Ek is nie 'n skrywer nie, maar ek hou van stories skryf, lees en vertel. Ek geniet veral die stories en skryfstyl van ouens soos C Johan Bakkes en Dana Snyman. Hulle satiriese manier van skryf of stories vertel geniet ek baie en sal graag soos hulle eendag wil skryf. Ek skryf nie eintlik vir iemand nie, maar eerder vir myself. Ek skryf fiksie gebaseer op waarhede en ervarings en al lees niemand dit nie is dit my stories en my menings en basta met die res!
Glansplasing
Alles word toe swart voor my
Ou Legendes
“‘n Legende bevat altyd ʼn historiese kern, ‘n mite nie. ʼn Legende bevat verder ʼn groter element van waarheid as die mite. Dit het daarom ook minder met die bonatuurlike te doen as die mite en ‘n legende het wel soms met onverklaarbare verskynsels te doen wat vir sommige mense ‘n mite is en vir ander nie, byvoorbeeld die verhaal van die Vlieënde Hollander.” - http://toetentaal.co.za/wp-content/uploads/2017/08/STUDIEVELD-C-Legendes-en-Volksverhale.pdf
Polisie kultuur is een van dissipline, respek en lojaliteit, oënskynlik voor die nuwe bedeling in elk geval. Die grootste vrees en angs van ‘n jong konstabel is om die skerpkant van ‘n Sersant te beleef wat nog gepraat van daai stil bedonderde Adjudant met sy stokkie onder sy arm? ‘n Offisier het jy soos die plaag vermy, en net om te dink oor wat kan gebeur as jy sou moes deurloop onder daai klas gesag, het enige jong konstabel in ‘n koue sweet laat uitslaan.
Die rangstrukture van die polisie dwing dissipline en gesag af en amptelike opleiding geskied gewoonlik deur die onder offisiere en oorsien deur die offisierskorps, maar nie amptelike opleiding en lewens ervaring is meestal die werk van die ou legendes. Daardie Adjudant Offisiere wat nooit offisiere wou word nie. Dié wat nie gepla was met rang of status nie of wat nie ‘n begeerte gehad het om verplaas te word nie. Hierdie ou legendes is die ruggraat van die polisiediens of die polisie mag soos dit vir ons bekend was en hulle is die eerste om te sê: “alles het begin skeefloop die dag toe die mag ‘n diens geword het!”, of “in die mag was ons gevrees, noudat dit ‘n diens is word ons jammer gekry? Misdaad word nie met simpatie gestop nie man, vrees vir die gereg stop misdaad!” sou een ou legende in die teekamer mor.
Oom Norman en oom Jan was sulke manne. Legendes met jare se kennis en ondervinding. Oom Norman was oorspronklik van die ou spoorweg polisie en oom Jan was al oral, maar sy oorsprong is van Calvinia. Hulle was nog van die ou soort wat nog die langbroek safari pakke gedra het en ‘n kam het deel van sy toerusting uitgemaak. Netjiese agtermekaar manne met hare sypaadjie gekam en blink en netjies gehou met Brylcreem, al het hulle dit ontken. Tussen die sigaret reuk aan hulle was daar ‘n sweempie van Old Spice bespeur. ‘n Parker pen in sy boonste baadjie sak vergesel met ‘n bril kassie of pakkie 30 sigarette. Teetyd het ons aan hulle lippe gehang oor hulle staaltjies en ervaringe, en as jy iets wou weet van enige administrasie was hulle die manne wat jou net een keer die regte manier gewys het.
Hulle het ook nie vuurwapens gedra nie maar was dossier draers of docket draers en was hof manne. Die ouens wat die skuldig bevindings in die hof verseker het. Vaal donkies soos die saak dossiere bekend was, was netjies in die vakkies op hul lessenaars ten toon gestel. Elke dossier het sy plek gehad, nuwe sake, hof sake en onopgeloste sake. Op die dae wat hulle hof toe gaan, was hulle netjies geklee in ‘n pakke, blink skoene, das en “pocket squares” in die baadjie sak. Hulle is ook die eerste om vir jou mooi te laat verstaan in die streekhof kan jy nog wegkom met ‘n ligte pak, maar in die hooggeregshof jaag die regter jou sommer uit as jy durf in die hof inkom sonder ‘n donker statige pak.
Alhoewel hulle ook maar streng was, was dit meer soos ‘n vader figuur wat jou sal aanmaan, maar op die regte pad help. Nieteenstaande die kennis en ervaring wat hulle met jou gedeel het was hulle ook die ouens met die inisiatief en was die organiseerders van ‘n Vrydag middag braai. Hierdie tradisionele “ingewing van die oomblik” Vrydag middag braai het so een maal ‘n maand plaas gevind, gewoonlik die eerste Vrydag na payday. Hierdie maandelikse braaiery was so tradisioneel aan die polisie soos ingelegde vis in die Kaap tydens Paasfees of ‘n bunny chow in Durban. Elke lap baadjie (speurder) of yster baadjie (uniform kollega) het ten minste een maal ‘n maand so braai bygewoon.
Tydens hierdie “herstel van griewe braai” sou meningsverskille aangespreek word, sake bespreek word, inligting uitgeruil word en stres ontlaai word. Indien die meningsverskille bietjie hand uit sou ruk, sou oom Norman die situasie ontlont en as self aangestelde mediator die manne tot verhaal bring. Dit is ook gewoonlik hier waar nostalgiese brokkies inligting gedeel was en oorlog stories uitgeruil is. Dan wanneer daai voggies begin praat na daai “twee” biere per persoon per dag soos voorgeskryf deur staande orders, dan kom die legendariese stories uit van toeka se dae. Soms ‘n stille verwysing of insinuasie van iets geheimsinnig en vertroulik, maar die volle storie kom nooit uit nie. Daar word net so met mistiek verwys na iets wat moontlik was of nog is of nog gaan kom.
Tydens hierdie braai sou oom Jan se Namakwaland storie vertel talent na vore kom. Hy sou ons met kleur en geur van sy kaskenades vertel het waarvan baie waarskynlik spek skiet was, maar vir die waarheid vertel is. Hy het legio Namakwaland gesegdes en idiome gebruik wat vreemd was vir ons, maar soos heuning van sy tong afgerol het. Sy liefde vir Afrikaans en die platteland, veral Namakwaland was opvallend, treffend en skreeu snaaks. Hy sou na verlede verwys as.. “toe die dooie see nog siek was” of na ‘n onverklaarbare storie verys as .. “dis nou ‘n storie met ‘n vraagteken vir ‘n einde...” of my gunsteling “jy kan nie onder die hoenderstellasie sit en as die hoender op jou kop tjorts wil sê dis die Here se wil nie”.
As daar klaar gebraai was sou die jonges almal besluit om te migreer na ‘n polisie kantien, gewoonlik die Stal, want daai “twee” biere per persoon per dag het hulle net dors gemaak vir nog. Oom Norman met die ronde voete en oom Jan storie verteller sal altyd saamstem en entoesiasties instem om saam te gaan kuier, maar sal net nooit opdaag nie. Maandag sal dit weggepraat word met een of ander interessante staaltjie of gebeurtenis wat hulle onafwendbaar verhoed het om ons te kom vergesel tot laat nag by die kantien. Jy sien hulle het lankal daai balans tussen kameraadskap en gesinslewe wat ons op die harde manier sou leer bemeester.
Op een so braai op ‘n baie reënerige Vrydag het die ouens weereens na die braai opgeruk na die plaaslike polisie oasis. Soos gewoonlik het oom Jan en oom Norman hartstogtelik en oortuigend ingestem om ons te vergesel, maar laat weet dat hulle maar stadig gaan ry weens die gure weer. Soos oudergewoonte het hulle nie opgedaag nie en by verskoning hierdie juweel van ‘n verduideliking verskaf.
Oom
Jan: |
“Julle
weet mos ek ry maar stadig en is nie so gelukkig soos ou Norman wat al ‘n
bril kan bekostig nie. Ek sê toe vir ou Norman hy moet maar agter my aanry en kyk laat ek nie die pad
byster raak nie, want ek het so uitgesien na daai ou biertjie daar by die
Stal. Was jare laas daar...” |
Oom
Norman: |
“Ek
sien self nie meer so lekker nie en het dit nie gesous Vrydag nie? Ek’t
gedink ons gaan nooit by ons bestemming kom nie” |
Oom
Jan: |
“So
ry ek op my eie entjie stadig aan en luister maar na RSG en laat die karre maar
verby kom. Ek is dors, maar nie haastig nie ...” |
Oom
Norman: |
“Hy
het nie so stadig gery nie, want ek kon hom nie voor my sien nie en het gedink hy
het dalk besluit om huis toe te gaan en ons weer te drop soos altyd?” |
Oom
Jan: |
“Gaan
loop lê Norman! Ek ry nog al te lekker, maar sukkel om voor my te sien en ek was
nie eers onder die prop nie. Ek sien net so nou en dan ‘n kar by my verby gaan en
dan verdwyn sy ligte in die reën. Die ruitveërs loop vol spoed, maar die watter bly stroom oor die
windskerm en ek kan omtrent niks sien. Ek het later maar die noodligte
aangeskakel sodat die ouens kan sien ek is nie so dors nie” |
Oom
Norman: |
“Ek het ook maar gesukkel om te sien met die wat dit wuiwe met klompe gereën het ... ek moes ook maar versigtig ry.” |
Oom
Jan: |
“Skielik
hoor ek ‘n klop aan die ruit, skrik my amper uit my ID boek uit ... dag ek het aan
die slaap geraak, verongeluk en nou klop hier ‘n engel teen daai spoed aan my ruit?” |
Oom
Norman: |
“Jislaaik, ek't lekker gelag toe ek die ou donder daar teen die pad sien." |
|
|
Oom
Jan: |
“En
wie se gesig sien ek buite my my ruit? ...ou Norman! Ek dag ek hallusineer, ... Norman sal mos nooit ‘n engel kan wees nie?” |
Oom
Norman: |
“Nee,
die ou bliksem het daar langs die pad in ‘n plas watter gaan staan met sy
hazards aan en soos ‘n trek sprinkaan sit hy agter die stuurwiel met die
wipers wat verwoed die reën afvee en hy dink hy ry nog, maar die kar se enjin
het lankal uitgesny van die water wat die sparkplugs nat gemaak het.” |
Oom
Jan: |
“Ek
kon nie verstaan hoekom jaag almal so by my verby op ‘n Vrydag middag nie. Ek
dog daar ‘n misdaad toneel, maar hoor geen sirenes nie.” |
Oom
Norman: |
“Die
ou donder kan bly wees ek het hom daar langs die pad sien staan ... hy sou
tot sonop gery het” |
Oom
Jan: |
“Dat
‘n motor nou so befoutig kan wees ...?” |
Ja, dis die ou legendes wat die gom van die polisie was, die ou staatmakers en ratte wat die horlosie laat loop het. Ek wonder wat het van oom Jan en oom Norman geword? Hulle is seker lankal nie meer met ons nie, maar ek glo en vertrou dat oom Norman ‘n vol lewe gehad het, ... goeie wyn het nie ‘n krans nodig nie. Ek wil graag glo dat oom Jan in sy geliefde Calvinia gaan aftree het en ek is seker hy sit elke weeksdag etenstyd in die plaaslike kroeg en deel stories uit met ander Namakwalanders en besoekers aan die kontrei. As beide van hulle die tydelike met die ewige verruil het glo ek die Here het vir hulle ‘n spesiale plekkie saam met al die ander legendes in die hemel geskep, want hulle het hel op aarde gehad met misdaad en moord.
Die Lorrie
“Waar ‘n wil is ‘n weg
Dit is tyd dat ons ophou veg
Terwyl ons harte brand
Skyn daar ‘n silwer rand
Waar ‘n wil is ‘n weg”
Brendan Peyper - Twee Is Beter As Een
ʼn Polisie kantien is een van daai plekke wat net die ouens wat daar uithang sal verstaan. Hierdie instansie is die oase en drinkplek vir moeë siele. Hier word oorlog stories uitgeruil, die dag se uitdagings bespreek en al jou sorge verdrink. Hier koop jy jou drink dingetjie vir ‘n appel en ‘n ui omdat die kantien streng reëls het teen wins maak, maar ook teen die tyd wat dit bedryf kan word. Dit mag slegs oop wees van 17:00 tot 19:00 Maandae tot Vrydae. Offisiere mag nie saam met onder offisiere drink nie en ook nie anders om nie. Drink tyd is maar kort, maar in ‘n kort tydjie kan ‘n ou vir goedkoop bitter vinnig gekletter raak.
So is dit toe ook so een wintersaand by die ‘n polisie kantien by name “Die Stal”, want elke kantien het ook sy eie naam gekry. Daar was die Watergat, Oom Tienie se plek, Die Sink Kaia en vele meer. Dié wintersaand aand was dit by die Stal waar twee jong konstabels van SANAB hulle bekke kom klam maak het. Sommer vroeg aand was hulle al luidrugtig en mens sou sweer hulle het al iets gevat voor hulle by die Stal kom nes skrop het. In die hoek sit Sersant Fires rustig op sy spesiale plekkie gereserveer net vir hom en niemand sal dit waag om daar gaan sit nie. Indien jy dalk nie geweet het nie sal die tap meester agter die kroeg, ou Dan, gou vir jou laat verstaan jy moet elders gaan sit met ‘n baie koue en streng aanmaning: “as jy nou wil seerkry vanaand moet jy nou daar loop sit. Gaan soek vir jou ‘n anders stoel. Niemand behalwe Sarge Fires sit daar nie!”.
Intussen raak die 2 blougat konstabels net meer raserig en raak nou sommer bietjie stamperig ook, nie aspris nie, maar jy weet mos hoe val ‘n ou bietjie rond as Bacchus jou begin stoot. Sal die een ou konstabelkie nie dan hier langs Sersant Fires kom staan en vir hom vra: “...sarge, het jy al saam met ‘n soutie gewerk?....daai tjommie van my...” en wys na sy rooi gebrande vriend met die wit velletjie, “...ou Franky is nie so bad soos die koerante skryf nie. Eintlik is hy ‘n goeie ou al drink hy net Hunters..”. Sersant Fires antwoord nie vir SANAB nie en teug aan sy Black Label en staar in die spieël agter die glase voor hom. “Smaak my nie sarge is lus vir praat nie” rapporteer SANAB en stap na sy volgende slagoffer. Sers Fires weet al om nie hierdie outjies ‘n gap te gee nie, want anders klou hy soos ‘n bosluis aan jou die hele aand en voor jy jou oë uitvryf, speel jy ma en sielkundige oor die meisie wat hom gelos het of sy pa wat wou hy moes regte studeer en hom nie verstaan nie.
Die Stal raak nou al besiger en raserig en selfs SANAB en sy Engelse kollega is nou meer draaglik en deel van geselskap. Die groep probeer selfs nou vir Engelsman Afrikaanse polisie liedjies leer in Afrikaans vloek en dit gaan jolig. Net sersant Fires sit nog steeds in staar in die verte met net sy Black Label en Chesterfield sigarette as geselskap en ou Dan staan al vir 15 minute ‘n bierglas en blink vryf. Om 18:45 roep ou Dan last round en met luidrugtige verset probeer die ouens vir ou Dan oortuig om net vanaand die kantien bietjie langer oop te hou, want Engelsman ken amper “eendjies, eendjies stap in ry" uit sy kop uit. Ou Dan skud sy kop halfhartig heen en weer en loer onderlangs vir Sers Fires, maar sarge loer net nors na almal, sluk die laaste sopie uit sy Black Label, sit saggies die bottel op die kroegtoonbank neer en sy sigarette en aansteker in sy linker bosak en groet: “Nag manne en reguit na julle blyplekke. Dis wanneer mense nou begin rondloop dat die moeilikheid gebeur, verstaan ons mekaar?” Soos een mannekoor beaam almal: “yes sarge, lekker slaap sarge..” en bestel hulle in dieselfde asem soos een man gou elkeen ‘n laaste dop.
Sersant Fires sit se kêp op sy kop en los die manne tot hulle eie genade. Hy sal die “sarge” vanaand oorsien, maar môre sal hulle om as Sersant aanspreek en behoed die armsalige siel wat dit nie doen nie. Hy weet beter as om die manne nou te dissiplineer, want polisie koffie maak almal slim en gee almal guts en hy weet hulle bedoel geen disrespek nie. Hierdie is in elke geval nog in die dae toe daar meer onder offisiere as vandag se top heavy struktuur was en ‘n sersant was die ou wat die kitaar geslaan het en die dissipline gehandhaaf het. Alhoewel offisiere die septer geswaai het was hulle maar min te sien, maar almal het geweet die Adjudant is in beheer, maar die Sersant het die dissipline afgedwing.
Op die kop 19:00 jaag ou Dan die gespuis uit die Stal. Hier en daar rebelleer een of twee met: “..ag nee man ou Dan, my glas is nog vol, laat ek hom net gou klaar nurse man?!”, maar Dan wil niks weet nie en begin hulle soos skape in ‘n drukgang by die deur uit jaag... “jy kan buite jou dop klaar drink, los net die glas daar op die muurtjie, ek sal hom môre kry.....En ek weet wie het almal glase gevat, as hulle nie môreoggend hier is nie, kla ek jou aan vir diefstal van staatseiendom”. Ou Dan sluit die kantien deur en groet, maar niemand sien vir ou Dan meer raak nie, hy het sy doel gedien vir die aand. Een vir een gaan die ouens kamer toe, want meeste van hulle bly in die kaserne of “barracks” soos dit algemeen bekend gestaan het in daai tyd. SANAB en Engelsman bly nie in die “barracks” nie en het met hulle eie rygoed daar aangekom.
Teen hulle beter wete klim hulle in hulle voertuie en kom oor een dat hulle agter mekaar sal ry en seker maak die een kry die ander veilig by die huis, natuurlik op sy beste ‘n baie slegte plan, maar tuiskom moet hulle tog. SANAB reken Engelsman moet voor ry, dan sal hy agter hom aanry en kyk dat hy veilig by die huis kom en so is hulle vort. Die twee manne ry nogal heel versigtig op die dubbelpad toe daar van voor ‘n groot lorrie aankom. Dit is een van daai wat die nuwe karre vervoer, daai dubbel decker tipe met karre bo en onder. Wat SANAB en Engelsman nie weet nie is dat dié lorrie se ligte het onklaar geraak en die bestuurder moes toe ‘n plan maak. Die lorrie drywer het met ‘n blink plan na vore gekom en die heel boonste voertuig wat se neus in die rigting waarnatoe hy ry se ligte aangesit. Daai eerste kar staan hoeka met sy neus effe skuins af na die pad toe en dit gee net genoeg lig vir lorrie drywer om tot ‘n veilige bestemming te kom.
Intussen ry SANAB en Engelsman nog in konvooi in die teenoorgestelde rigting as die lorrie. Met eens swaai Engelsman links oor die pad, verloor amper beheer en kom tot stilstand etlike meters verder in ‘n wolk van stof wat net die rooi briek ligte van Engelsman se voertuig sigbaar maak. SANAB kom tot stilstand in ‘n net so digte stofwolk agter Engelsman en spring uit om Engelsman tot hulp te snel. “Wat de donner doen jy soutie?!”, vra SANAB verbaas en geïrriteerd. Engelsman sit strak met wit kneukel hande op die stuurwiel vasgeklemd en staar net voor hom uit. “Is jy OK, Franky?” vra Sarel van SANAB. Stadig en verward kyk Franky vir Sarel en vra: “Dit you see that truck bro?”. “Watter trok?” vra Sarel. “Daai groot ene met die karre op...” uiter Franky in gebroke Afrikaans. “Ja...! ek het en wat daarvan?”, vra Sarel. “My brother....as daai ding se ligte so hoog is...hoe breed is hy nie....?