Glansplasing

Die Lorrie

“Waar ‘n wil is ‘n weg
Dit is tyd dat ons ophou veg
Terwyl ons harte brand
Skyn daar ‘n silwer rand
Waar ‘n wil is ‘n weg”
Brendan Peyper - Twee Is Beter As Een

ʼn Polisie kantien is een van daai plekke wat net die ouens wat daar uithang sal verstaan. Hierdie instansie is die oase en drinkplek vir moeë siele. Hier word oorlog stories uitgeruil, die dag se uitdagings bespreek en al jou sorge verdrink. Hier koop jy jou drink dingetjie vir ‘n appel en ‘n ui omdat die kantien streng reëls het teen wins maak, maar ook teen die tyd wat dit bedryf kan word. Dit mag slegs oop wees van 17:00 tot 19:00 Maandae tot Vrydae. Offisiere mag nie saam met onder offisiere drink nie en ook nie anders om nie. Drink tyd is maar kort, maar in ‘n kort tydjie kan ‘n ou vir goedkoop bitter vinnig gekletter raak.

So is dit toe ook so een wintersaand by die ‘n polisie kantien by name “Die Stal”, want elke kantien het ook sy eie naam gekry. Daar was die Watergat, Oom Tienie se plek, Die Sink Kaia en vele meer. Dié wintersaand aand was dit by die Stal waar twee jong konstabels van SANAB hulle bekke kom klam maak het. Sommer vroeg aand was hulle al luidrugtig en mens sou sweer hulle het al iets gevat voor hulle by die Stal kom nes skrop het. In die hoek sit Sersant Fires rustig op sy spesiale plekkie gereserveer net vir hom en niemand sal dit waag om daar gaan sit nie. Indien jy dalk nie geweet het nie sal die tap meester agter die kroeg, ou Dan, gou vir jou laat verstaan jy moet elders gaan sit met ‘n baie koue en streng aanmaning: “as jy nou wil seerkry vanaand moet jy nou daar loop sit. Gaan soek vir jou ‘n anders stoel. Niemand behalwe Sarge Fires sit daar nie!”.

Intussen raak die 2 blougat konstabels net meer raserig en raak nou sommer bietjie stamperig ook, nie aspris nie, maar jy weet mos hoe val ‘n ou bietjie rond as Bacchus jou begin stoot. Sal die een ou konstabelkie nie dan hier langs Sersant Fires kom staan en vir hom vra: “...sarge, het jy al saam met ‘n soutie gewerk?....daai tjommie van my...” en wys na sy rooi gebrande vriend met die wit velletjie, “...ou Franky is nie so bad soos die koerante skryf nie. Eintlik is hy ‘n goeie ou al drink hy net Hunters..”. Sersant Fires antwoord nie vir SANAB nie en teug aan sy Black Label en staar in die spieël agter die glase voor hom. “Smaak my nie sarge is lus vir praat nie” rapporteer SANAB en stap na sy volgende slagoffer. Sers Fires weet al om nie hierdie outjies ‘n gap te gee nie, want anders klou hy soos ‘n bosluis aan jou die hele aand en voor jy jou oë uitvryf, speel jy ma en sielkundige oor die meisie wat hom gelos het of sy pa wat wou hy moes regte studeer en hom nie verstaan nie.

Die Stal raak nou al besiger en raserig en selfs SANAB en sy Engelse kollega is nou meer draaglik en deel van geselskap. Die groep probeer selfs nou vir Engelsman Afrikaanse polisie liedjies leer in Afrikaans vloek en dit gaan jolig. Net sersant Fires sit nog steeds in staar in die verte met net sy Black Label en Chesterfield sigarette as geselskap en ou Dan staan al vir 15 minute ‘n bierglas en blink vryf. Om 18:45 roep ou Dan last round en met luidrugtige verset probeer die ouens vir ou Dan oortuig om net vanaand die kantien bietjie langer oop te hou, want Engelsman ken amper “eendjies, eendjies stap in ry" uit sy kop uit. Ou Dan skud sy kop halfhartig heen en weer en loer onderlangs vir Sers Fires, maar sarge loer net nors na almal, sluk die laaste sopie uit sy Black Label, sit saggies die bottel op die kroegtoonbank neer en sy sigarette en aansteker in sy linker bosak en groet: “Nag manne en reguit na julle blyplekke. Dis wanneer mense nou begin rondloop dat die moeilikheid gebeur, verstaan ons mekaar?” Soos een mannekoor beaam almal: “yes sarge, lekker slaap sarge..” en bestel hulle in dieselfde asem soos een man gou elkeen ‘n laaste dop.

Sersant Fires sit se kêp op sy kop en los die manne tot hulle eie genade. Hy sal die “sarge” vanaand oorsien, maar môre sal hulle om as Sersant aanspreek en behoed die armsalige siel wat dit nie doen nie. Hy weet beter as om die manne nou te dissiplineer, want polisie koffie maak almal slim en gee almal guts en hy weet hulle bedoel geen disrespek nie. Hierdie is in elke geval nog in die dae toe daar meer onder offisiere as vandag se top heavy struktuur was en ‘n sersant was die ou wat die kitaar geslaan het en die dissipline gehandhaaf het. Alhoewel offisiere die septer geswaai het was hulle maar min te sien, maar almal het geweet die Adjudant is in beheer, maar die Sersant het die dissipline afgedwing.

Op die kop 19:00 jaag ou Dan die gespuis uit die Stal. Hier en daar rebelleer een of twee met: “..ag nee man ou Dan, my glas is nog vol, laat ek hom net gou klaar nurse man?!”, maar Dan wil niks weet nie en begin hulle soos skape in ‘n drukgang by die deur uit jaag... “jy kan buite jou dop klaar drink, los net die glas daar op die muurtjie, ek sal hom môre kry.....En ek weet wie het almal glase gevat, as hulle nie môreoggend hier is nie, kla ek jou aan vir diefstal van staatseiendom”. Ou Dan sluit die kantien deur en groet, maar niemand sien vir ou Dan meer raak nie, hy het sy doel gedien vir die aand. Een vir een gaan die ouens kamer toe, want meeste van hulle bly in die kaserne of “barracks” soos dit algemeen bekend gestaan het in daai tyd. SANAB en Engelsman bly nie in die “barracks” nie en het met hulle eie rygoed daar aangekom.

Teen hulle beter wete klim hulle in hulle voertuie en kom oor een dat hulle agter mekaar sal ry en seker maak die een kry die ander veilig by die huis, natuurlik op sy beste ‘n baie slegte plan, maar tuiskom moet hulle tog. SANAB reken Engelsman moet voor ry, dan sal hy agter hom aanry en kyk dat hy veilig by die huis kom en so is hulle vort. Die twee manne ry nogal heel versigtig op die dubbelpad toe daar van voor ‘n groot lorrie aankom. Dit is een van daai wat die nuwe karre vervoer, daai dubbel decker tipe met karre bo en onder. Wat SANAB en Engelsman nie weet nie is dat dié lorrie se ligte het onklaar geraak en die bestuurder moes toe ‘n plan maak. Die lorrie drywer het met ‘n blink plan na vore gekom en die heel boonste voertuig wat se neus in die rigting waarnatoe hy ry se ligte aangesit. Daai eerste kar staan hoeka met sy neus effe skuins af na die pad toe en dit gee net genoeg lig vir lorrie drywer om tot ‘n veilige bestemming te kom.

Intussen ry SANAB en Engelsman nog in konvooi in die teenoorgestelde rigting as die lorrie. Met eens swaai Engelsman links oor die pad, verloor amper beheer en kom tot stilstand etlike meters verder in ‘n wolk van stof wat net die rooi briek ligte van Engelsman se voertuig sigbaar maak. SANAB kom tot stilstand in ‘n net so digte stofwolk agter Engelsman en spring uit om Engelsman tot hulp te snel. “Wat de donner doen jy soutie?!”, vra SANAB verbaas en geïrriteerd. Engelsman sit strak met wit kneukel hande op die stuurwiel vasgeklemd en staar net voor hom uit. “Is jy OK, Franky?” vra Sarel van SANAB. Stadig en verward kyk Franky vir Sarel en vra: “Dit you see that truck bro?”. “Watter trok?” vra Sarel. “Daai groot ene met die karre op...” uiter Franky in gebroke Afrikaans. “Ja...! ek het en wat daarvan?”, vra Sarel. “My brother....as daai ding se ligte so hoog is...hoe breed is hy nie....?

Vrydag Nagskof

“Normaalweg is dit maar bedrywig in die aanklagkantoor en moet polisielede met Salomo se wysheid en Job se geduld bedeeld wees om almal tevrede te stel.”  HUMOR IN DIE AANKLAGKANTOOR deur Majoor C.P. de W. Crafford uit https://www.samirror.com/humor-in-die-aanklagkantoor.html

Daar is ‘n boek deur Adrew Faul by name “Behind the Badge” en die boek dek 'n wye verskeidenheid temas, insluitend redes waarom lede aansluit, opleiding, polisiëring onder apartheid en transformasie na 1994.  Volgens die skrywer het elke Suid-Afrikaner 'n sterk opinie oor misdaad en polisiëring, maar die meeste weet baie min oor die lewens en ervarings van die gemiddelde polisiebeampte. Wat die boek nie dek nie is die menige lede wat voor 1994 polisie beamptes was en wat hulle moes ervaar en wat van hulle geword het.  Dit is egter ‘n baie sombere en emosionele gesprek en kan vir baie lank gedebatteer word. 

Wat ek ervaar het toe ek die boek gelees het is meer - die agter elke storie tema.  Daar is so baie befaamde lede, legendes en berugte individue saam met wie ek gewerk het.  Daar is die wat roem verdien en dan die wat net in die kollig wou wees.  Baie het boeke geskryf oor hulle ervarings en van die boeke was lewens veranderend, ander praat net groot en baie van hulle praat die waarheid baie snaaks en sommer net bog (daar is natuurlik ‘n ander woord wat ek eerder sou wou gebruik om bog te beskryf).  Agter elkeen van hierdie stories, berigte en gerigte is daar ook ‘n verhaal of ‘n legende.  Ek het al baie oorweeg om ook ‘n boek te skryf oor my ervaringe en ondervinding saam met baie van hierdie skrywers of mense oor wie al geskryf is in boeke, koerante en tydskrifte.  Die vraag is egter, waaraan sal ek gemeet word? Berig, beroemd, braaf of net nog ‘n “Glory Hunter”?

Ek het besluit om eerder staaltjies te vertel wat ek saam met hierdie groot name ervaar het of van wat ek gehoor het.  Die wat ek ervaar het was almal waar, maar die wat ek gehoor het twyfel ek maar sterk oor en indien dit waar is, wel dan is daar soveel meer om te waardeer.  Ek het ook besluit om dit in die derde persoon te vertel, dan kan die leser maar self wonder watter was my eie ervaringe en watter was net staaltjies.  En so begin die eerste van baie dan...

Een aand ry Sersant Fires op sy gewone patrollie besig met sy misdaad voorkoming en oë oop vir enigiets verdag.  Dit is die begin van nagskof en al kan nagskofte maar lank word, weet hy dat hierdie skof ‘n bedrywige een saal wees.  Dit is Vrydagaand en daar sal baie bakleiery by die nagklubs, kroeë en selfs in agtergeblewe woon areas wees. Dis elke Vrydagaand se storie, maar op die einde van die maand nog erger want dan neem die wat maandelikse lone kry ook deel aan die geveg.  Daar sal ma slaan vir pa, of andersom gevalle wees, steroïde belaaide gevegte by die nagklubs, pad woede en natuurlik moet pad ongelukke nie uit die oog verloor word nie. 

Na middernag is Sersant Fires en sy bemanning al lekker gatvol vir dronk mense, die aanranding en opsetlike saakbeskadiging klagtes wat al bygewoon is en al die administratiewe werk wat daarmee gepaard gaan.  Al wat Sersant Fires en sy bemanning, Konstabel Nkosi wil doen is stop en ‘n lekker komplimentêre geroosterde kaas en ham  toebroodjie met ‘n lekker koppie soet koffie by die plaaslike padkafee.  In hierdie dae was polisiemanne nog met respek behandel en aalmoese in die vorm van kos en die patrolliewa verniet te laat was, was algemeen en ‘n vorm van dankbaarheid teenoor diens wat gelewer is.  ‘n Skoon en netjiese vangwa of polisie motor was ‘n teken van trots, dissipline en orde en ‘n gemeenskap verantwoordelikheid, want Vrydae was ook inspeksie dag vir alle polisie voertuie.

Slegs een kilometer voor die indraai na die pad kafee slinger ‘n geel Toyota Tazz met etlike brandewyn vlekke heen en weer oor die pad. ‘n Skoroskoro soos Konstabel Nkosi na die verby sy jare verslete ou ryding sal verwys.  “Nie nog een nie!” skreeu Sersant Fires “..ek het so uitgesien na daai koffie breek..“.  Die gesing van jong manne is duidelik hoorbaar uit die voertuig, seer selerlik studente wat van ‘n jol afkom.  Whoop, whoop looi die sirene en die drywer gooi amper die ou Toyota om en kom tot stilstand met een wiel op die sypaadjie.  Sersant Fires is met een sprong en twee lang tree by die drywer se venster en al wat die besope bestuurder uitkry is “jislaaik oom, hoe laat jy my nou skrik! Jy kan mos nie daai siren so op my gat aan sit nie, kan jy nie  sien ek is gesuip nie?!” en net daar net daar pass hy uit op die stuurwiel uit met die ouens agter in die Tazz wat nog steeds sing en die ou in die middel slaat die ghitaar.  Sersant Fires moet hard op die dak slaan en sy fluitjie blaas om hulle aandag te trek. 

Verstommend kyk die studente vir Sersant Fires oop mond en woordeloos aan. “Het julle nie die sirene gehoor nie en weet julle nie dat julle gestop het nie?”  vra Sersant Fires gillende.  “Nee Kaptein..” waag een ou dit “..ons ry al die hele aand so stop stop. Tubby ry maar soos sy gat”, en klap vir Tubby agter die kop. “Tubby is uitgepass!” bulder Sersant Fires dit uit, “hoe laat julle so ou bestuur?...het julle geen verantwoordelikheidsin nie?!”  Stil en verbaas kyk die klompie studente na mekaar, met ‘n vraagteken op elkeen se voorkom.  Een skraap die moed bymekaar om ‘n verduideliking te gee en sê:...”hy was te dronk om te sing oom, toe laat ons hom maar bestuur?”.  Sersant Fires is stom geslaan, maar dink gou terug aan sy jong dae en die nonsens wat hy aangejaag het toe hy ‘n student in Pretoria se polisie kollege was. Die goed wat hy gedoen het as hy naweek af gekry het, kan ‘n ou ook boeke oor skryf.  Hy haal die sleutel van die voertuig het die aansit skakelaar uit en gee opdrag dat hulle in die voertuig moet bly totdat hy terugkom om hulle almal toe te sluit.

Net voor die einde van die skof om 05:30 stop Sersant Fires weer agter die geel Toyota Tazz, nog net so halflyf op die sypaadjie waar hy dit 4 ure terug gelos het.  Die venster is toe gewasem en ‘n koor van snork geluide kom vanuit die voertuig.  Sersant Fires klop teen die passasiers ruit en ‘n deur die mik geslaap en deurmekaar jong seun draai die venster af. “Môre oom..” sê hy verward, terwyl hy die slaap uit sy bloedbelope oë vryf.  “Het julle jul roes afgeslaap..?”  vra Sersant Fires. “Ja dankie..”  sing die koor. “Hier is die sleutel..” sê Sersant Fires en gooi dit op passasier se skoot neer. “Reguit huis toe...en julle laat nie vir Tubby bestuur nie. hoor julle my?”  Met absolute dankbaarheid en verligting sing almal “dankie oom ons sal nie weer nie oom...baie dankie oom”.

Sersant Fires stap terug na sy patrollie voertuig en sien uit na die einde van sy skof.  Hy hoor die Toyota se slinger draai enjin vat maar traag en dan die dreuning van die moee ou skoroskor. Sersant Fires kyk hoe Tazz stadig wegtrek en versigtig in die pad inry.  Tubby sit nou links voor en die nuwe bestuurder lyk maar bang en versigtig en loer met ‘n skewe glimlag van dankbare tevredenheid na Sersant Fires.  Die ou karetjie is nog koud en hoes en spoeg en draai stadig in die pad om, en met die verby ry skreeu Tubby...”dankie Kaptein...!, sien jou weer volgende Vrydag aand...!”. Sersant Fires skud sy kop, maar glimlag toe in die patrolliewa inklim en sê saggies onder sy pet deur ”donnerse klomp student sal my nog na vroeë pension dryf..

Die Jaar 2020

Die jaar van drome en opwinding
‘n nuwe begin soos elke jaar
moeilik sal dit wees het almal beding
ekonomies op sy knieë dit weet ons is waar
 
Ons sien kans vir hierdie mutasi
en lag ligsinnig die uitdagings uit
‘n virus in Wuhan dui as indikasie
wat ons in ons spore gaan stuit
 
En tóé die skok en ongelowige terugslag
met inperking word almal huis toe stuur
opgewonde met ‘n innerlike onsekere lag
kan ons die grendeltyd verduur?
 
Kamers en eetkamers word ontruim
om plek vir oefening of iets anders te maak
om nie buite te kan oefen ‘n bitter aalwyn
bitterbek deur die aandklok vermaak
 
Onverhoeds is ons geboelie tot vlak beheer
die bullebakke wat ons verder inperk
in pogings om ons lewens te regeer
word ons nou as kriminele gebrandmerk
 
Inperkings wat families en vriende vervreem
ons mag taxi ry en dobbelhuise bywoon
tog word ons van ander sondes ontneem
rook of te drink word met vervolging beloon
 
Skole maak oop in slae verwondering
jy kan uiteet en fliek - familie steeds verbied
dae word maande in afsondering
die pandemie ondier styg uit die nuut
 
Kerke is leeg en hospitale loop oor
almal se oë is op statistiek gerig
daagliks morbiede nuus wat ons versmoor
hoe lank nog?  .. is daar is geen einde in sig!