Glansplasing

Is ek of was ek?

Ek bevind myself deesdae gereeld in die moeilike posisie waar ek nie weet waar ek inpas nie en waar vandaan kom nie.  Die gevoel van, ek was amper daar, of het dit net-net nie gemaak nie, is oorweldigend.  Soms voel dit dat ek dit wel gemaak het en deel was van dit wat belangrik was, maar wie weet dit en maak dit werklik saak?  Daar is so baie “glory hunters” daar buite en k*k praters wat vir die hele wêreld wil vertel saam met wie hulle wat gedoen het.  Hulle laat jou gou verstaan dat hulle skouers skuur of geskuur het met die bekendes, beroemdes en berugte onderwêreld.  Hulle lieg onbeskaamd saam met wie hulle wapendraers was in die oorlog teen die vyand wat ons voor 1994 geveg het.  Ek ken baie van hulle en eien hulle bitter gou as jy in geselskap verkeer of by ‘n watergat gaan sit en kuier.  Hulle praat groot van hulle ervarings of skermutselinge en suksesse saam met die groot name saam met wie hulle kwansuis die wapen opgeneem het.  Onbewus van ons wat daar kom sit net om bietjie weg te breek van ons verlede, of miskien akute nostalgie op ons eie wil ervaar.  Ons wat werklik daar was of regtig deel was van daardie operasie, of self deel was van daardie nou berugte eenheid, maar weereens, wat maak dit saak?

Toe ek jonger was wou ek graag hê dat mense moes weet wie ek is en die werk wat ek saam met die groot name gedoen het, maar nou dat ek ouer is word ek werklik kwaad vir die verlede en die onreg wat ons aangedoen is.  Almal wil erkenning hê vir die opofferings wat jy gemaak het om nie eers te praat van die opofferings wat jou gesin noodgedwonge en onvermydelik moes maak nie.  Die laat nagte en vrees of jy veilig sal terugkom was onafwendbaar en onregverdig.  Vir ons was dit ongetwyfeld ons roeping en het dit uitgeleef en selfs geniet.  Ek moet eerlik erken dat ek heel waarskynlik selfsugtig verslaaf was daaraan.  Die aksie was ongetwyfeld verslawend, en ja die adrenalien was ons fix.  Die satisfaksie na die aksie was die nabetragting daarna om die kampvuur.  Met drank wat vloei het ons opgewonde, amper jubelend, die hele scenario oorvertel en oor en oor herleef.  Niemand sal daardie kameraderie ooit verstaan as jy nie deel daarvan was nie.  Daardie sterk band met jou makkers, daai “band of brother”  is onvernietigbaar, ‘n amper heilige (met respek gesê) bondgenootskap.

Ek dink dit is wat baie van die grootpraters na smag.  Dit is hoekom daar so baie onnadenkende, entoesiastiese en gretige Gung Ho’s is wat kwansuis honger is om aan gevegte of oorlogvoering deel te neem en met smaak vertel hoe hulle nou gereed is daarvoor.  Weet hulle dan nie dat daar geen wenners in oorlog is nie?  Afgesien van die hartseer van dood, emosionele wonde en post traumatiese stresversteuring wat baie van ons makkers ervaar het en steeds ervaar, is daar die pynlike hartseer van verraaiers soos Mr X, en die oorlopers, en natuurlik die k*k praters, en die onverwagte wantroue en vrese tydens die politieke tonele in ons land tussen 1990 en 1994.

CODESA, die Harms Kommissie en Die Waarheid-en-Versoenings Kommissie (WVK) het baie van ons bevrees, vervolg en verwerp laat voel.  Wat nou?  Wat gaan nou van ons word?  Ons wat ons lewe opgeoffer het vir dit wat vir ons kosbaar was.  Wat is dit wat vir ons kosbaar was?  Weet ons ooit?  Ek dink baie hieroor na sonder enige bevredigende antwoorde.  Is dit ons geskiedenis?  Almal se geskiedenis is vir hulle belangrik.  Wie se geskiedenis is reg, en hoe weet ons of dit ooit die waarheid is?  Soms is dit net oorvertellings van werklike gebeure wat verdraai word en deur baie generasies oorgedra te word en stertjies aan kry.  Soms is dit net opgemaakte verhale of staaltjies.  Ek weet nie meer nie, of ek weet eintlik baie goed, maar besef dit word nie meer erken nie.

Dit is seker onvermydelik dat ons erkenning wil hê vir die impak wat ons op mense se lewens en harte gemaak het en dat jy met so ‘n nalatenskap beloon kan word.  Ek sien so baie van my kolegas skryf boeke oor hulle ervarings en gebeure wat opslae gemaak het, ... en daarin lê my dilemma.  In baie van die boeke wat geskryf word, het ek deel aan gehad, maar nie genoeg om self ‘n boek te skryf nie.  Ek was net daar, of het dele daarvan oorsien, of was direk betrokke, maar kon nie daaroor praat nie.  Dit is seker hoekom ek nou hier sit en hieroor skryf?  Miskien wil ek tog hê mense moet dit weet, of is dit maar net daardie hol gevoel wetende niemand verstaan dit nie en dat ek het nooit erkenning daarvoor gekry nie?  Of is dit omdat ek nou in my vyftigs dit nie meer kan doen nie en net bloot opgegee het?  In elk geval is die helfte van die inligting wat in daai boeke oorgedra is weereens net die alom ontwykende najaag na glorie en beslis halwe waarhede.  Die mense wat dit moontlik gemaak het vir die Piet Byle van die lewe om naam te maak word nie eens die boeke genoem nie.  Sukses word nooit deur een persoon bepaal nie, maar deur spanwerk en samewerking.  Dit is per slot van rekening wat sake oplos, booswigte agter tralies laat beland en vervolging suksesvol maak.  Die veldspanne en operasionele lede wat na ure, nag na nag inligting opvolg en kriminele, terroriste en boosdoeners jag en hulle lewens in gevaar stel, is altyd agter die skerms en word nooit van gehoor nie.  Die dag as jy erkenning kry word ‘n medalje stilweg agter toe deure aan jou bors vasgesteek.  Geen publieke erkenning op ‘n medalje parade of erkenning in ‘n “bestseller” vir jou nie my ou maat!

Dit is ook seker hoekom so baie van ons adrenalien “junkies” geword het of soms na die bottel gegryp het, juis omdat ons gedoen het wat gedoen moes word, wetende dat ons nie raak gesien gaan word nie.  That was part of the job.....!  Ek het nou onlangs die eerste keer in my lewe fisiese hartseer ervaar en gehuil.  Hartstogtelik soos ‘n baba het ek skaamteloos gehuil toe my ou kameraad aan ‘n hart aanval dood is.  Nie in ‘n kontak nie, nie aan diens nie!  Alleen in sy bed.  Geen staatsbegrafnis vir hierdie yster nie!  Elke keer as ek daaroor praat of daaraan dink huil ek van voor af.  Ek kan dit nie keer nie en weet nie hoekom nie.  Afgesien van die feit dat ek en hy al in ‘n kontak saam was en ek hom met my lewe vertrou het, en dat ek onlangs na jare weer met hom verenig het, dink ek ook dit is omdat ek tot die besef gekom het dat ek nooit weer die voorreg sal hê om operasioneel te wees nie.  Dit is verby vir en my kamerade en ons is verby ons verval datum.  Selfs my protégé wat nog steeds operasioneel is en sy kant bring se rak lewe gaan een van hierdie dae verval.  Die besef dat my kanse verby is sny soos ‘n koue winter deur my.  Geen geleenthede meer vir ons nie.... Vir die laaste 20 jaar het ek agter ‘n lessenaar in ‘n kantoor van korporatiewe wolwe gesit en ‘n leuen gelewe net om te oorleef en om na my gesin om te sien.  Ek is natuurlik ongelooflik dankbaar vir die kans om stabiliteit, sekuriteit en ‘n dak oor ons koppe te kon sit, maar is dit my nalatenskap?  Wat het ek om te wys daarvoor?

Ek wens soms dat die regte manne wat in ons situasie was meer met mekaar kon deel, sodat die stilte tussen ons, om hierdie aaklige geskiedenis onder die mat te probeer vee, die selferkenning aan ons te kan gee en ons kan bevry van dié wat dit so aandik en verheerlik.  Ons wat die waarheid ken en nou bedreigde spesies geword het moet nou ons eie potjie krap.  Ons moet nou entrepreneurs word, selfonderhoudend wees, ons eie besighede begin om te oorleef.  Verwerp uit die nuwe bedeling moet ons aanvaar, vergewe en om verskoning vra!  Wie gaan vir ons om verskoning vra of aanvaar dat ons ook hier hoort en dit verdien om hier te wees.  Sal ons ooit vergewe word?

Jy my broer of suster wat nooit ‘n wapen op jou bors gedra het of ‘n wapen in jou hand gehad het nie en wat met outoriteit wil kom praat oor wat reg en verkeerd is en die verlede.  Ja, jy wat tussen jou vriende so spog oor jou veldslae en jou bravade!  Julle wat so graag op Facebook, Twitter en Instagram julle stories deel, foto’s plaas en opinies lig...., bly maar eerder stil.  Jy ken nie die volle, hartseer waarheid soos wat ons dit beleef het nie my ou mater!

Op die einde van die dag sal ons ook seker maar sing soos Koos Kombuis in sy liedjie Boer In Beton:

Iewers in my klink die stem,

van Strydom, Verwoerd en die knipmeslem

van patriotisme wat nog flits,

al maak ek Sondae vuur met blits

elke voorvader 'n pionier,

en ek weet ek hoort nie hier

ek sit in laatnag kroeë rond,

maar ken nie meer die reuk van grond

daar's iewers velde wat nog roep,

daar’s iewers nog 'n boere stoep

die Groot Trek oor die oop Savanna,

die blink loop van 'n Sanna

Trots moet ons aanhou veg vir ons voortbestaan en kontak hou met mekaar, want ons alleen weet waaroor dit gaan.  Ons, die onteerde, onerkende, gemuilbande kollektief, in ewige verbintenis tot die suksesse van ons opofferings, die vooruitgang van ons nasie, en die standvastige lojaliteit aan ons kamerade wat ons skouer aan skouer saam mee geveg het.

Nooit ooit sal ons bedel vir troos, vergifnis en erkenning nie!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking