Glansplasing

Bevryding uit die kloue van die ondier

Jou jakkals, jy dink jy is beter as ander

Gulsig vir aandag wat almal negatief verander

Glo alles kom jou toe en dat jy alles verdien

Listige geveinsde ondier, ek kan deur jou sien

Jou gedurige beledigende manipulasie

Om jou kloue in te slaan op ander of die situasie

 

Soos ‘n Hiëna, berekend, maar onverstandig

Maak jy die mense om jou doelbewus vyandig

Sonder grense of respek en tot jy eie vermaak

Boelie jy almal uit vrees vir weerwraak

Jy voel magtig as jy sien jy kan iemand beheer

Om hulle tot jou voordeel te manipuleer

 

Jy is die slang wat jou emosionele gif versprei

Spoeg beskuldigings om jóú tafel voor te berei

Met jou gevurkte tong doen jy jou aanbeveling

Die plan is net verdere onderlinge verdeling

As iemand jou planne en aksies wil aanspreek

Seil jy ongedeerd weg om jouself te versteek

 

Met jou skerpioen knypers beklemtoon jou selfsug

Jou gebrek aan empatie kan gevoelens verwurg

Nimmer apologeties en sonder enige berou

Sal jy jou aantygings aan ander toesnou

Jy raak gou die slagoffer as jy kwesbaar is

Jou gifangel reg om jou onderduimsheid te beslis

 

Jy het my lank onseker en onbekwaam laat voel

En jou mond maklik oor almal se foute uitgespoel

Vir ‘n lang tyd het jy my geluk probeer steel

Net om jou enorme ego te streel

My laat twyfel oor my kwansuise onvermoë

Sodat jy beter kan voel oor jou eie misnoeë

 

Jy het gedobbel met my etiek en integriteit

Om jou eie agenda opwaarts te bepleit

Jare se harde werk en ervaring probeer stuit

My loopbaan by die venster uitgesmyt

Jy het my magteloos en ondergeskik laat voel

My selfvertroue met jou gif en leuens oorspoel

 

Maar tot hier toe en nie verder nie my ou maat

Vir te lank het ek jou optrede toegelaat

My oë het oopgegaan en my die lig laat sien

Ek weier om jou verder met lojaliteit te dien

Om onder ‘n narsissistiese egoïs te werk

Is hoegenaamd nie die moeite werd

 

 

Ou Getroudes

Op ‘n koringplaas langs ‘n nuut gespande draad

Staan twee bejaarde bome ewe kordaat

In die veld omring deur goudgeel koring gerwe

Teen die blou lig is die twee se silhoeët uitgekerwe

 

Ingedagte jaag almal verby na waar hulle gaan

Onbewus van die twee bome wat daar staan

Hand aan hand is hulle in tak en loof vervleg

Soos ou getroudes in toewyding en opreg

 

Seisoen na seisoen het hul saam gegroei

Deur wind en weer en met koue bemoei

Staan hulle saam om die wêreld in die oë staar

Al verloor hulle jaar na jaar elke blaar

 

Diep gewortel in die sanderige Sandveld grond

Ondersteun hulle mekaar in hul huweliksverbond

Saam deel hulle die voeding en genade vog

Om soos een met hulle groen loof te spog

 

En soos hulle meer volwasse raak

Word daar plek vir ander gemaak

Skadu kolle om teen die son te beskerm

Met koelte word die vee in lafenis ontferm

 

Selfs wanneer dit lyk of alles skeef loop

En die mens gaan lê in onbeholpe wanhoop

Of dit lyk of die wêreld besig is om te vergaan

Sal die twee ou bome in die eg regop bly staan

 

Brief Aan My Seuns

  Van kindsbeen af het ons julle gekoester

Vertroos, versorg en met liefde omvou

Geskenke uit God se genade hand

Hoe sou ons julle groot kry sonder berou

 

Onseker en onhandig het ons julle grootgemaak

Met wat ons het en weet ons beste probeer

Julle lewens paadjie het ons vir julle voorberei

Met hoop en vertroue het ons julle alles geleer

 

In ‘n oogwink het julle ons opvoeding ontgroei

Te vinnig het julle ons nie meer nodig gehad

Julle eie paadjies vir julle mooi uitgekerf

Om vreesloos die moeder nes te verlaat

 

Nou is julle groot, onafhanklik en volwasse

Julle keuses is gemaak en visie bepaal

Met trots en verwondering kyk ek op na julle

Dankbaar om deel te wees van julle verhaal

 

Ek skryf hierdie brief in ‘n ode nou aan julle

Om hierdie laaste opdragte aan julle te gee

Ons verdrag van onfeilbare liefde te bekragtig

En om onvoorwaardelik eerbaar op te tree