaat as dit vuil of nie in volle werkende orde was nie. Indien ‘n
voertuig ‘n stamp of krap gekry het, was ‘n volledige ondersoek daarna geloods
en moes die bestuurder volle verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Alle
ongelukke moes deur ‘n offisier op die toneel bygewoon word en het gewoonlik
gelei tot ‘n dissiplinêre verhoor, maak nie saak wie se skuld dit was nie en
die voertuig is dadelik onttrek en na die polisie motorhawe verwys vir herstelwerk.
Dit is dus ‘n onomwonde feit dat almal graag die patrolliewa wou ry, maar dat
niemand kans gesien het vir die verantwoordelikheid en vervelige en oneindige administrasie
en verslaggewing wat daarmee gepaard gaan nie, wat nog van al papierwerk en
moontlike reperkussies indien die ryding iets sou oorkom? Indien jy ‘n voertuig
lisensie gehad het was dit nie ‘n gegewe dat enigiemand die patrolliewa kon ry
nie, nee jy moes aansoek doen vir magtiging, waarby jy weer deur ‘n toets gesit
word en magtiging voor aansoek doen, slegs deur die stasie bevelvoerder goedgekeur
op aanbeveling van adjudant offisier in beheer van logistiek en die skof
sersant wat die moeisame bestuurstoets toegepas het.
Dis was dan ook onafwendbaar dat daar soms interessante en snaakse
verduidelikings voortgespruit het uit ongelukke waarby van die bestuurders van
hierdie patrollie voertuie betrokke was. Soms moes innoverende relase van
gebeure voorgelê word om uit die moeilikheid te bly of te verhoed dat jy vir
beskadiging van staatseiendom aangekla gaan word wat ook dan kan lei tot die
opskorting van die magtiging om ‘n staatsvoertuig te bestuur.
So was dit dan ook toe sersant
Rooies eendag tydens die eet van ‘n draai roomys in ‘n oomblik van swakheid sy aandag
vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde van die pad na die roomys wat op sy broek
gedrup het moes verskuif. Met die opkyk was dit klaar te laat en het ‘n
voertuig skielik voor hom tot stilstand gekom. Sersant Rooies het met mening
gerem, maar onvermydelik met die peper duur Mercedes C230 Coupé se gat te kenne gemaak. Die oorblywende
roomys in skakerings van wit, pienk en bruin het op sy ligblou somers hemp
beland. Dit het sonder twyfel gepaard gegaan met gekruide taal en ‘n paar impulsiewe
vyandige verwysings na onwelvoeglike anatomie. Hoe sê hulle? ....elke gek het sy gebrek.
Sersant Rooies was in die sop
en moes baie vinnig en flink ‘n plan maak. Hy beveel onmiddellik vir Ndlovu, sy
bemanning om sy baadjie uit te trek en vir hom te gee, en trek dit bo oor sy
uniform aan om enige bewys van ‘n roomys weg te steek. Intussen vlieg hy by die
deur uit om hom na die verwarde en emosionele dame van die Mercedes te snel. Hy
stel onmiddellik die jong en goed versorgde dame, wat meer bekommerd is oor wat
haar man aan haar gaan doen as die skade aan die voertuig, dat sy oor niks moet
bekommer nie, maar dat hy wat sersant Rooies is alles onder beheer het en sal
sorg dat sy niks oorkom nie en dat die polisie alle skade sal betaal.
Ter selfde tyd blaf sersant
Rooies sarsies instruksies na Ndlovo om die beheerkamer te kontak en die diens
offisier na die toneel te ontbied, die verkeer te beheer en te sorg dat die
bakkie netjies skoon is binne in, sodat dat daar geen sweempie van roomys of
iets dergeliks sal wees nie. Met sy hande vol met die emosionele bestuurder van
die Mercedes en die skare wat nou begin saamdrom raak sersant al rooier en moeriger.
Gelukkig is die skade gering. Die Mercedes het net ‘n gebreekte agterlig met ‘n
effense duik teen die buffer en die ou taai Toyota bakkie het ongedeerd daarvan
af gekom.
Intussen moet sersant
Rooies en konstabel Elias Ndlovu hulle storie agtermekaar kry. Die twee werk al
jare saam en verstaan mekaar en vertrou mekaar ten volle. “Luister Ndlovu...
sê sersant Rooies. “Ons sê niks van roomys eet nie, verstaan jy?” “Dis reg so sersant..” antwoord Ndlovu vol
selfvertroue. Sersant Rooies gaan voort: “My storie is soos volg, ons het patrollie
spoed gery en gekyk vir handsak diewe en sakkerollers soos ons altyd doen in spitstyd”.
Sersant Rooies gaan ernstig voort met sy relaas en sy gesig nou ‘n ligter
skakering van pienk terwyl Ndlovu aandagtig luister. ”Ek het die hele dag
nie lekker gevoel nie en my kop was baie seer....en ek het al slegter gevoel deur
die dag”. Sersant Rooies bly vir ‘n oomblik stil in diep denke en kyk na Ndlovu...”is
jy nog met my Ndlovu?”... “Ja Sersant ek het gesien jy voel sleg en was sommer
bietjie wit by die geseg.”...”net so, jy verstaan mooi....en toe word alles net
swart voor my en toe ek weersien toe stop die Mercedes dood voor my!?”...”Verstaan
jy?”. Ndlovu knik sy kop, glimlag en wys vir sersant Rooies bevestigend ‘n
duim in die lig om te wys hy het die storie. “Onthou alles het net swart
voor my geraak voor die blerrie vrou sommer so kom dood stop het vir niks...”
Met die aankoms van die diens
offisier op die toneel is dit toe nie Luitenant Barries Badenhorst soos verwag
nie. Luitenant Badenhorst was nog jonk en het sy rang met boeke kennis gekry,
nie harde polisie ervaring nie en met hom sou daar dadels van kom. Die diens
offisier aan diens was Kaptein Spyker Van Wyk, die stasie se speur bevelvoerder. Kaptein
van Wyk was ‘n ou hond wat gou ‘n geurtjie aan ‘n storie kon ryk en hy was
berig vir sy kort humeur. Daar was al na hom verwys dat hy so geïrriteerd is dat
hy fok as ‘n komma gebruik. Sersant Rooies en Konstabel Ndlovu salueer
die Kaptein gespanne en weet nóú moet hulle hul storie mooi agter mekaar kry. Kaptein van Wyk stap nader en
vra: “Wie was die drywer wat my middag tee kom kortknip het?” Sersant
Rooies stap vorentoe en salueer sommer weer die Kaptein: “Dit was ek Kaptein...”
Die Kaptein gluur hom aan bo-oor sy morsige dik snor en mompel: “Dan
wil ek nie met jou praat nie, maar met jou bemanning, wie is jou crew Sersant?
Vra die Kaptein moedswillig. “Dis sal Konstabel Ndlovu wees Kaptein” en
beduie in die rigting van Elias. “Staan nader dat ek hoor wat gebeur het
Konstabel....Jy kan maar solank die verkeer gaan reguleer Sersant!, en wys die
sersant op die daad ongevoelig die pad.
Sersant Rooies is alweer bloedrooi
in die gesig, maar hierdie keer van bekommernis en stap hangskouers weg, maar
kyk oulaas verleë na die Kaptein en maak groot oë vir Ndlovu, so asof hy wil sê...”onthou wat ons ooreengekom het...”
Kaptein Van Wyk leun teen die patrolliewa se modderskerm en maak reg om sy
aantekening agter op ‘n boksie dertig Rothman sigarette te maak, “So wat is
die storie Konstabel en moenie my tyd mors met stront nie, hoor jy my?”. Konstabel
Ndlovu staan amper op aandag en rol ongemaklik sy broek se naat tussen sy duim
en voorvinger. “Ek en die Sersant het stadig gery...patrollie spoed...opsoek
na handsak diewe en sakkerollers soos elke dag...”. Die Kaptein loer op
asof hy toestemming gee om voort te gaan, “Ja en toe?” sê hy ongeduldig. Ndlovu gaan voort: “Die
Sersant het nie lekker gevoel vandag nie, hy was maar bietjie wit by die geseg“.
Die Kaptein loer ongelowig na Ndlovu en knik wee dat hy moet voortgaan. “Toe
ons nog so ry ek sien die Sersant kry swaar en hy voel siek...”.”Moet ek nou
elke keer vir jou sê om aan te gaan?...wat toe?!” Ndlovu is nou asvaal en groot sweet druppels vorm op sy voorkop...”en
toe ek hom weer kyk, ek kyk en ek sien alles word net swart voor by die sersant
en toe stamp ons daai Mercedes”.
Dit is nodeloos om te rapporteer
dat Kaptein Spyker Van Wyk agter die kap van die byl en die eet van die roomys gekom
het. Die Kaptein was ‘n streng, tog regverdige man. Na onderhandeling met die
jong dame wat gesoebat het dat niemand haar man moet vertel nie en dat sy
eerder die Mercedes self sou laat regmaak en dat sy nie haar man se versekering
wou in kennis stel nie, en die feit dat die Toyota niks oorgekom het nie, het
Sersant Rooies en Konstabel Ndlovu lig daarvan af gekom. Beide van hulle moes
ses maande diens in die radio kamer verrig en vir ‘n maand lank na elke skof
die patrolliewa was en skoonmaak. Hulle twee het weer saam patrollie gery en misdadigers vasgetrek, maar nooit weer draai romys geëet aan diens wat duisternis veroorsaak nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking