Glansplasing

Ou Getroudes

Op ‘n koringplaas langs ‘n nuut gespande draad

Staan twee bejaarde bome ewe kordaat

In die veld omring deur goudgeel koring gerwe

Teen die blou lig is die twee se silhoeët uitgekerwe

 

Ingedagte jaag almal verby na waar hulle gaan

Onbewus van die twee bome wat daar staan

Hand aan hand is hulle in tak en loof vervleg

Soos ou getroudes in toewyding en opreg

 

Seisoen na seisoen het hul saam gegroei

Deur wind en weer en met koue bemoei

Staan hulle saam om die wêreld in die oë staar

Al verloor hulle jaar na jaar elke blaar

 

Diep gewortel in die sanderige Sandveld grond

Ondersteun hulle mekaar in hul huweliksverbond

Saam deel hulle die voeding en genade vog

Om soos een met hulle groen loof te spog

 

En soos hulle meer volwasse raak

Word daar plek vir ander gemaak

Skadu kolle om teen die son te beskerm

Met koelte word die vee in lafenis ontferm

 

Selfs wanneer dit lyk of alles skeef loop

En die mens gaan lê in onbeholpe wanhoop

Of dit lyk of die wêreld besig is om te vergaan

Sal die twee ou bome in die eg regop bly staan

 

Brief Aan My Seuns

  Van kindsbeen af het ons julle gekoester

Vertroos, versorg en met liefde omvou

Geskenke uit God se genade hand

Hoe sou ons julle groot kry sonder berou

 

Onseker en onhandig het ons julle grootgemaak

Met wat ons het en weet ons beste probeer

Julle lewens paadjie het ons vir julle voorberei

Met hoop en vertroue het ons julle alles geleer

 

In ‘n oogwink het julle ons opvoeding ontgroei

Te vinnig het julle ons nie meer nodig gehad

Julle eie paadjies vir julle mooi uitgekerf

Om vreesloos die moeder nes te verlaat

 

Nou is julle groot, onafhanklik en volwasse

Julle keuses is gemaak en visie bepaal

Met trots en verwondering kyk ek op na julle

Dankbaar om deel te wees van julle verhaal

 

Ek skryf hierdie brief in ‘n ode nou aan julle

Om hierdie laaste opdragte aan julle te gee

Ons verdrag van onfeilbare liefde te bekragtig

En om onvoorwaardelik eerbaar op te tree

Telefoon Etiket

 Polisie Staande Ordes is baie belangrik vir alle polisiebeamptes om hul daaglikse take as polisiebeampte maklik aan te pak. Dit is dus 'n primêre verantwoordelikheid om die Staande Orders te ken en toe te pas. Versuim om Staande Orders na te kom sal lei tot dissiplinêre verhoor.

Adjudant Offisier Blackie Swart, ‘n antieke lid van Booysens Polisiestasie, was vyf jaar van aftree af en bekend en gelief onder die mense in die wyk. Hy het nooit belanggestel in bevordering nie, omdat offisiere altyd verplaas word wanneer hulle bevorder raak en AO Blackie was gelukkig by Booysens polisiestasie.

Hy het groot geword in die suide van Johannesburg en het die omgewing baie goed geken. In sy jonger dae was hy ‘n baie suksesvolle man van die gereg juis omdat hy so vertroud was met die omgewing en sy mense. Hy was ‘n gerespekteerde man en sy beriggewers was volop, bereidwillig en altyd beskikbaar. Sy geliefde vrou Jacoba het hy op skool ontmoet en alhoewel hulle nie geseënd was met kinders nie, was hulle ‘n baie gelukkige egpaar en mense van aansien in die gemeenskap.

Adjudant Blackie het ongelukkig sy geliefde Jacoba aan die dood afgestaan toe sy op die jeugdige ouderdom van 35 jaar tragies oorlede is aan kanker.  AO Blackie was daarna nooit weer homself nie en het om aan die drank oorgegee en ‘n baie eensame bestaan gevoer.

Sy werk was nie meer van die selfde gehalte nie en alhoewel hy nooit aan diens gedrink het of dronk aan diens sou rapporteer nie, was hy nie meer die gesogde man van die gereg wat sy gemeenskap met passie beskerm en gedien het nie. Die stasiebevelvoerder het vir adjudant Blackie van skofte en misdaad bekamping afgehaal en hom tot administratiewe dienste beperk.

Oor die jare het AO Blackie sy lot aanvaar en stadig maar seker weer sy trots terug gewen, maar nooit weer kans gesien vir misdaad en polisiëring nie, maar sy administratiewe werk was van hoogstaande gehalte. Niemand kon hom enigiets vertel van hoe registers, voorvalleboeke ingevul moet word nie en alle algemene administrasie was sy kos. Adjudant Blackie het opleidings beampte, administrasie hoof en soms ook aanklaer by dissiplinêre verhore geword, want niemand het Staande Orders soos hy geken nie.

Stasie bevelvoerders van die omgewing en selfs verder het ook van tyd tot tyd hulle administratiewe personeel en aanklag kantoor lede na Booysens polisie stasie gestuur om onder die hand van Adjudant Offisier Blackie hulle opleiding te kry.  Dit word ook vertel dat lede vir AO Blackie banger was as enige offisier of bevelvoerder en ‘n meer onvriendelike, ongeskikte en ontaktvolle persoon sou jy nie in die destydse magte Suid Afrikaanse Polisie diens kry nie.

Hoe nader AO Blackie aan aftrede gekom het, hoe moeiliker en meer ongepoets het hy geraak. Sy ontaktvolle en kortaf manier waarop hy met lede en die publiek gepraat het was berug voor en selfs die publiek sou in hulle spore omgedraai het as hulle ‘n klagte wou kom lê as AO Blackie in die aanklagkantoor was.

Op ‘n slag het AO Blackie ‘n “haas” soos hy na die publiek verwys het uit die aanklagkantoor gejaag, omdat hy ‘n klagte van aanranding teen sy vrou wat hom met die vuis bygedam het nadat hy besope by die huis aangekom het, wou kom lê. Vir sy straf is AO Blackie beveel om ‘n nagskof in die aanklagkantoor deur te bring.

Dié spesifieke skof in die vroeë oggend ure het die adjudant agter die aanklagkantoor lessenaar gesit en sy Tupperware bakkie vol van die middag se braaivleis oopgemaak om te eet. Om soos oudergewoonte te bid voor sy ete met sy hand op sy voorkop en elmboë wat op die tafel rus, raak hy mos toe aan die slaap agte sy palms. Hy slaap so vas dat die area bevelvoerder wat dié aand stasie besoek doen die selle besoek, die voorvalle boek onder sy neus wegtrek en die volgende inskrywing maak: “Stasie besoek gedoen. Selle besoek – 14 gevangenes in aanhouding en korrespondeer met sel register. Registers in orde. Adjudant Swart slaap aan diens en het nie eens wakker geword tydens besoek nie. Dit word aanbeveel dat hy aangekla word en dissiplinêr verhoor word slaap aan diens.”

Met sy ontwaking uit die diepste doodslaap merk AO Blackie die inskrywing in die voorvalle boek voor hom en besef tot sy diepste skok hoe groot in die moeilikheid hy is. Hy weet beter as almal dat slaap aan diens net so erg is soos dronk aan diens is hy het self menige lede aangekla en skuldig bevind aan slaap aan diens. AO Blackie het agtergekom dat hy nou op sy ou dag sukkel om wakker te bly en hy is uit die aard van die saak nie meer gewoond aan nagskof nie, maar hy kan nie bekostig om net so voor aftrede ‘n klad teen sy naam te kry nie. Nieteenstaande sy bombastiese houding en ongepoetstheid, was AO Blackie nog nooit aangekla nie en het hy ‘n onberispelike skoon rekord.    

Vroeg die oggend na nagskof is AO Blackie nog op kantoor en wag vir die stasiebevelvoerder in sy kantoor: “En wat lyk jy so beswaard vanoggend, het die nagskof jou geluk gesteel?”, vra Majoor Brits. Die adjudant wag vir die Majoor om sy kep op te hang en homself agter sy lessenaar in te skuif voordat hy begin: “Majoor, ek wil beswaar aanteken vandag ... ek het nog nooit respek gehad vir iemand wat nie ander respekteer wanneer iemand bid nie!” Die Majoor kyk na AO Blackie pot verstom aan: “Waarvan praat jy Adjudant?”. “Terwyl ek gisteraand reg maak om te eet en besig is om die Liewe Vader dank vir my kos, kom Kol De La Harpe die aanklagkantoor in, neem die selle se sleutels sonder my toestemming en besoek die selle. Met sy terugkeer vat hy sommer die VB voor my weg en maak inskrywings en voor ek nog kon op aandag kom of groet is hy weer by die voordeur uit. Wie kom dan in en groet nie eers nie ... en vir iemand wat nie respek het vir ander wat bid voor hulle eet nie het geen tyd of respek nie”. Nieteenstaande die oortreding is AO Blackie nie aangekla nie en het hy skotvry daarvan afgekom.

AO Blackie het ook weens sy geaardheid geen telefoon etiket gehad nie en het altyd die foon net geantwoord: “Booysens Dag!”. Op ‘n dag lui AO Blackie se foon en oudergewoonte antwoord hy: “Booysens Dag!” toe die persoon aan die anderkant van die lyn in onmiddellik opgeruk en vra: “Weet jy nie hoe om ‘n telefoon te antwoord nie?”. AO Blackie onmiddellik opgewerk: “Hierdie is my foon en ek antwoord soos ek wil ...”. “Weet jy nie dat jy eers jouself moet identifiseer en ordentlik groet wanneer jy die foon antwoord nie!?” bars die stem deur die foon. “Wat traak dit jou hoe ek my foon antwoord!?” blaf AO Blackie terug. “Weet jy met wie jy praat” vra die stem aan die ander kant. “Nee, ek weet nie!” “Dit is Generaal Smit van Hoofkantoor”. “Weet jy met wie jý praat?” vra AO Blackie ewe kordaat terug. “Nee, ek weet nie!?” “Dank die Liewe Vader ...!” sê AO Blackie en sit die telefoon verlig op die mikkie terug.