Glansplasing

Môre is te laat

Nou een Saterdag oggend ry ek opgewonde Pick ʼn Pay toe vir dop en tjop. ʼn Lekker ou vleisie op die vuur met ʼn doppie in die hand is die enigste ou plesiertjie in hierdie onmiddellike bevredigende en aanspraak op alles wat jy my skuld, riemhalter ekonomiese beperkte kultuur. Met my aankoms by die verkeersirkel gluur ʼn jong man agter die stuur my aan asof ek die WiFi password van hom af weerhou. Het ek dan voor hom ingery of lyk ek net vir hom na iemand wat hom iets aangedoen het in sy verlede? Toe eers besef ek dat al die jongmense agter die stokke kwaad lyk, groet niemand nie en kom sommer platweg ongeskik voor. Dit moet ek bieg merk ek nou al vir ʼn geruime tyd op en in my onderbewussyn voel dit asof ek op 50 jaar oud die vyand van die jeug geword het.

Ek is bewus van die historiese verdeel en oorwin strategie van die jeug en dat die ouer geslag die skuld kry vir alles wat verkeerd is in die wêreld, maar waarom so aggressief en kwaad? Dit is nou net waar jy kyk #feesmustfall; #Rhodesmustfall; #everythingmustfall en almal is skielik kenners en kritici. Alles word gekritiseer en die mantra onder die jeug is: “Die lewe is vol haters en haters sal altyd haters bly”. Ons woon in ʼn veroordelende, haatdraende gemeenskap wat alles en almal kritiseer.

Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is bewus van die feit dat tieners vreemde wesens is en dat hulle lywe hulle emosies wipplank laat ry. Dat hulle babavet nou spiere word en dat aknee en hormone hulle buierig en opstandig maak. Ek praat nie van tieners nie, ek praat van jong mense tussen na skool en voor die verantwoordelikheid van trou en ʼn bydrae lewer tot die samelewing. Dié wie se pappies en mammies nog hulle studiefooie, koshuisgelde, motor huurpaaiemente en sakgeld betaal. Hulle wat naweek vir naweek in universiteits dorpe die kroeë vol lê met hulle seksuele losbandigheid en aanhoudende deurnag rekenaarspeletjie gewoontes. Die elektroniese generasie ook bekend as die gewelddadige generasie, Hollywood generasie, swartskaap generasie of ambisieuse generasie.  

Aan die anderkant dink ek dis is onregverdig dat die jeug so veralgemeen word en ek ontmoet nog baie jongmense wat beleefd, vriendelik en met goedgesindheid respek betoon. Ek moet egter bieg dat oor die algemeen en as jy met ander ouer mense praat kom die jeug maar arrogant, ongeskik en kwaad voor. Ek dink dat dit gedeeltelik is as gevolg van die feit dat die jeug ons generasie myle vooruit is. Hulle oortref ons so vêr met tegnologie dat hulle in hulle eie geheimsinnige internet web aanlyn speletjie wêreld vasgevang word en so deur die media, televisie en advertensies uitgebyt word en gemanipuleer word, dat dit voorkom of hulle in ʼn siniese generasie verander het wat nie meer weet hoe om in ʼn normale sosiale samelewing op te tree en te oorleef nie.

Ons weet dat die jeug deur die eeue nog altyd opstandig was en dat dit eintlik so half van hulle verwag word, maar het hulle hul identiteit verloor? Wie is hulle? Wie verteenwoordig hulle? … en wat indien enige bydraes lewer hulle tot die samelewing? Nie net in Suid Afrika is die jeug gewelddadig nie, maar ook in die res van die wêreld sien ons jong twintigjarige kinders betrokke by skietvoorvalle by die skole, optogte en onrus. Dus is dit nie net geografies nie, maar ʼn globale tendens dat jong mense aggressief en vyandig teenoor die res van die samelewing voorkom.

Of het ons almal net te onverdraagsaam geword? Ry maar net in Pick ʼn Pay se parkeer area en kyk of enige iemand jou kans gee om te ry. Almal ry en loop voor almal in sonder om te glimlag of erkenning te gee aan ander – passiewe aggressiwiteit is aan die orde van die dag. Ons kan nie die versoeking weerstaan om ons slimfoon dop te hou vir nuwe boodskappe op Facebook, WhatsApp of een of ander klets toepassing (Apps) nie. Soms verbeel ons ons dat die foon in ons sakke vibreer en loer gedurig na die skerm van ons fone asof ons iets baie belangriks gaan mis. Dis ʼn dwelm, ‘n verslawing en dit voel konstant of ons ‘n nuwe resep, geskiedkundige gebeurtenis of lewens belangrike boodskap gaan misloop. Ons is so besig in ons eie wêreld dat ons nie eers meer opkyk as ons loop in die publiek nie, en by elke verkeerslig waar ons stop eers na ons foon gryp en boodskappe lees of nog erger begin stuur, dat ons nie meer tyd vir ons medemens het nie. As jy maar net die “share” of “like” of snaakse “emoji” knoppie op die lewe kon druk of stuur sou dit soveel makliker gewees het. Ons het ʼn agter die gordyn, gesiglose, kommentaarlewerende, lewensresensent, leuenstoel kritikus geword. Ons is so vasgevang in ons eie ego van “selfies”, “posts” en “likes” dat ons nie eers weet wat ons bure se van is of waar hulle werk nie.

Miskien moet ons weer die voorbeeld vir ons jeug word deur tyd te spandeer om met hulle te gesels, stories te lees en te vertel, lewenservaring en basiese vaardighede met hulle te deel. Ons moet harder probeer om hulle te verstaan en te respekteer as vriend en nie vyand nie. Dalk voel ons net só bedreig deur die internet van dinge en die vinnige veranderende elektroniese ara dat ons vreesbevange is dat ons nie meer gaan saak maak nie. Ons skop vas teen sosiale media, alhoewel ons so hard probeer aanpas en daardeur irrelevante, ongemaklike en soms onwillekeurige komiese statusse op Facebook of WhatsApp plaas wat ons kinders laat lag en skaam maak. Ons verstaan nie hoekom jong mense so afhanklik is van elektroniese internet transaksies, kommunikasie en onmiddellike bevrediging en resultate nie. Die jeug het nie meer tyd, geduld of die aptyt vir wag nie. Hulle eis vinnige resultate en konstante verandering en verbetering. 

Die enigste ding wat hulle verhinder om teen die spoed van wit lig vorentoe toe beweeg en aan te beweeg, is die ouer generasie wat hulle terughou en nie gou genoeg kan aanpas nie. Hulle wil baie meer, baie vinniger weet. Hulle wil nie meer 3 jaar op universiteit sit om 2 jaar se ondervinding te bekom om goeie geld te verdien nie. Hulle wil en kan met die ontwerp van een nuwe selfooon toepassing of nuwe rekenaarspeletjie, ‘n YouTube video of internet/web idee miljoen rande verdien en volhoubaar ʼn inkomste deur die internet genereer sonder om ʼn tree te versit of sy/haar woonstel te verlaat. Hulle kan internasionaal kompeteer sonder om vir ʼn maatskappy te werk of vir ʼn internasionale maatskappy dienste lewer sonder om een dag in te gaan na ʼn kantoor toe.

So wie is nou eintlik kwaad vir en wie en wie se skuld is alles nou eintlik? Ons is tans en vir ʼn geruime tyd in ʼn revolusionêre era. Nie meer die industriële revolusie of eers alombekkende inligtingsrevolusie nie, maar ʼn nuwe snel groeiende, grenslose, globale revolusie. Nie net die internet-, digitale- of media revolusie nie, maar ‘n deurlopende, oneindige tydsfeer, altyd beskikbaar, onbewoon en vry vir almal revolusie met evolusionêre resultate en verwagtinge. Ons staan op die vooraand van ʼn tegnologiese revolusie wat fundamenteel die wyse waarop ons sal leef, werk en interaksie met mekaar drasties sal verander. Die omvang en komplekse transformasie sal onverstaanbaar en in teenstelling met enigiets wat die mensdom al ervaar het wees. Ons weet nog nie presies hoe dit sal ontvou nie, maar een ding is duidelik, dit is baie naby – selfs moontlik in die proses om te gebeur en ons reaksie en integrasie hierop sal ons oorlewing en vordering vorentoe bepaal.

Daar is die argument dat ten minste een van die volgende stellings waar is: (1) Dat die mensdom sal uitsterf en rekenaars die wêreld sal oorneem en vernietig; (2) dit is uiters onwaarskynlik dat enige postmensdom beskawing 'n beduidende aantal rekenaar simulasies van hul evolusionêre geskiedenis (of variasies daarvan) sal kan uitvoer vir die voortbestaan van die mensdom; (3) en dat ons sonder twyfel tans in ‘n rekenaar simulasie lewe. Alhoewel dit na ʼn belaglike - of noem dit maar onnosele - akademiese standpunt klink het dit verrykende gevolge as slegs een of al drie waar is! Wat wel waar is, is dat ons moet vandag nog gou tyd maak om ʼn boek te lees, vir iemand te glimlag, tyd om die etenstafel saam met familie te spandeer en die natuur te geniet. Ons moet ons kinders en kleinkinders wys hoe om kleurvolle vlieërs te bou en te vlieg... of soos in Tanya Marx se gedig: “... as die wind van voorspoed waai die vlieër met plesier te vlieg en in woeste storms moet aanhou klou met mag en krag al word jy amper flou.” As die wind gaan lê en stil is en jy die vlieër in die kas moet bêre is dit te laat, ...want môre se revolusie is gister al verby!

Ek is Sam

Wie is Sam vra jy? Sam is nie een persoon nie. SAM verteenwoordig miljoene individue wyd en suid, 'n korrelasie van vergelykbare ouens met parallelle omstandighede. Mense vêr verwyderd van mekaar, maar in dieselfde sfeer van tyd en omstandighede. Gebore in 'n tyd van politieke onstabiliteit en oorlog, moord, rampe, sosiale en politieke bewegings, verkenning van die ruimte, Elvis en die Beatles, Mahatma Gandhi, Moeder Teresa, Martin Luther King, Nelson Mandela en Malcolm X ... opwindende, maar ook verskriklike vreesaanjaende tye. Sam is nie vriend of vyand nie ... of ‘n slagoffer van omstandighede of begunstigde van die gebeure en verskynsels van die tyd nie.

Ek was in die sestigerjare gebore ... die Swinging Sixties - 'n tyd van sosiale taboes veral met betrekking tot rassisme en seksisme wat gedurende hierdie tyd plaasgevind het. Dit was sinoniem met die nuwe, radikale, en opstandige gebeure en tendense van die tydperk. In my land was dit die begin van radikale politieke verandering met die begin van openbare onrus en betogings. Die dekade wat ek in gebore is, het ons land onafhanklik en 'n republiek geword, en in die jaar wat ek gebore is was dit die tyd van die moord van die leier van die dieselfde land. Die slagspreuke en gevoel van die tyd was dat die Winde van Verandering gearriveer het en dat alles gaan en sal verander, maar ek het geen begrip of insig hiervan gehad nie ... Ek was net 'n kind in dié tyd.

Ek het grootgeword in die jare sewentig in normale alledaagse huishoudelike omstandighede. Beide my ouers moes werk om my en my jonger broer in die skool te hou. Ons het gemaklik en beslis nie arm groot geword nie, alhoewel ons nie die jaarlikse vakansies of 'n TV kon bekostig totdat ek omtrent 10 jaar oud was nie. My ouers was hard werkende en eerlike burgers wat hul verwagte sosiale verpligtinge nagekom het. Ons het kerk toe gegaan en my ouers het my en my broer geleer om gesag, ouer mense en al God se skeppings te respekteer. Ons is grootgemaak, versorg en met liefde vertroetel en het 'n gewone stedelike leefstyl gevolg. Ons het 'n huishulp wat ook as 'n kinderoppasser gedien het gehad en sy het ons geleer om respek, regverdigheid, integriteit, redelikheid en onpartydigheid in te boesem en alhoewel sy nie die vriendelikste was nie, het sy ons ook lief gehad - totdat sy huis toe gegaan het om haar kinders te gaan voed, te koester en lief te hê. Dwarsdeur my junior en vormingsjare het ek nooit bedreig, in gevaar of minderwaardig of verhewe of benede ander gevoel nie.

In my senior jaar en soos baie ander tieners - my opstandige jare, het ek Heavy Metal ontdek. Groepe soos Metallica, Deep Purple (met smoke on the water), Boston, Iron Maiden en Black Sabbath en natuurlik Pink Floyd se - Another Brick in the Wall, maar die meeste van hierdie albums was verbied omdat die regering bang was dat dit dalk kinders rebels gaan maak en die status quo gaan beïnvloed of die regering se outoriteit gaan minag. Ja ... dit was die tagtigerjare toe ek die eerste keer tehore gekom het van terrorisme en die term vryheidsvegter wat ‘n algemeen gebruikte term was. Ons was by die skool ingelig oor die bedreiging van kommunisme en wêreld oorheersing. Militêre diens was verpligtend vir 'n paar en rebelle militêre opleiding is daarop aangedring en verwag van ander. Die politieke klimaat was verraderlike en bomme, terroriste-aanvalle en openbare geweld en onrus was alledaags, maar ons het nie veel daarvan gedink nie. Ons het op TV gesien hoe gemaskerde mans in verflenterde semi- uniforms van die IRA (Irish Republican Army) betrokke was by motor bom aanvalle in Dublin en Belfast en gereeld gehoor dat Sinn Féin onderhandel namens die IRA. Daar was groot sosiale en burgerlike ontevredenheid wêreldwyd en daar was geweld in die Midde-Ooste, insluitende die Iran - Irak Oorlog, die Sowjet - Afghaanse Oorlog, die 1982 Libanon -oorlog, die Nagorno - Karabakh Oorlog, die aanslag op Libië in 1986, en die eerste Intifada in die Gaza strook en die Wes-Bank.

Ek het nou skielik ‘n vrees ontwikkel van moontlike ernstige beserings of dood as ek in die verkeerde plek op die verkeerde tyd sou verkeer. Vriende en familie is dood as soldate (aan regeringskant en revolusionêre militante kant) en die gemeenskap het agterdogtig en onverdraagsaam teenoor mekaar geword. Ten spyte van die feit dat die Koue Oorlog tot 'n einde gekom het, is ons gewaarsku om gereed en ge-rat te wees om onsself te verdedig teen die vyand. Bom aanvalle was meer algemeen as politieke skandaal en die spanning in die lug het gemanifesteer in elke burger en die regering het meer paranoïes geraak. Ons is afgesny van die res van die wêreld en sanksies teen ons land het gelei tot verhoging in inflasie tussen 35 en 40 % en ons kon nie in die internasionale sport arena kompeteer nie weens boikotte. Die meeste literatuur en die meeste flieks is gesny, gesensor of verban.

In die negentigerjare na onfeilbare druk op die regering, onderhandelinge, kompromieë en ​​politiek druk is n nuwe regering ingestem en dinge moes verander. Daar was die vrees vir die nuwe, maar dit het gou verander na opwinding en vreugde. Die internasionale gemeenskap aanvaar ons terug met ope arms, ons kompeteer op alle vlakke van internasionale mededingendheid - ekonomies, in die invoer en uitvoer bedryf, sport ... en ons het selfs Wêreldbekers gewen het. Daar was weer hoop en mense begin mekaar versigtig vertrou en respekteer. Ons was die helde in die oë van die internasionale gemeenskap en was beskou as die enigste ware demokratiese land wat kon verskuif van onderdrukking tot ware demokrasie, sonder vooroordeel of bloedvergieting tydens die oorgang ... 'n ware voorbeeld vir die res van die wêreld. Opwindende nuwe tye ... 'n nuwe era van geleenthede. Dit was ‘n tyd van ontdekking van die World Wide Web, vryheid van beweging, assosiasie, spraak en godsdiens. 'n Tyd van hoop en belofte vir almal.

Twintig jaar later en ek vind myself weer in 'n posisie van angs. Tye het weer verander en moord, geweld en misdaad is endemies aan die samelewing. Korrupsie, bedrog en oneerlikheid is volop en 'n kwart van ons burgers is werkloos. Daar is weer openbare onrus, stakings en ​​openbare geweld kom daagliks voor. Mense blameer mekaar en die regering vir die ekonomiese teleurstellings en ​​rampe en die regering op sy beurt blameer dit op die foute van die vorige regering. Daar is weer wantroue en mense kry nie werk nie en ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie veroorsaak onsekerheid en geen werksekerheid. Emigrasie en hervestiging vir groener weivelde maak plek vir die verlies van vaardigheid, kennis en ervaring aan ander lande. Die standaard van die lewe, opvoeding en etiek stort roekeloos ineen.

Ja, ek is SAM soos baie ander SAM’s ... Ek is 'n Suid-Afrikaanse Man soos baie ander Suid-Afrikaanse Mans. SAM ken nie demokrasie nie, maar lewe en ervaar in 'n totalitêre staat. Die definisie van 'n totalitêre staat?: “ 'n politieke stelsel waar die staat totale gesag oor die samelewing het en poog om alle aspekte van die openbare en private lewe te beheer, waar moontlik" (die huidige en vorige regering ingesluit). SAM ervaar swaarkry, ekonomiese onrus, frustrasie en wanhoop, veral as jy geleef het in die sestigerjare, deur die sewentigs, die jare tagtig oorleef en die verandering in die negentigerjare ervaar het.

Ek sal eerder 'n man soos beskryf deur Esquire of Barney Stinson wil wees of uitgebeeld soos deur Sean Connery. Dit is wat 'n man behoort te wees: 'n man kyk uit vir diegene rondom hom - vrou, vriend of vreemdeling. 'n Man is goed in sy werk ... nie sy beroep of sy roeping nie ... nie sy stokperdjie nie ... ook nie sy loopbaan nie ... nee ... sy werk! Dit maak nie saak wat sy werk is nie, want as 'n man nie van sy werk hou nie, moet hy dit nie doen nie. 'n Man besef hy het foute en aanvaar sy foute, hy maak aanspraak op wie hy is en wat hy is, of hy daarvan hou of nie. 'n Man kyk uit vir kinders en maak seker dat hulle ​​agter hom staan vir beskerming. 'n Man is verheug oor die koms van die ouderdom, dit bevry hom en laat hom toe om die oorhand te kry en leer hom wanneer om weg te stap. Miskien het hy nog nooit of sal hy nooit nie, maar 'n man kan iemand op sy gat laat sit of op sy rug laat lê indien dit nodig is. 'n Man weet nie alles nie en probeer ook nie alles weet nie en hy hou daarvan om by ander te leer. ‘n Man kan erken as hy verkeerd was of verkeerd gedoen het. 'n Man moet altyd respek vir 'n vrou se skoonheid, kompleksiteit en deernis hê en moet nooit dit as vanselfsprekend aanvaar nie. 'n Man is iemand wat nie sal staan ​​vir 'n sagte handdruk nie. Wanneer hy gekonfronteer word met 'n swak handdruk, moet hý die druk toepas totdat hy tevrede is met die krag, fermheid, en rooi palm veroorsaak deur die gedwonge doodsgreep van twee handpalms. 'n Man kan niks anders doen as om bes te gee en die knie te buig voor sy formidabele teenstander en Nemesis ... die bra nie!

Ek is Sam en die lewe is onregverdig, maar so what? Daar is niks wat gedoen kan word om die onregverdigheid uit te skakel nie. Die lewe is nie regverdig nie en dit was nog altyd so, en dit sal nooit verander nie. Vir almal, op verskillende maniere en op verskillende tye is die lewe moeilik. Alhoewel die lewe nie regverdig is nie, is daar baie wat gedoen kan word om te floreer en voorspoedig (ten spyte van dit en selfs as gevolg van dit) te kan wees.

Ek kies om nie ‘n SAM te wees nie, maar eerder ‘n MAN!

Wie maak vir Gansbaai lekker?

Dis vroeg Saterdag oggend en ek is regtig niks lus vir die optog Hermanus toe nie, maar ons het belowe om vir ons vriende van Johannesburg daar te gaan kuier vir die naweek.  Ons het hulle baie gemis vandat ons na die Kaap verhuis het en al het ons reeds saam met hulle die week vantevore gekuier in die Kaap sien ons hulle des moontlik eers weer volgende jaar, net as hulle wéér afkom Kaap toe.

Ek dink nie dis die kuier self waarna ek opsien nie, maar ek dink dis die heen en weer ryery tussen Kaapstad, die Weskus en die Suidkus en die kort tyd wat ons het om te rus voor ons weer moet gaan werk. 

Dit reën saggies toe ons so net na sewe wegtrek by die huis en ek wonder so in my binneste wat die naweek vir ons sal inhou.  Op Sir Lowry’s Pass is dit so mistig dat ek my noodligte moet aansit en ʼn kwart van die aanbevole spoed moet ry om te verhoed dat ek in die kar voor ons vasry.  Ek wonder onbewustelik of dié onheilspellende mistigheid en trietsige weer nie ʼn teken vir my inhou om dalk eerder terug te draai huis toe nie. 

Ek beur stadig vorentoe en probeer die karre voor my se rooi ligte bespeur, maar sien niks en ry al hoe stadiger.  Oor die pas en teen die afdraand lig die mis effens en ek sien tot my verligting die gloeiende rooi ligte van ander karre voor my en die spanning in my nek en skouers gee skiet.  Ek tel nou lekker vinnig spoed op en probeer ʼn bietjie tyd opmaak vir wat ek verloor het, ek het trouens laat weet dat ek nege uur sal aanmeld vir ontbyt en skielik ek is so honger, ek kan ʼn perd opvreet en my mond met die joggie afvee. 

Die verkeer kom skielik tot stilstand en ek moet hard rem trap om nie in die kar voor my se gat vas te ry nie.  ʼn Vragmotor vol vrugte is die oorsaak van die plotselinge slakkepas.  Niemand kan verby die trok kom nie en ons almal wag maar geduldig om verby te steek.  Een vir een sluip die karre verby die trok en soos die duiwel dit wil hê, toe dit my beurt is om verby te steek, land ons teen ʼn bult met ʼn dubbel streep en ek moet geduldig wag tot aan die anderkant van die opdraande.

 Net soos ek dit in my kop voorspel het is daar ʼn string aankomende verkeer aan die ander kant van die bult en kan ek weereens nie verbysteek nie.  Toe ek ten einde laaste 'n kansie kry sit ek my flikkerlig aan en kyk in my spieël voordat ek my Sarel van der Merwe skuif maak.  Ek gooi amper die bakkie om soos ek terug swenk om uit die pad te kom van ʼn BMW wat van agter af verby gejaag kom.  Ek gil so hard dat Boetie uit sy MP3 beswyming ontwaak en Ma kwaai en bleek om die kiewe na my laat staar. “DIE GOED RY SOOS HULLE GATTE MAN!”, sê ek vererg en bly maar agter die ou vrugte trokkie.  Gelukkig draai die trok 2 km later af Grabouw toe en kan ek weer spoed optel.

 Ek sit voet in die hoek en sleep vir die R43 afdraai na Hermanus toe, maar sowaar as vet daar land ek sowaar agter ʼn Coke lorrie wat seer sekerlik by die vrugte trok bestuurder lesse gekry het in lorrie dryf, want selfs ʼn skilpad maak meer vordering as hy net sy kop uitsteek! Met die reën is die sproei so erg agter die Coke lorrie ek kan nie eers sy nommerplaat lees nie, wat nog van sien of daar verkeer van voor af kom.  Hoe sê hulle? Hoe meer haas, hoe minder wortels!

Nou weet ek verseker ons gaan nie betyds wees vir ontbyt nie en die Hermanus trippie is klaar ʼn gemors.  Ek moes dit geweet het en omgedraai het toe ek die eerste keer wou, maar nou is dit te laat en ons is amper daar.  Twee minute voor nege stop ek voor die Johannesburgers se rondawel en die kommentaar so deur die gegroet is in die lyn van: “Jy ken jou tyd nê?” “Julle is net betyds vir ontbyt!”, sê Faantjie. “Jy weet mos my ou maat ek is nooit laat nie”, spog ek sonder om te noem van die mis, trokke en padvarke langs die pad, so asof ek dit so beplan het.

Tydens ontbyt besluit ons om Gansbaai toe te gaan vir die dag.  Dankie tog dink ek in my stilligheid, ek is tog nie lus vir Hermanus se geskarrel en toeriste nie.  Ons spring almal in Faantjie se nuwe Ford Ranger, wat sy tweede vakansie in Hermanus kom hou het en ook nie meer so nuut is nie.  Ouder gewoonte ry Faantjie daai bakkie soos ʼn Avis huurmotor, of soos ʼn polisie konstabel ʼn patrolliewa ry. So deur die ratte so hard hy kan met kinders agterop.  Jy moet stadig Jan Bêrend se windhond” maan Ma vir Faantjie skrikkerig aan, ... “onthou die kinders agterop” en sy loer agtertoe om te kyk of Boetie en die kinders oukei is.  Hulle moet vashou, hulle weet mos ek speel nie” sê Faantjie skertsend.

Skaars uit Paradise Park, so 8 km buitekant Hermanus en daar staan die verkeer.  Is daar ʼn ongeluk?” vra Ma bekommerd en kyk onwillekeurig agter op die bak of Boetie en die ander kinders nog lewendig is.  Nee, dis maar Hermanus se daaglikse verkeer” sê Faantjie asof dit so moet wees.  ʼn Sirene looi in die agtergrond en van agter af kom ʼn ambulans ... “ek het darem gedink dit moet ʼn ongeluk wees ... ek hoop nie iemand het seer gekry nie” sê Ma en kyk weer agter op die bakkie of die kinders nog oukei is.

Faantjie en van die ander karre trek links af op die geel streep om plek te maak vir die ambulans en ʼn ou antie, wat lyk soos 'n treksprinkaan agter die stuurwiel, met ʼn klein blougrys karretjie dog ons maak almal plek vir haar en sy stoot regs langs die karre verby gedetermineerd Hermanus toe. “F@<<$n, Bl!<$mse ou F@<<$n, B!tch!!!” skel Faantjie die vrou en mik met die Ranger se neus na die antie in die klein karretjie ... “amper is sy na moer!”. “Die DONNERSE KAPENARE RY SOOS HULLE GATTE!!!” gil Faantjie en druk die Ranger se neus verby al die karre in sy gewone bedonderde Johannesburgse oorlewings en self preserverings bestuurstyl.

Hermanus is ʼn prutpot van bedrywighede met voetgangers wat voor die karre inloop en verwarde toeriste wat soos dronkies van die een kant van die pad na die ander kant slinger om by winkels en restaurante uit te kom. Ek vergaap my aan al die mense, hulle gewoontes en kleredrag en probeer vasstel wat die aantrekkings krag of betowering is wat mense so na Hermanus lok. Is dit die walvis bedrywighede, die Europese voorkoms, die klimaat ... of is dit waar die wie’s wie van wie’s uithang?

Jong seuns loop sonder hemde en die jong meisies met chiffon deurskynende bloesies oor hulle tweestuk bikini’s. Jy kan die besoekers uitken aan hulle plakkies, skoene en “sneakers” , want die “locals” dra nie skoene nie en hulle is maar skaars tussen die ooglopende uitlanders en vakansiegangers uit al vier windrigtings en nege provinsies van die land. Daar is selfs mense sovêr as Limpopo, Mpumalanga, Botswana en Suid-Wes of ekskuus Namibië.

Ons laai die kinders af naby die esplanade met duidelik veiligheids instruksies en leviete en vra hulle om dit oortuigend te herhaal, sodat ons gemoedsrus kan hê.  Ons stoot aan deur die dik verkeer en raak net nog ʼn segment van die duisendpoot wat deur die strate van Hermanus vleg.

Uit die dorp, rigting Gansbaai, maak Faantjie daai bakkie se keel heel oop en verskeur daai Ford Ranger die vogtige lug voor hom vraatsig oop. Die stuurwiel in Faantjie se hande is sy visier waarmee hy mik na die volgend kar. Die petrol pedaal van die bakkie word die katrol, waarmee hy die karre voor hom inkatrol tot teen aan die Ranger se neus. Dan lyk dit of hy daai kar insluk, kou soos ʼn Rottweiler ʼn hoender verorber, en dan weer uitspoeg langs die pad soos hy hom verby ja na die volgende kar in sy visier. En wanneer hy vasval agter ʼn kar wat die ongetemde Ranger terughou, hoor jy Faantjie se oorlogskreet:  DONNERSE KAPENARE!! JULLE RY SOOS JULLE GATTE!!

Veilig en verlig aangekom in Gansbaai lyk dit op die oog af ook maar besig, maar daar is ʼn opmerklike rustigheid oor die bedrywighede. Jy voel dadelik die kalmte van die mense en die omgewing.

Ek dink opgewonde terug na my kinderdae op Gansbaai saam met my familie en veral my niggie Magda wat my in haar Citi Golf leer bestuur het. En Nugget haar 'ginger' kêrel met die sproetgesig en deurmekaar hare en hoe ons perd gery het op die strand.

Alhoewel die dorp bietjie uitgebrei het lyk dit nog net dieselfde soos ek dit onthou meer as 30 jaar terug. Dit is dieselfde vriendelike sout van die aarde mense en natuurlike ruwe en ongerepte skoonheid met wit geboue en huise wat jou na die hawe nooi. Die hawe met die visserskuite  en bedrywighede en die mengsel van unieke identifiseerbare reuke van vars vis, ou vis, visolie en diesel, net soos daar by Laaiplek, St Helena Baai, Paternoster, Saldanha en Lambertsbaai.  Ja daar aan die Weskus! Die Weskus wat so deel van my DNA geword het.

Faantjie soek ʼn ATM en ons jaag tussen die koördinate wat die banke op die GPS aanwys en jy moet vinnig kyk of jy sien niks van die dorp nie. Geld getrek en parkering gevind by die hawe wil die vrouens by die winkeltjie op die hawe inloer vir iets snaaks, soos ʼn bokkom of twee of ʼn vissie om te braai of ʼn sonhoed of sommer snoek biltong.

Ek merk ʼn paar jongetjies daar op die kaai wat besig is om met handlyn vis te vang en stap nuuskierig nader.  ʼn Paar ander nuuskierige en geïnteresseerde manne staan alreeds vir hulle en dophou en die plaaslike latjies van die dorp laat loop met hulle sêgoed.  Hulle moet mos wys waaroor dit nou eintlik gaan hier op Gansbaai.

Vang julle harders?” vra ek onnosel. “Nueeee oem ... musbankeghrs!!” “Wat maak julle met die Musbankers?” vra ek weer onnosel.  Ons vang met hulle kabeljou oem!!” sê die een mannetjie wat op ʼn druppel soos Fiela Komoetie se hanskind, Benjamin lyk. “Waar vang julle die Kabeljou?” vra ʼn ander man skielik baie geïnteresseerd. “Daaghr by Haiklup oem” sê Fiela se kind. “Waar is Haaiklip?” vra die ou weer. “Daaghr by Fghranskghraaal oem!” sê Fiela se kind met so groot frons op sy voorkop asof hy nie kan verstaan hoe ons nie dit weet nie. “Nou vang julle met lewendige aas of sny julle dit op” vra ʼn ander geïnteresseerde ou. “Nuee ... net so liewendig oem” mompel Fiela se kind ...

Ek vghries hulle oem, dit weghrk net so lekkeghr” se ʼn ander mannetjie wat my aan 'n jonger Tommie Laubscher laat dink en op 'n groot buiteband sit en visvang.  Aan sy effens gesette lyf kan 'n mens sien hy is nie so rats soos die ander wat op en af op die groot buitebande (wat in die water aan kettings hang vir die skuite) rondspring nie.  Hy is ongetwyfeld die laerskool eerstespan se vaskopstut en miskien sal hy ook eendag soos oorle Tommie Laubscher vir die WP en die Bokke uitdraf.  Sy onbeweeglikheid is seker ook hoekom hy sy aas vries en eers later as hy weer krag het, eerder Steenbras vang wat nie so kwaai terug baklei as hy aan die lyn is nie ... of so verstaan ek maar van die ouens wat groot hengel praat.

Faantjie roep my en wys ek moet aankom ons moet jaag na die volgende plek toe.  Ons besoek die Upper Deck waar ons ʼn doppie drink en die 'Baggghr Lady' se kêrel spontaan saam met ons vir die “Facebook - Check In” foto staan en eis dan R12 of ʼn bier vir sy dienste. Ons koop vir hom ʼn Black Label vir sy inisiatief, maar eintlik om van sy lyf lastigheid verlos te word.

Ons gaan drink later ʼn paar doppe by die C-View Sports Bar (sonder die sea view) en hier verkyk ek my aan die ‘locals’ wat op ʼn Saterdag pool speel in die een hoek en hier vlak langs ons ʼn paar ouens wat ernstige domininoes speel.  Die domino stukke word hard op die tafel neer geklap en iets onverstaanbaar word geskreeu elke keer as hulle dit so klap asof dit die laaste spyker in die kis is, of die doodskoot wat nou die wenner gaan aankondig, maar dan gaan die spel net onverpoosd voort. “Wat gaan jy maak as die bul jou ja!?” skreeu die een en klap dan ʼn dubbel ses op die tafel neer, loer dan uitdagend vir die ander en wag vir hulle om ʼn 'move' te maak ... “nou gat jou bêk oephang soes ʼn gaghr vis!” klap ʼn ander een sy domino op die tafel ... “vat só!” ... klap 'n ou met een tand links onder en twee regs bo in sy mond (hy herinner my aan Knersus), die domino dat hy van die tafel af hop en doer trek tot by die kroeg toonbank ... “Nee man!! Jy’s no so confused soos ʼn honger baba in ʼn topless bar!!” skerts een en Knersus lag uit sy mag uit sodat jy die drie tande in sy mond se wortels kan sien.

Die C-View Sports Bar is nie sommer watse Bar nie. Daar is ʼn jong knaap van Moorreesburg met moderne klank toerusting op die klein verhogie in die hoek en hy sing Steve Hofmeyr se Pampoen amper net so goed soos Steve self.  Net soos Steve ken hy elke Neil Diamond 'song' en sing dit met entoesiasme en vol self vertroue. Nadat hy eers lank gepleit en goed om verskoning  gevra en voorbrand gemaak het vir wat volgende kom, sing hy “Die Blou Bul eet nie van die vloer af nie.....” opgedra aan oom Piet wat die 'song' nou al van die vorige aand af knaend versoek.

Die C-View Sports Bar het ook twee kroeë. Een vir die gewone bier, brandewyn en coke en wyn en 'n ander een net vir shooters. Daar is afgesien van die pool tafels, die lewendige een man vertoning en die daaglikse domino uitdaag reeks, ook dobbel slot masjiene so half weggesteek in die hoek asof dit die onwettigheid daarvan regverdig ... maar daar is nie ʼn “sea view” nie.

ʼn Bietjie later kom daar ʼn groepie van so ses of sewe dames aan met een jongetjie met ʼn pers pruik en oordadige pers lipstiffie aspris groter as haar mond om haar lippe geskilder. Dit is duidelik ʼn henne partytjie en een van die ouer henne het besluit om die toekomstige bruid te trakteer of eerder bloot te stel hier by die C-View Sports Bar. Die aanstaande bruid wat soos ʼn pers Annie lyk, is ooglopend al reeds effe aangeklam en is baie vriendelik. Sy het ʼn blikkie in haar hand waarmee sy geld bedel vir die wittebrood of die eerste maand se inkopies of iets dergeliks en almal in die kroeg dra by tot die liefdadigheid projek. Pers Annie voer die opdragte van die ander henne foutloos en gehoorsaam uit en sluk alles wat die henne voor haar neersit met minagtende gemak af.

Dan kom Annie nader hier na my en Faantjie se tafel toe en vra vir Faantjie: “Sal oom asseblief met my dans? Oom is glad nie onder enige verpligting nie en oom hoef nie met my te dans as oom nie wil nie, maar as oom wil ... dan moet dit lang arm wees”. Faantjie staan swaar teen die een been op. Hy trek sy kruk nader waarmee hy nou so swaar loop na sy groot ongeluk vroeër in die jaar, vat met sy een hand vir Pers Annie om die lyf en leen met sy ander hand op die kruk. En dan waggel hy en Pers Annie in die rondte vir ʼn wals.

Die ander henne kekkel al te lekker en lag vir die hele affêre en nou word daar foto’s van Pers Annie geneem vir die vale, want hulle het nie verwag Faantjie sal ja sê nie. “Dankie oom”, sê Pers Annie, “oom dans baie lekker ... soos ‘n pro”. Nou word Pers Annie gesleep na die verhoog toe en sing sy uit volle bors saam met Moorreesburg Steve “... dis net ʼn vrot pampoen en ʼn stukkende skoen en ʼn trekker wat se tyre lêk ...” en later groet die klomp henne op pad na die volgende uitdaging vir Pers Annie, nou bietjie minder vas op haar voete.

Ons besoek aan Gansbaai het tot ʼn einde gekom en ons moet terugkom by Paradise Park om seker te maak die kinders is oukei. Hulle het inisiatief aan die dag gelê en ‘n Tuc-Tuc gevang om hulle terug te vat kamp toe. Ek is heilig oortuig daarvan dat hulle niks sal oorkom nie, maar Ma is nou ongemaklik en soek nou “proof of life”.

Faantjie is weer agter die visiere en mik-mik vir die karre tot by die kamp en elke nou en dan hoor jy sy oorlogskreet: ... “DONNERSE KAPENARE!! JULLE RY SOOS JULLE GATTE!!”.

Terwyl ons so aan die jaag op pad terug kamp toe is, dink ek onwillekeurig terug aan Pers Annie. Die eensame hennetjie saam met moeder hen, skoonmoeder hen en hulle henne vriendinne. Almal bo 40 behalwe vir skoonsuster hen en niemand anders nie. Waar is Pers Annie se henne vriendinne dan? Ek hoop maar vir haar onthalwe dat haar vriendinne vir haar later ʼn ordentlike henne partytjie sal hou.

Later die aand sit ons by die pragtige Bientang's Cave restaurant op die rotse van Hermanus, teen die see met sy asemrowende uitkyk oor die baai en sy eksotiese atmosfeer. Rondom my hoor ek die vreemde tale van uitlanders wat aansit vir vars seekos en ek is in vervoering terwyl ek so oor die majestueuse waters uit staar. In die verte kan ek Gansbaai se liggies sien. Gansbaai waarna die mense stroom om Shark Cage Diving te doen of om Walvisse van nader te bekyk. Om die natuurlike paradys tussen die berge en die see se vars lug in te asem of om die dosyne staproetes tussen die fynbos of op die lang wit strande te stap.

Vir my gaan Gansbaai net soos al die ander klein kus dorpies oor sy mense en hulle dinge. Oor Fiela se kind en sy vriende wat visvang daar in die hawe; die entrepreneur wat instaan vir ʼn foto vir ’n Black Label; die domino konings en Knersus daar by C-View Sports Bar; Moorreesburg Steve en Pers Annie. Dit is mos wat vir Gansbaai lekker maak.

Die volgende oggend ry ons die skilderagtige roete oor Kleinmond, Betty's Baai en Rooi Els. Boetie en Ma slaap op pad huis toe en ek is afhanklik van my eie denke en verbeelding. Ek dink weer aan al die karakters en mense van Gansbaai met hulle eenvoudige visserman bestaan en leefstyl. Die uitgestrekte skoonheid teen die see en kus met sy heerlike en soms onaangename, maar verwelkomende en ongeëwenaarde reuke. Sy pragtige skepping en ongerepte natuur. Ek het altyd gewonder van wie Worsie Visser sing in daai liedjie van Gansbaai, maar nou weet ek wie maak vir Gansbaai lekker!