Glansplasing

Kleur

Die opwinding borrel in my,
genadig is nog ‘n week verby.
Naweek ontvlugting lê voor die deur,
weg van dit wat my ewewig versteur.
In raadsale vergader hulle uur op uur,
net om repeterende opinies te verduur.
 
Die pad huis toe is in donker omvou,
dik verkeer laat my gemoed grou berou.
Opgewonde op pad Weskus toe,
met die kreef wat ek in my gedagtes proe.
Vrye beweegruimte wat ek na smag,
Weg van dit wat ek daagliks verag.
 
Op die Klipheuwel pad by Fisantekraal verby,
sal jy die stank van vark mis of iets dergeliks kry.
‘n Laaste poging om jou geesdrif te smoor,
om jou vir oulaas die geraas in jou kop te laat hoor.
En dan ontbloot sy haar.. verleidelik en onbeskaamd,
in lower kleure is die natuur eerlik verwaand. 
 
Die winterreën hierdie jaar al was dit maar min,
het met sy wonderwater sy kant gebring.
Allerweë het die oeste gewasse in oorvloed gegee,
om ywerig ‘n nuwe seisoen in te tree.
Spog en pronk die veld soos 'n windgat pou,
en noop my om op die pad na bevryding te hou.
 
Malmesbury is ‘n waansinnige geskarrel,
bevlek met gemors wat in die wind rond warrel.
Langs Dieprivier brug lê ‘n besope man,
klaar in sy eie donker wêreld vasgevang.
Oorkant die pad vanwaar hy in sy eie pyn lê en kwel,
word hy ongenaakbaar deur sy ewe besope vrou geskel.
 
Uit die dorp se geraas en malle rumoer,
wyk die kraaie wat alweer in my kop rond sloer.
Net voor Rondomskrik se plaas,
word my kop ontslae van al die geraas.
Voor my is die hemel doek ‘n kaleidoskoop,
ten einde laaste van die grou gestroop.
 
Die helder vlam oranje bal in veelsydige kleure omring,
rooi skakerings van granaat pitte wat die roesbruin indring.
Oranje pampoen, mandaryn geel, lemoenskil en koraal,
bloos appelkoos met sagte kleure uit ‘n kinderverhaal.
Robyn pienk en die bloue-pers-violet van ‘n aandblom,
verdiep in die kleure wat steeds verander en ek staar verstom.
 
Teen die ‘n sierlike hemel tapisserie  met sy warm palet,
is die sonsondergang besig om hom teen die donker te verset.
‘n Diep amarant of purper rooi wat uitdoof na framboos,
pers lelies wat die wange van die wolke laat bloos.
Ek wil dit vasvang en met ander deel, met woorde .. 'n tafereel,
hierdie rooi, pers, oranje en geel.
 
Almal het dit al gesien, beleef en ervaar,
en op sosiale media weer in ‘n oogwink laat vaar.
Bekyk op die streel paneel van jou slim foon,
om onsself teen die skoonheid van die natuur te verloën.
Ek moet hierdie mooiste mooi uit God se hand herleef,
dit met woorde beskryf soos Opperman, Totius en Boerneef.

Môre is te laat

Nou een Saterdag oggend ry ek opgewonde Pick ʼn Pay toe vir dop en tjop. ʼn Lekker ou vleisie op die vuur met ʼn doppie in die hand is die enigste ou plesiertjie in hierdie onmiddellike bevredigende en aanspraak op alles wat jy my skuld, riemhalter ekonomiese beperkte kultuur. Met my aankoms by die verkeersirkel gluur ʼn jong man agter die stuur my aan asof ek die WiFi password van hom af weerhou. Het ek dan voor hom ingery of lyk ek net vir hom na iemand wat hom iets aangedoen het in sy verlede? Toe eers besef ek dat al die jongmense agter die stokke kwaad lyk, groet niemand nie en kom sommer platweg ongeskik voor. Dit moet ek bieg merk ek nou al vir ʼn geruime tyd op en in my onderbewussyn voel dit asof ek op 50 jaar oud die vyand van die jeug geword het.

Ek is bewus van die historiese verdeel en oorwin strategie van die jeug en dat die ouer geslag die skuld kry vir alles wat verkeerd is in die wêreld, maar waarom so aggressief en kwaad? Dit is nou net waar jy kyk #feesmustfall; #Rhodesmustfall; #everythingmustfall en almal is skielik kenners en kritici. Alles word gekritiseer en die mantra onder die jeug is: “Die lewe is vol haters en haters sal altyd haters bly”. Ons woon in ʼn veroordelende, haatdraende gemeenskap wat alles en almal kritiseer.

Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is bewus van die feit dat tieners vreemde wesens is en dat hulle lywe hulle emosies wipplank laat ry. Dat hulle babavet nou spiere word en dat aknee en hormone hulle buierig en opstandig maak. Ek praat nie van tieners nie, ek praat van jong mense tussen na skool en voor die verantwoordelikheid van trou en ʼn bydrae lewer tot die samelewing. Dié wie se pappies en mammies nog hulle studiefooie, koshuisgelde, motor huurpaaiemente en sakgeld betaal. Hulle wat naweek vir naweek in universiteits dorpe die kroeë vol lê met hulle seksuele losbandigheid en aanhoudende deurnag rekenaarspeletjie gewoontes. Die elektroniese generasie ook bekend as die gewelddadige generasie, Hollywood generasie, swartskaap generasie of ambisieuse generasie.  

Aan die anderkant dink ek dis is onregverdig dat die jeug so veralgemeen word en ek ontmoet nog baie jongmense wat beleefd, vriendelik en met goedgesindheid respek betoon. Ek moet egter bieg dat oor die algemeen en as jy met ander ouer mense praat kom die jeug maar arrogant, ongeskik en kwaad voor. Ek dink dat dit gedeeltelik is as gevolg van die feit dat die jeug ons generasie myle vooruit is. Hulle oortref ons so vêr met tegnologie dat hulle in hulle eie geheimsinnige internet web aanlyn speletjie wêreld vasgevang word en so deur die media, televisie en advertensies uitgebyt word en gemanipuleer word, dat dit voorkom of hulle in ʼn siniese generasie verander het wat nie meer weet hoe om in ʼn normale sosiale samelewing op te tree en te oorleef nie.

Ons weet dat die jeug deur die eeue nog altyd opstandig was en dat dit eintlik so half van hulle verwag word, maar het hulle hul identiteit verloor? Wie is hulle? Wie verteenwoordig hulle? … en wat indien enige bydraes lewer hulle tot die samelewing? Nie net in Suid Afrika is die jeug gewelddadig nie, maar ook in die res van die wêreld sien ons jong twintigjarige kinders betrokke by skietvoorvalle by die skole, optogte en onrus. Dus is dit nie net geografies nie, maar ʼn globale tendens dat jong mense aggressief en vyandig teenoor die res van die samelewing voorkom.

Of het ons almal net te onverdraagsaam geword? Ry maar net in Pick ʼn Pay se parkeer area en kyk of enige iemand jou kans gee om te ry. Almal ry en loop voor almal in sonder om te glimlag of erkenning te gee aan ander – passiewe aggressiwiteit is aan die orde van die dag. Ons kan nie die versoeking weerstaan om ons slimfoon dop te hou vir nuwe boodskappe op Facebook, WhatsApp of een of ander klets toepassing (Apps) nie. Soms verbeel ons ons dat die foon in ons sakke vibreer en loer gedurig na die skerm van ons fone asof ons iets baie belangriks gaan mis. Dis ʼn dwelm, ‘n verslawing en dit voel konstant of ons ‘n nuwe resep, geskiedkundige gebeurtenis of lewens belangrike boodskap gaan misloop. Ons is so besig in ons eie wêreld dat ons nie eers meer opkyk as ons loop in die publiek nie, en by elke verkeerslig waar ons stop eers na ons foon gryp en boodskappe lees of nog erger begin stuur, dat ons nie meer tyd vir ons medemens het nie. As jy maar net die “share” of “like” of snaakse “emoji” knoppie op die lewe kon druk of stuur sou dit soveel makliker gewees het. Ons het ʼn agter die gordyn, gesiglose, kommentaarlewerende, lewensresensent, leuenstoel kritikus geword. Ons is so vasgevang in ons eie ego van “selfies”, “posts” en “likes” dat ons nie eers weet wat ons bure se van is of waar hulle werk nie.

Miskien moet ons weer die voorbeeld vir ons jeug word deur tyd te spandeer om met hulle te gesels, stories te lees en te vertel, lewenservaring en basiese vaardighede met hulle te deel. Ons moet harder probeer om hulle te verstaan en te respekteer as vriend en nie vyand nie. Dalk voel ons net só bedreig deur die internet van dinge en die vinnige veranderende elektroniese ara dat ons vreesbevange is dat ons nie meer gaan saak maak nie. Ons skop vas teen sosiale media, alhoewel ons so hard probeer aanpas en daardeur irrelevante, ongemaklike en soms onwillekeurige komiese statusse op Facebook of WhatsApp plaas wat ons kinders laat lag en skaam maak. Ons verstaan nie hoekom jong mense so afhanklik is van elektroniese internet transaksies, kommunikasie en onmiddellike bevrediging en resultate nie. Die jeug het nie meer tyd, geduld of die aptyt vir wag nie. Hulle eis vinnige resultate en konstante verandering en verbetering. 

Die enigste ding wat hulle verhinder om teen die spoed van wit lig vorentoe toe beweeg en aan te beweeg, is die ouer generasie wat hulle terughou en nie gou genoeg kan aanpas nie. Hulle wil baie meer, baie vinniger weet. Hulle wil nie meer 3 jaar op universiteit sit om 2 jaar se ondervinding te bekom om goeie geld te verdien nie. Hulle wil en kan met die ontwerp van een nuwe selfooon toepassing of nuwe rekenaarspeletjie, ‘n YouTube video of internet/web idee miljoen rande verdien en volhoubaar ʼn inkomste deur die internet genereer sonder om ʼn tree te versit of sy/haar woonstel te verlaat. Hulle kan internasionaal kompeteer sonder om vir ʼn maatskappy te werk of vir ʼn internasionale maatskappy dienste lewer sonder om een dag in te gaan na ʼn kantoor toe.

So wie is nou eintlik kwaad vir en wie en wie se skuld is alles nou eintlik? Ons is tans en vir ʼn geruime tyd in ʼn revolusionêre era. Nie meer die industriële revolusie of eers alombekkende inligtingsrevolusie nie, maar ʼn nuwe snel groeiende, grenslose, globale revolusie. Nie net die internet-, digitale- of media revolusie nie, maar ‘n deurlopende, oneindige tydsfeer, altyd beskikbaar, onbewoon en vry vir almal revolusie met evolusionêre resultate en verwagtinge. Ons staan op die vooraand van ʼn tegnologiese revolusie wat fundamenteel die wyse waarop ons sal leef, werk en interaksie met mekaar drasties sal verander. Die omvang en komplekse transformasie sal onverstaanbaar en in teenstelling met enigiets wat die mensdom al ervaar het wees. Ons weet nog nie presies hoe dit sal ontvou nie, maar een ding is duidelik, dit is baie naby – selfs moontlik in die proses om te gebeur en ons reaksie en integrasie hierop sal ons oorlewing en vordering vorentoe bepaal.

Daar is die argument dat ten minste een van die volgende stellings waar is: (1) Dat die mensdom sal uitsterf en rekenaars die wêreld sal oorneem en vernietig; (2) dit is uiters onwaarskynlik dat enige postmensdom beskawing 'n beduidende aantal rekenaar simulasies van hul evolusionêre geskiedenis (of variasies daarvan) sal kan uitvoer vir die voortbestaan van die mensdom; (3) en dat ons sonder twyfel tans in ‘n rekenaar simulasie lewe. Alhoewel dit na ʼn belaglike - of noem dit maar onnosele - akademiese standpunt klink het dit verrykende gevolge as slegs een of al drie waar is! Wat wel waar is, is dat ons moet vandag nog gou tyd maak om ʼn boek te lees, vir iemand te glimlag, tyd om die etenstafel saam met familie te spandeer en die natuur te geniet. Ons moet ons kinders en kleinkinders wys hoe om kleurvolle vlieërs te bou en te vlieg... of soos in Tanya Marx se gedig: “... as die wind van voorspoed waai die vlieër met plesier te vlieg en in woeste storms moet aanhou klou met mag en krag al word jy amper flou.” As die wind gaan lê en stil is en jy die vlieër in die kas moet bêre is dit te laat, ...want môre se revolusie is gister al verby!

Ek is Sam

Wie is Sam vra jy? Sam is nie een persoon nie. SAM verteenwoordig miljoene individue wyd en suid, 'n korrelasie van vergelykbare ouens met parallelle omstandighede. Mense vêr verwyderd van mekaar, maar in dieselfde sfeer van tyd en omstandighede. Gebore in 'n tyd van politieke onstabiliteit en oorlog, moord, rampe, sosiale en politieke bewegings, verkenning van die ruimte, Elvis en die Beatles, Mahatma Gandhi, Moeder Teresa, Martin Luther King, Nelson Mandela en Malcolm X ... opwindende, maar ook verskriklike vreesaanjaende tye. Sam is nie vriend of vyand nie ... of ‘n slagoffer van omstandighede of begunstigde van die gebeure en verskynsels van die tyd nie.

Ek was in die sestigerjare gebore ... die Swinging Sixties - 'n tyd van sosiale taboes veral met betrekking tot rassisme en seksisme wat gedurende hierdie tyd plaasgevind het. Dit was sinoniem met die nuwe, radikale, en opstandige gebeure en tendense van die tydperk. In my land was dit die begin van radikale politieke verandering met die begin van openbare onrus en betogings. Die dekade wat ek in gebore is, het ons land onafhanklik en 'n republiek geword, en in die jaar wat ek gebore is was dit die tyd van die moord van die leier van die dieselfde land. Die slagspreuke en gevoel van die tyd was dat die Winde van Verandering gearriveer het en dat alles gaan en sal verander, maar ek het geen begrip of insig hiervan gehad nie ... Ek was net 'n kind in dié tyd.

Ek het grootgeword in die jare sewentig in normale alledaagse huishoudelike omstandighede. Beide my ouers moes werk om my en my jonger broer in die skool te hou. Ons het gemaklik en beslis nie arm groot geword nie, alhoewel ons nie die jaarlikse vakansies of 'n TV kon bekostig totdat ek omtrent 10 jaar oud was nie. My ouers was hard werkende en eerlike burgers wat hul verwagte sosiale verpligtinge nagekom het. Ons het kerk toe gegaan en my ouers het my en my broer geleer om gesag, ouer mense en al God se skeppings te respekteer. Ons is grootgemaak, versorg en met liefde vertroetel en het 'n gewone stedelike leefstyl gevolg. Ons het 'n huishulp wat ook as 'n kinderoppasser gedien het gehad en sy het ons geleer om respek, regverdigheid, integriteit, redelikheid en onpartydigheid in te boesem en alhoewel sy nie die vriendelikste was nie, het sy ons ook lief gehad - totdat sy huis toe gegaan het om haar kinders te gaan voed, te koester en lief te hê. Dwarsdeur my junior en vormingsjare het ek nooit bedreig, in gevaar of minderwaardig of verhewe of benede ander gevoel nie.

In my senior jaar en soos baie ander tieners - my opstandige jare, het ek Heavy Metal ontdek. Groepe soos Metallica, Deep Purple (met smoke on the water), Boston, Iron Maiden en Black Sabbath en natuurlik Pink Floyd se - Another Brick in the Wall, maar die meeste van hierdie albums was verbied omdat die regering bang was dat dit dalk kinders rebels gaan maak en die status quo gaan beïnvloed of die regering se outoriteit gaan minag. Ja ... dit was die tagtigerjare toe ek die eerste keer tehore gekom het van terrorisme en die term vryheidsvegter wat ‘n algemeen gebruikte term was. Ons was by die skool ingelig oor die bedreiging van kommunisme en wêreld oorheersing. Militêre diens was verpligtend vir 'n paar en rebelle militêre opleiding is daarop aangedring en verwag van ander. Die politieke klimaat was verraderlike en bomme, terroriste-aanvalle en openbare geweld en onrus was alledaags, maar ons het nie veel daarvan gedink nie. Ons het op TV gesien hoe gemaskerde mans in verflenterde semi- uniforms van die IRA (Irish Republican Army) betrokke was by motor bom aanvalle in Dublin en Belfast en gereeld gehoor dat Sinn Féin onderhandel namens die IRA. Daar was groot sosiale en burgerlike ontevredenheid wêreldwyd en daar was geweld in die Midde-Ooste, insluitende die Iran - Irak Oorlog, die Sowjet - Afghaanse Oorlog, die 1982 Libanon -oorlog, die Nagorno - Karabakh Oorlog, die aanslag op Libië in 1986, en die eerste Intifada in die Gaza strook en die Wes-Bank.

Ek het nou skielik ‘n vrees ontwikkel van moontlike ernstige beserings of dood as ek in die verkeerde plek op die verkeerde tyd sou verkeer. Vriende en familie is dood as soldate (aan regeringskant en revolusionêre militante kant) en die gemeenskap het agterdogtig en onverdraagsaam teenoor mekaar geword. Ten spyte van die feit dat die Koue Oorlog tot 'n einde gekom het, is ons gewaarsku om gereed en ge-rat te wees om onsself te verdedig teen die vyand. Bom aanvalle was meer algemeen as politieke skandaal en die spanning in die lug het gemanifesteer in elke burger en die regering het meer paranoïes geraak. Ons is afgesny van die res van die wêreld en sanksies teen ons land het gelei tot verhoging in inflasie tussen 35 en 40 % en ons kon nie in die internasionale sport arena kompeteer nie weens boikotte. Die meeste literatuur en die meeste flieks is gesny, gesensor of verban.

In die negentigerjare na onfeilbare druk op die regering, onderhandelinge, kompromieë en ​​politiek druk is n nuwe regering ingestem en dinge moes verander. Daar was die vrees vir die nuwe, maar dit het gou verander na opwinding en vreugde. Die internasionale gemeenskap aanvaar ons terug met ope arms, ons kompeteer op alle vlakke van internasionale mededingendheid - ekonomies, in die invoer en uitvoer bedryf, sport ... en ons het selfs Wêreldbekers gewen het. Daar was weer hoop en mense begin mekaar versigtig vertrou en respekteer. Ons was die helde in die oë van die internasionale gemeenskap en was beskou as die enigste ware demokratiese land wat kon verskuif van onderdrukking tot ware demokrasie, sonder vooroordeel of bloedvergieting tydens die oorgang ... 'n ware voorbeeld vir die res van die wêreld. Opwindende nuwe tye ... 'n nuwe era van geleenthede. Dit was ‘n tyd van ontdekking van die World Wide Web, vryheid van beweging, assosiasie, spraak en godsdiens. 'n Tyd van hoop en belofte vir almal.

Twintig jaar later en ek vind myself weer in 'n posisie van angs. Tye het weer verander en moord, geweld en misdaad is endemies aan die samelewing. Korrupsie, bedrog en oneerlikheid is volop en 'n kwart van ons burgers is werkloos. Daar is weer openbare onrus, stakings en ​​openbare geweld kom daagliks voor. Mense blameer mekaar en die regering vir die ekonomiese teleurstellings en ​​rampe en die regering op sy beurt blameer dit op die foute van die vorige regering. Daar is weer wantroue en mense kry nie werk nie en ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie veroorsaak onsekerheid en geen werksekerheid. Emigrasie en hervestiging vir groener weivelde maak plek vir die verlies van vaardigheid, kennis en ervaring aan ander lande. Die standaard van die lewe, opvoeding en etiek stort roekeloos ineen.

Ja, ek is SAM soos baie ander SAM’s ... Ek is 'n Suid-Afrikaanse Man soos baie ander Suid-Afrikaanse Mans. SAM ken nie demokrasie nie, maar lewe en ervaar in 'n totalitêre staat. Die definisie van 'n totalitêre staat?: “ 'n politieke stelsel waar die staat totale gesag oor die samelewing het en poog om alle aspekte van die openbare en private lewe te beheer, waar moontlik" (die huidige en vorige regering ingesluit). SAM ervaar swaarkry, ekonomiese onrus, frustrasie en wanhoop, veral as jy geleef het in die sestigerjare, deur die sewentigs, die jare tagtig oorleef en die verandering in die negentigerjare ervaar het.

Ek sal eerder 'n man soos beskryf deur Esquire of Barney Stinson wil wees of uitgebeeld soos deur Sean Connery. Dit is wat 'n man behoort te wees: 'n man kyk uit vir diegene rondom hom - vrou, vriend of vreemdeling. 'n Man is goed in sy werk ... nie sy beroep of sy roeping nie ... nie sy stokperdjie nie ... ook nie sy loopbaan nie ... nee ... sy werk! Dit maak nie saak wat sy werk is nie, want as 'n man nie van sy werk hou nie, moet hy dit nie doen nie. 'n Man besef hy het foute en aanvaar sy foute, hy maak aanspraak op wie hy is en wat hy is, of hy daarvan hou of nie. 'n Man kyk uit vir kinders en maak seker dat hulle ​​agter hom staan vir beskerming. 'n Man is verheug oor die koms van die ouderdom, dit bevry hom en laat hom toe om die oorhand te kry en leer hom wanneer om weg te stap. Miskien het hy nog nooit of sal hy nooit nie, maar 'n man kan iemand op sy gat laat sit of op sy rug laat lê indien dit nodig is. 'n Man weet nie alles nie en probeer ook nie alles weet nie en hy hou daarvan om by ander te leer. ‘n Man kan erken as hy verkeerd was of verkeerd gedoen het. 'n Man moet altyd respek vir 'n vrou se skoonheid, kompleksiteit en deernis hê en moet nooit dit as vanselfsprekend aanvaar nie. 'n Man is iemand wat nie sal staan ​​vir 'n sagte handdruk nie. Wanneer hy gekonfronteer word met 'n swak handdruk, moet hý die druk toepas totdat hy tevrede is met die krag, fermheid, en rooi palm veroorsaak deur die gedwonge doodsgreep van twee handpalms. 'n Man kan niks anders doen as om bes te gee en die knie te buig voor sy formidabele teenstander en Nemesis ... die bra nie!

Ek is Sam en die lewe is onregverdig, maar so what? Daar is niks wat gedoen kan word om die onregverdigheid uit te skakel nie. Die lewe is nie regverdig nie en dit was nog altyd so, en dit sal nooit verander nie. Vir almal, op verskillende maniere en op verskillende tye is die lewe moeilik. Alhoewel die lewe nie regverdig is nie, is daar baie wat gedoen kan word om te floreer en voorspoedig (ten spyte van dit en selfs as gevolg van dit) te kan wees.

Ek kies om nie ‘n SAM te wees nie, maar eerder ‘n MAN!