Glansplasing

Ou Legendes

“‘n Legende bevat altyd ʼn historiese kern, ‘n mite nie. ʼn Legende bevat verder ʼn groter element van waarheid as die mite. Dit het daarom ook minder met die bonatuurlike te doen as die mite en ‘n legende het wel soms met onverklaarbare verskynsels te doen wat vir  sommige mense ‘n mite is en vir ander nie, byvoorbeeld die verhaal van die Vlieënde Hollander.” - http://toetentaal.co.za/wp-content/uploads/2017/08/STUDIEVELD-C-Legendes-en-Volksverhale.pdf

Polisie kultuur is een van dissipline, respek en lojaliteit, oënskynlik voor die nuwe bedeling in elk geval. Die grootste vrees en angs van ‘n jong konstabel is om die skerpkant van ‘n Sersant te beleef wat nog gepraat van daai stil bedonderde Adjudant met sy stokkie onder sy arm?  ‘n Offisier het jy soos die plaag vermy, en net om te dink oor wat kan gebeur as jy sou moes deurloop onder daai klas gesag, het enige jong konstabel in ‘n koue sweet laat uitslaan.

Die rangstrukture van die polisie dwing dissipline en gesag af en amptelike opleiding geskied gewoonlik deur die onder offisiere en oorsien deur die offisierskorps, maar nie amptelike opleiding en lewens ervaring is meestal die werk van die ou legendes. Daardie Adjudant Offisiere wat nooit offisiere wou word nie. Dié wat nie gepla was met rang of status nie of wat nie ‘n begeerte gehad het om verplaas te word nie. Hierdie ou legendes is die ruggraat van die polisiediens of die polisie mag soos dit vir ons bekend was en hulle is die eerste om te sê: “alles het begin skeefloop die dag toe die mag ‘n diens geword het!”, of “in die mag was ons gevrees, noudat dit ‘n diens is word ons jammer gekry? Misdaad word nie met simpatie gestop nie man, vrees vir die gereg stop misdaad!” sou een ou legende in die teekamer mor.

Oom Norman en oom Jan was sulke manne. Legendes met jare se kennis en ondervinding. Oom Norman was oorspronklik van die ou spoorweg polisie en oom Jan was al oral, maar sy oorsprong is van Calvinia. Hulle was nog van die ou soort wat nog die langbroek safari pakke gedra het en ‘n kam het deel van sy toerusting uitgemaak. Netjiese agtermekaar manne met hare sypaadjie gekam en blink en netjies gehou met Brylcreem, al het hulle dit ontken. Tussen die sigaret reuk aan hulle was daar ‘n sweempie van Old Spice bespeur. ‘n Parker pen in sy boonste baadjie sak vergesel met ‘n bril kassie of pakkie 30 sigarette. Teetyd het ons aan hulle lippe gehang oor hulle staaltjies en ervaringe, en as jy iets wou weet van enige administrasie was hulle die manne wat jou net een keer die regte manier gewys het.

Hulle het ook nie vuurwapens gedra nie maar was dossier draers of docket draers en was hof manne. Die ouens wat die skuldig bevindings in die hof verseker het. Vaal donkies soos die saak dossiere bekend was, was netjies in die vakkies op hul lessenaars ten toon gestel. Elke dossier het sy plek gehad, nuwe sake, hof sake en onopgeloste sake. Op die dae wat hulle hof toe gaan, was hulle netjies geklee in ‘n pakke, blink skoene, das en “pocket squares” in die baadjie sak. Hulle is ook die eerste om vir jou mooi te laat verstaan in die streekhof kan jy nog wegkom met ‘n ligte pak, maar in die hooggeregshof jaag die regter jou sommer uit as jy durf in die hof inkom sonder ‘n donker statige pak.

Alhoewel hulle ook maar streng was, was dit meer soos ‘n vader figuur wat jou sal aanmaan, maar op die regte pad help. Nieteenstaande die kennis en ervaring wat hulle met jou gedeel het was hulle ook die ouens met die inisiatief en was die organiseerders van ‘n Vrydag middag braai. Hierdie tradisionele “ingewing van die oomblik” Vrydag middag braai het so een maal ‘n maand plaas gevind, gewoonlik die eerste Vrydag na payday. Hierdie maandelikse braaiery was so tradisioneel aan die polisie soos ingelegde vis in die Kaap tydens Paasfees of ‘n bunny chow in Durban. Elke lap baadjie (speurder) of yster baadjie (uniform kollega) het ten minste een maal ‘n maand so braai bygewoon.

Tydens hierdie “herstel van griewe braai” sou meningsverskille aangespreek word, sake bespreek word, inligting uitgeruil word en stres ontlaai word. Indien die meningsverskille bietjie hand uit sou ruk, sou oom Norman die situasie ontlont en as self aangestelde mediator die manne tot verhaal bring. Dit is ook gewoonlik hier waar nostalgiese brokkies inligting gedeel was en oorlog stories uitgeruil is. Dan wanneer daai voggies begin praat na daai “twee” biere per persoon per dag soos voorgeskryf deur staande orders, dan kom die legendariese stories uit van toeka se dae. Soms ‘n stille verwysing of insinuasie van iets geheimsinnig en vertroulik, maar die volle storie kom nooit uit nie. Daar word net so met mistiek verwys na iets wat moontlik was of nog is of nog gaan kom.     

Tydens hierdie braai sou oom Jan se Namakwaland storie vertel talent na vore kom. Hy sou ons met kleur en geur van sy kaskenades vertel het waarvan baie waarskynlik spek skiet was, maar vir die waarheid vertel is. Hy het legio Namakwaland gesegdes en idiome gebruik wat vreemd was vir ons, maar soos heuning van sy tong afgerol het. Sy liefde vir Afrikaans en die platteland, veral Namakwaland was opvallend, treffend en skreeu snaaks. Hy sou na verlede verwys as.. “toe die dooie see nog siek was” of na ‘n onverklaarbare storie verys as .. “dis nou ‘n storie met ‘n vraagteken vir ‘n einde...” of my gunsteling “jy kan nie onder die hoenderstellasie sit en as die hoender op jou kop tjorts wil sê dis die Here se wil nie”.

As daar klaar gebraai was sou die jonges almal besluit om te migreer na ‘n polisie kantien, gewoonlik die Stal, want daai “twee” biere per persoon per dag het hulle net dors gemaak vir nog. Oom Norman met die ronde voete en oom Jan storie verteller sal altyd saamstem en entoesiasties instem om saam te gaan kuier, maar sal net nooit opdaag nie. Maandag sal dit weggepraat word met een of ander interessante staaltjie of gebeurtenis wat hulle onafwendbaar verhoed het om ons te kom vergesel tot laat nag by die kantien. Jy sien hulle het lankal daai balans tussen kameraadskap en gesinslewe wat ons op die harde manier sou leer bemeester.

Op een so braai op ‘n baie reënerige Vrydag het die ouens weereens na die braai opgeruk na die plaaslike polisie oasis. Soos gewoonlik het oom Jan en oom Norman hartstogtelik en oortuigend ingestem om ons te vergesel, maar laat weet dat hulle maar stadig gaan ry weens die gure weer. Soos oudergewoonte het hulle nie opgedaag nie en by verskoning hierdie juweel van ‘n verduideliking verskaf.


Oom Jan:

“Julle weet mos ek ry maar stadig en is nie so gelukkig soos ou Norman wat al ‘n bril kan bekostig nie. Ek sê toe vir ou Norman hy moet maar agter my aanry en kyk laat ek nie die pad byster raak nie, want ek het so uitgesien na daai ou biertjie daar by die Stal. Was jare laas daar...” 


Oom Norman:

“Ek sien self nie meer so lekker nie en het dit nie gesous Vrydag nie? Ek’t gedink ons gaan nooit by ons bestemming kom nie” 


Oom Jan:

“So ry ek op my eie entjie stadig aan en luister maar na RSG en laat die karre maar verby kom. Ek is dors, maar nie haastig nie ...” 


Oom Norman:

“Hy het nie so stadig gery nie, want ek kon hom nie voor my sien nie en het gedink hy het dalk besluit om huis toe te gaan en ons weer te drop soos altyd?” 


Oom Jan:

“Gaan loop lê Norman! Ek ry nog al te lekker, maar sukkel om voor my te sien en ek was nie eers onder die prop nie. Ek sien net so nou en dan ‘n kar by my verby gaan en dan verdwyn sy ligte in die reën. Die ruitveërs loop vol spoed, maar die watter bly stroom oor die windskerm en ek kan omtrent niks sien. Ek het later maar die noodligte aangeskakel sodat die ouens kan sien ek is nie so dors nie” 


Oom Norman:

“Ek het ook maar gesukkel om te sien met die wat dit wuiwe met klompe gereën het ... ek moes ook maar versigtig ry.”

Oom Jan:

“Skielik hoor ek ‘n klop aan die ruit, skrik my amper uit my ID boek uit ... dag ek het aan die slaap geraak, verongeluk en nou klop hier ‘n engel teen daai spoed aan my ruit?” 


Oom Norman:

“Jislaaik, ek't  lekker gelag toe ek die ou donder daar teen die pad sien."

 

 

Oom Jan:

“En wie se gesig sien ek buite my my ruit? ...ou Norman! Ek dag ek hallusineer, ... Norman sal mos nooit ‘n engel kan wees nie? 


Oom Norman:

“Nee, die ou bliksem het daar langs die  pad in ‘n plas watter gaan staan met sy hazards aan en soos ‘n trek sprinkaan sit hy agter die stuurwiel met die wipers wat verwoed die reën afvee en hy dink hy ry nog, maar die kar se enjin het lankal uitgesny van die water wat die sparkplugs nat gemaak het.”  ...en wat bedoel jy ek sal nie 'n engel kan wees nie, ek het klaar hel op aarde met misdaad en moord ... ek sal reguit hemel toe gaan.


Oom Jan:

“Ek kon nie verstaan hoekom jaag almal so by my verby op ‘n Vrydag middag nie. Ek dog daar ‘n misdaad toneel, maar hoor geen sirenes nie.” 


Oom Norman:

“Die ou donder kan bly wees ek het hom daar langs die pad sien staan ... hy sou tot sonop gery het” 


Oom Jan:

“Dat ‘n motor nou so befoutig kan wees ...?”

Ja, dis die ou legendes wat die gom van die polisie was, die ou staatmakers en ratte wat die horlosie laat loop het. Ek wonder wat het van oom Jan en oom Norman geword? Hulle is seker lankal nie meer met ons nie, maar ek glo en vertrou dat oom Norman ‘n vol lewe gehad het, ... goeie wyn het nie ‘n krans nodig nie. Ek wil graag glo dat oom Jan in sy geliefde Calvinia gaan aftree het en ek is seker hy sit elke weeksdag etenstyd in die plaaslike kroeg en deel stories uit met ander Namakwalanders en besoekers aan die kontrei. As beide van hulle die tydelike met die ewige verruil het glo ek die Here het vir hulle ‘n spesiale plekkie saam met al die ander legendes in die hemel geskep, want hulle het hel op aarde gehad met misdaad en moord.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking