Glansplasing

Die Lorrie

“Waar ‘n wil is ‘n weg
Dit is tyd dat ons ophou veg
Terwyl ons harte brand
Skyn daar ‘n silwer rand
Waar ‘n wil is ‘n weg”
Brendan Peyper - Twee Is Beter As Een

ʼn Polisie kantien is een van daai plekke wat net die ouens wat daar uithang sal verstaan. Hierdie instansie is die oase en drinkplek vir moeë siele. Hier word oorlog stories uitgeruil, die dag se uitdagings bespreek en al jou sorge verdrink. Hier koop jy jou drink dingetjie vir ‘n appel en ‘n ui omdat die kantien streng reëls het teen wins maak, maar ook teen die tyd wat dit bedryf kan word. Dit mag slegs oop wees van 17:00 tot 19:00 Maandae tot Vrydae. Offisiere mag nie saam met onder offisiere drink nie en ook nie anders om nie. Drink tyd is maar kort, maar in ‘n kort tydjie kan ‘n ou vir goedkoop bitter vinnig gekletter raak.

So is dit toe ook so een wintersaand by die ‘n polisie kantien by name “Die Stal”, want elke kantien het ook sy eie naam gekry. Daar was die Watergat, Oom Tienie se plek, Die Sink Kaia en vele meer. Dié wintersaand aand was dit by die Stal waar twee jong konstabels van SANAB hulle bekke kom klam maak het. Sommer vroeg aand was hulle al luidrugtig en mens sou sweer hulle het al iets gevat voor hulle by die Stal kom nes skrop het. In die hoek sit Sersant Fires rustig op sy spesiale plekkie gereserveer net vir hom en niemand sal dit waag om daar gaan sit nie. Indien jy dalk nie geweet het nie sal die tap meester agter die kroeg, ou Dan, gou vir jou laat verstaan jy moet elders gaan sit met ‘n baie koue en streng aanmaning: “as jy nou wil seerkry vanaand moet jy nou daar loop sit. Gaan soek vir jou ‘n anders stoel. Niemand behalwe Sarge Fires sit daar nie!”.

Intussen raak die 2 blougat konstabels net meer raserig en raak nou sommer bietjie stamperig ook, nie aspris nie, maar jy weet mos hoe val ‘n ou bietjie rond as Bacchus jou begin stoot. Sal die een ou konstabelkie nie dan hier langs Sersant Fires kom staan en vir hom vra: “...sarge, het jy al saam met ‘n soutie gewerk?....daai tjommie van my...” en wys na sy rooi gebrande vriend met die wit velletjie, “...ou Franky is nie so bad soos die koerante skryf nie. Eintlik is hy ‘n goeie ou al drink hy net Hunters..”. Sersant Fires antwoord nie vir SANAB nie en teug aan sy Black Label en staar in die spieël agter die glase voor hom. “Smaak my nie sarge is lus vir praat nie” rapporteer SANAB en stap na sy volgende slagoffer. Sers Fires weet al om nie hierdie outjies ‘n gap te gee nie, want anders klou hy soos ‘n bosluis aan jou die hele aand en voor jy jou oë uitvryf, speel jy ma en sielkundige oor die meisie wat hom gelos het of sy pa wat wou hy moes regte studeer en hom nie verstaan nie.

Die Stal raak nou al besiger en raserig en selfs SANAB en sy Engelse kollega is nou meer draaglik en deel van geselskap. Die groep probeer selfs nou vir Engelsman Afrikaanse polisie liedjies leer in Afrikaans vloek en dit gaan jolig. Net sersant Fires sit nog steeds in staar in die verte met net sy Black Label en Chesterfield sigarette as geselskap en ou Dan staan al vir 15 minute ‘n bierglas en blink vryf. Om 18:45 roep ou Dan last round en met luidrugtige verset probeer die ouens vir ou Dan oortuig om net vanaand die kantien bietjie langer oop te hou, want Engelsman ken amper “eendjies, eendjies stap in ry" uit sy kop uit. Ou Dan skud sy kop halfhartig heen en weer en loer onderlangs vir Sers Fires, maar sarge loer net nors na almal, sluk die laaste sopie uit sy Black Label, sit saggies die bottel op die kroegtoonbank neer en sy sigarette en aansteker in sy linker bosak en groet: “Nag manne en reguit na julle blyplekke. Dis wanneer mense nou begin rondloop dat die moeilikheid gebeur, verstaan ons mekaar?” Soos een mannekoor beaam almal: “yes sarge, lekker slaap sarge..” en bestel hulle in dieselfde asem soos een man gou elkeen ‘n laaste dop.

Sersant Fires sit se kêp op sy kop en los die manne tot hulle eie genade. Hy sal die “sarge” vanaand oorsien, maar môre sal hulle om as Sersant aanspreek en behoed die armsalige siel wat dit nie doen nie. Hy weet beter as om die manne nou te dissiplineer, want polisie koffie maak almal slim en gee almal guts en hy weet hulle bedoel geen disrespek nie. Hierdie is in elke geval nog in die dae toe daar meer onder offisiere as vandag se top heavy struktuur was en ‘n sersant was die ou wat die kitaar geslaan het en die dissipline gehandhaaf het. Alhoewel offisiere die septer geswaai het was hulle maar min te sien, maar almal het geweet die Adjudant is in beheer, maar die Sersant het die dissipline afgedwing.

Op die kop 19:00 jaag ou Dan die gespuis uit die Stal. Hier en daar rebelleer een of twee met: “..ag nee man ou Dan, my glas is nog vol, laat ek hom net gou klaar nurse man?!”, maar Dan wil niks weet nie en begin hulle soos skape in ‘n drukgang by die deur uit jaag... “jy kan buite jou dop klaar drink, los net die glas daar op die muurtjie, ek sal hom môre kry.....En ek weet wie het almal glase gevat, as hulle nie môreoggend hier is nie, kla ek jou aan vir diefstal van staatseiendom”. Ou Dan sluit die kantien deur en groet, maar niemand sien vir ou Dan meer raak nie, hy het sy doel gedien vir die aand. Een vir een gaan die ouens kamer toe, want meeste van hulle bly in die kaserne of “barracks” soos dit algemeen bekend gestaan het in daai tyd. SANAB en Engelsman bly nie in die “barracks” nie en het met hulle eie rygoed daar aangekom.

Teen hulle beter wete klim hulle in hulle voertuie en kom oor een dat hulle agter mekaar sal ry en seker maak die een kry die ander veilig by die huis, natuurlik op sy beste ‘n baie slegte plan, maar tuiskom moet hulle tog. SANAB reken Engelsman moet voor ry, dan sal hy agter hom aanry en kyk dat hy veilig by die huis kom en so is hulle vort. Die twee manne ry nogal heel versigtig op die dubbelpad toe daar van voor ‘n groot lorrie aankom. Dit is een van daai wat die nuwe karre vervoer, daai dubbel decker tipe met karre bo en onder. Wat SANAB en Engelsman nie weet nie is dat dié lorrie se ligte het onklaar geraak en die bestuurder moes toe ‘n plan maak. Die lorrie drywer het met ‘n blink plan na vore gekom en die heel boonste voertuig wat se neus in die rigting waarnatoe hy ry se ligte aangesit. Daai eerste kar staan hoeka met sy neus effe skuins af na die pad toe en dit gee net genoeg lig vir lorrie drywer om tot ‘n veilige bestemming te kom.

Intussen ry SANAB en Engelsman nog in konvooi in die teenoorgestelde rigting as die lorrie. Met eens swaai Engelsman links oor die pad, verloor amper beheer en kom tot stilstand etlike meters verder in ‘n wolk van stof wat net die rooi briek ligte van Engelsman se voertuig sigbaar maak. SANAB kom tot stilstand in ‘n net so digte stofwolk agter Engelsman en spring uit om Engelsman tot hulp te snel. “Wat de donner doen jy soutie?!”, vra SANAB verbaas en geïrriteerd. Engelsman sit strak met wit kneukel hande op die stuurwiel vasgeklemd en staar net voor hom uit. “Is jy OK, Franky?” vra Sarel van SANAB. Stadig en verward kyk Franky vir Sarel en vra: “Dit you see that truck bro?”. “Watter trok?” vra Sarel. “Daai groot ene met die karre op...” uiter Franky in gebroke Afrikaans. “Ja...! ek het en wat daarvan?”, vra Sarel. “My brother....as daai ding se ligte so hoog is...hoe breed is hy nie....?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking