Glansplasing

Môre is te laat

Nou een Saterdag oggend ry ek opgewonde Pick ʼn Pay toe vir dop en tjop. ʼn Lekker ou vleisie op die vuur met ʼn doppie in die hand is die enigste ou plesiertjie in hierdie onmiddellike bevredigende en aanspraak op alles wat jy my skuld, riemhalter ekonomiese beperkte kultuur. Met my aankoms by die verkeersirkel gluur ʼn jong man agter die stuur my aan asof ek die WiFi password van hom af weerhou. Het ek dan voor hom ingery of lyk ek net vir hom na iemand wat hom iets aangedoen het in sy verlede? Toe eers besef ek dat al die jongmense agter die stokke kwaad lyk, groet niemand nie en kom sommer platweg ongeskik voor. Dit moet ek bieg merk ek nou al vir ʼn geruime tyd op en in my onderbewussyn voel dit asof ek op 50 jaar oud die vyand van die jeug geword het.

Ek is bewus van die historiese verdeel en oorwin strategie van die jeug en dat die ouer geslag die skuld kry vir alles wat verkeerd is in die wêreld, maar waarom so aggressief en kwaad? Dit is nou net waar jy kyk #feesmustfall; #Rhodesmustfall; #everythingmustfall en almal is skielik kenners en kritici. Alles word gekritiseer en die mantra onder die jeug is: “Die lewe is vol haters en haters sal altyd haters bly”. Ons woon in ʼn veroordelende, haatdraende gemeenskap wat alles en almal kritiseer.

Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is bewus van die feit dat tieners vreemde wesens is en dat hulle lywe hulle emosies wipplank laat ry. Dat hulle babavet nou spiere word en dat aknee en hormone hulle buierig en opstandig maak. Ek praat nie van tieners nie, ek praat van jong mense tussen na skool en voor die verantwoordelikheid van trou en ʼn bydrae lewer tot die samelewing. Dié wie se pappies en mammies nog hulle studiefooie, koshuisgelde, motor huurpaaiemente en sakgeld betaal. Hulle wat naweek vir naweek in universiteits dorpe die kroeë vol lê met hulle seksuele losbandigheid en aanhoudende deurnag rekenaarspeletjie gewoontes. Die elektroniese generasie ook bekend as die gewelddadige generasie, Hollywood generasie, swartskaap generasie of ambisieuse generasie.  

Aan die anderkant dink ek dis is onregverdig dat die jeug so veralgemeen word en ek ontmoet nog baie jongmense wat beleefd, vriendelik en met goedgesindheid respek betoon. Ek moet egter bieg dat oor die algemeen en as jy met ander ouer mense praat kom die jeug maar arrogant, ongeskik en kwaad voor. Ek dink dat dit gedeeltelik is as gevolg van die feit dat die jeug ons generasie myle vooruit is. Hulle oortref ons so vêr met tegnologie dat hulle in hulle eie geheimsinnige internet web aanlyn speletjie wêreld vasgevang word en so deur die media, televisie en advertensies uitgebyt word en gemanipuleer word, dat dit voorkom of hulle in ʼn siniese generasie verander het wat nie meer weet hoe om in ʼn normale sosiale samelewing op te tree en te oorleef nie.

Ons weet dat die jeug deur die eeue nog altyd opstandig was en dat dit eintlik so half van hulle verwag word, maar het hulle hul identiteit verloor? Wie is hulle? Wie verteenwoordig hulle? … en wat indien enige bydraes lewer hulle tot die samelewing? Nie net in Suid Afrika is die jeug gewelddadig nie, maar ook in die res van die wêreld sien ons jong twintigjarige kinders betrokke by skietvoorvalle by die skole, optogte en onrus. Dus is dit nie net geografies nie, maar ʼn globale tendens dat jong mense aggressief en vyandig teenoor die res van die samelewing voorkom.

Of het ons almal net te onverdraagsaam geword? Ry maar net in Pick ʼn Pay se parkeer area en kyk of enige iemand jou kans gee om te ry. Almal ry en loop voor almal in sonder om te glimlag of erkenning te gee aan ander – passiewe aggressiwiteit is aan die orde van die dag. Ons kan nie die versoeking weerstaan om ons slimfoon dop te hou vir nuwe boodskappe op Facebook, WhatsApp of een of ander klets toepassing (Apps) nie. Soms verbeel ons ons dat die foon in ons sakke vibreer en loer gedurig na die skerm van ons fone asof ons iets baie belangriks gaan mis. Dis ʼn dwelm, ‘n verslawing en dit voel konstant of ons ‘n nuwe resep, geskiedkundige gebeurtenis of lewens belangrike boodskap gaan misloop. Ons is so besig in ons eie wêreld dat ons nie eers meer opkyk as ons loop in die publiek nie, en by elke verkeerslig waar ons stop eers na ons foon gryp en boodskappe lees of nog erger begin stuur, dat ons nie meer tyd vir ons medemens het nie. As jy maar net die “share” of “like” of snaakse “emoji” knoppie op die lewe kon druk of stuur sou dit soveel makliker gewees het. Ons het ʼn agter die gordyn, gesiglose, kommentaarlewerende, lewensresensent, leuenstoel kritikus geword. Ons is so vasgevang in ons eie ego van “selfies”, “posts” en “likes” dat ons nie eers weet wat ons bure se van is of waar hulle werk nie.

Miskien moet ons weer die voorbeeld vir ons jeug word deur tyd te spandeer om met hulle te gesels, stories te lees en te vertel, lewenservaring en basiese vaardighede met hulle te deel. Ons moet harder probeer om hulle te verstaan en te respekteer as vriend en nie vyand nie. Dalk voel ons net só bedreig deur die internet van dinge en die vinnige veranderende elektroniese ara dat ons vreesbevange is dat ons nie meer gaan saak maak nie. Ons skop vas teen sosiale media, alhoewel ons so hard probeer aanpas en daardeur irrelevante, ongemaklike en soms onwillekeurige komiese statusse op Facebook of WhatsApp plaas wat ons kinders laat lag en skaam maak. Ons verstaan nie hoekom jong mense so afhanklik is van elektroniese internet transaksies, kommunikasie en onmiddellike bevrediging en resultate nie. Die jeug het nie meer tyd, geduld of die aptyt vir wag nie. Hulle eis vinnige resultate en konstante verandering en verbetering. 

Die enigste ding wat hulle verhinder om teen die spoed van wit lig vorentoe toe beweeg en aan te beweeg, is die ouer generasie wat hulle terughou en nie gou genoeg kan aanpas nie. Hulle wil baie meer, baie vinniger weet. Hulle wil nie meer 3 jaar op universiteit sit om 2 jaar se ondervinding te bekom om goeie geld te verdien nie. Hulle wil en kan met die ontwerp van een nuwe selfooon toepassing of nuwe rekenaarspeletjie, ‘n YouTube video of internet/web idee miljoen rande verdien en volhoubaar ʼn inkomste deur die internet genereer sonder om ʼn tree te versit of sy/haar woonstel te verlaat. Hulle kan internasionaal kompeteer sonder om vir ʼn maatskappy te werk of vir ʼn internasionale maatskappy dienste lewer sonder om een dag in te gaan na ʼn kantoor toe.

So wie is nou eintlik kwaad vir en wie en wie se skuld is alles nou eintlik? Ons is tans en vir ʼn geruime tyd in ʼn revolusionêre era. Nie meer die industriële revolusie of eers alombekkende inligtingsrevolusie nie, maar ʼn nuwe snel groeiende, grenslose, globale revolusie. Nie net die internet-, digitale- of media revolusie nie, maar ‘n deurlopende, oneindige tydsfeer, altyd beskikbaar, onbewoon en vry vir almal revolusie met evolusionêre resultate en verwagtinge. Ons staan op die vooraand van ʼn tegnologiese revolusie wat fundamenteel die wyse waarop ons sal leef, werk en interaksie met mekaar drasties sal verander. Die omvang en komplekse transformasie sal onverstaanbaar en in teenstelling met enigiets wat die mensdom al ervaar het wees. Ons weet nog nie presies hoe dit sal ontvou nie, maar een ding is duidelik, dit is baie naby – selfs moontlik in die proses om te gebeur en ons reaksie en integrasie hierop sal ons oorlewing en vordering vorentoe bepaal.

Daar is die argument dat ten minste een van die volgende stellings waar is: (1) Dat die mensdom sal uitsterf en rekenaars die wêreld sal oorneem en vernietig; (2) dit is uiters onwaarskynlik dat enige postmensdom beskawing 'n beduidende aantal rekenaar simulasies van hul evolusionêre geskiedenis (of variasies daarvan) sal kan uitvoer vir die voortbestaan van die mensdom; (3) en dat ons sonder twyfel tans in ‘n rekenaar simulasie lewe. Alhoewel dit na ʼn belaglike - of noem dit maar onnosele - akademiese standpunt klink het dit verrykende gevolge as slegs een of al drie waar is! Wat wel waar is, is dat ons moet vandag nog gou tyd maak om ʼn boek te lees, vir iemand te glimlag, tyd om die etenstafel saam met familie te spandeer en die natuur te geniet. Ons moet ons kinders en kleinkinders wys hoe om kleurvolle vlieërs te bou en te vlieg... of soos in Tanya Marx se gedig: “... as die wind van voorspoed waai die vlieër met plesier te vlieg en in woeste storms moet aanhou klou met mag en krag al word jy amper flou.” As die wind gaan lê en stil is en jy die vlieër in die kas moet bêre is dit te laat, ...want môre se revolusie is gister al verby!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking