Ek bevind myself deesdae gereeld in die moeilike
posisie waar ek nie weet waar ek inpas nie en waar vandaan kom nie. Die gevoel van, ek was amper daar, of het dit
net-net nie gemaak nie, is oorweldigend.
Soms voel dit dat ek dit wel gemaak het en deel was van dit wat
belangrik was, maar wie weet dit en maak dit werklik saak? Daar is so baie “glory hunters” daar
buite en k*k praters wat vir die hele wêreld wil vertel saam met wie hulle wat
gedoen het. Hulle laat jou gou verstaan dat
hulle skouers skuur of geskuur het met die bekendes, beroemdes en berugte onderwêreld. Hulle lieg onbeskaamd saam met wie hulle
wapendraers was in die oorlog teen die vyand wat ons voor 1994 geveg het. Ek ken baie van hulle en eien hulle bitter
gou as jy in geselskap verkeer of by ‘n watergat gaan sit en kuier. Hulle praat groot van hulle ervarings of
skermutselinge en suksesse saam met die groot name saam met wie hulle kwansuis die
wapen opgeneem het. Onbewus van ons wat
daar kom sit net om bietjie weg te breek van ons verlede, of miskien akute
nostalgie op ons eie wil ervaar. Ons wat
werklik daar was of regtig deel was van daardie operasie, of self deel was van
daardie nou berugte eenheid, maar weereens, wat maak dit saak?
Toe ek jonger was wou ek graag
hê dat mense moes weet wie ek is en die werk wat ek saam met die groot name
gedoen het, maar nou dat ek ouer is word ek werklik kwaad vir die verlede en
die onreg wat ons aangedoen is. Almal
wil erkenning hê vir die opofferings wat jy gemaak het om nie eers te praat van
die opofferings wat jou gesin noodgedwonge en onvermydelik moes maak nie. Die laat nagte en vrees of jy veilig sal
terugkom was onafwendbaar en onregverdig.
Vir ons was dit ongetwyfeld ons roeping en het dit uitgeleef en selfs
geniet. Ek moet eerlik erken dat ek heel
waarskynlik selfsugtig verslaaf was daaraan.
Die aksie was ongetwyfeld verslawend, en ja die adrenalien was ons fix. Die satisfaksie na die aksie was die
nabetragting daarna om die kampvuur. Met
drank wat vloei het ons opgewonde, amper jubelend, die hele scenario oorvertel
en oor en oor herleef. Niemand sal
daardie kameraderie ooit verstaan as jy nie deel daarvan was nie. Daardie sterk band met jou makkers,
daai “band of brother” is onvernietigbaar, ‘n amper heilige
(met respek gesê) bondgenootskap.
Ek dink dit is wat baie van
die grootpraters na smag. Dit is hoekom daar so baie onnadenkende, entoesiastiese en gretige Gung Ho’s is wat kwansuis
honger is om aan gevegte of oorlogvoering deel te neem en met smaak vertel hoe
hulle nou gereed is daarvoor. Weet hulle
dan nie dat daar geen wenners in oorlog is nie?
Afgesien van die hartseer van dood, emosionele wonde en post traumatiese
stresversteuring wat baie van ons makkers ervaar het en steeds ervaar, is daar
die pynlike hartseer van verraaiers soos Mr X, en die oorlopers, en natuurlik
die k*k praters, en die onverwagte wantroue en vrese tydens die politieke tonele
in ons land tussen 1990 en 1994.
CODESA, die Harms Kommissie en
Die Waarheid-en-Versoenings Kommissie (WVK) het baie van ons bevrees, vervolg
en verwerp laat voel. Wat nou? Wat gaan nou van ons word? Ons wat ons lewe opgeoffer het vir dit wat
vir ons kosbaar was. Wat is dit wat vir
ons kosbaar was? Weet ons ooit? Ek dink baie hieroor na sonder enige
bevredigende antwoorde. Is dit ons
geskiedenis? Almal se geskiedenis is vir
hulle belangrik. Wie se geskiedenis is
reg, en hoe weet ons of dit ooit die waarheid is? Soms is dit net oorvertellings van werklike
gebeure wat verdraai word en deur baie generasies oorgedra te word en stertjies
aan kry. Soms is dit net opgemaakte
verhale of staaltjies. Ek weet nie meer
nie, of ek weet eintlik baie goed, maar besef dit word nie meer erken nie.
Dit is seker onvermydelik dat
ons erkenning wil hê vir die impak wat ons op mense se lewens en harte gemaak
het en dat jy met so ‘n nalatenskap beloon kan word. Ek sien so baie van my kolegas skryf boeke
oor hulle ervarings en gebeure wat opslae gemaak het, ... en daarin lê my
dilemma. In baie van die boeke wat
geskryf word, het ek deel aan gehad, maar nie genoeg om self ‘n boek te skryf
nie. Ek was net daar, of het dele
daarvan oorsien, of was direk betrokke, maar kon nie daaroor praat nie. Dit is seker hoekom ek nou hier sit en
hieroor skryf? Miskien wil ek tog hê
mense moet dit weet, of is dit maar net daardie hol gevoel wetende niemand
verstaan dit nie en dat ek het nooit erkenning daarvoor gekry nie? Of is dit omdat ek nou in my vyftigs dit nie
meer kan doen nie en net bloot opgegee het?
In elk geval is die helfte van die inligting wat in daai boeke oorgedra is
weereens net die alom ontwykende najaag na glorie en beslis halwe waarhede. Die mense wat dit moontlik gemaak het vir die
Piet Byle van die lewe om naam te maak word nie eens die boeke genoem nie. Sukses word nooit deur een persoon bepaal
nie, maar deur spanwerk en samewerking. Dit
is per slot van rekening wat sake oplos, booswigte agter tralies laat beland
en vervolging suksesvol maak. Die veldspanne
en operasionele lede wat na ure, nag na nag inligting opvolg en kriminele,
terroriste en boosdoeners jag en hulle lewens in gevaar stel, is altyd agter
die skerms en word nooit van gehoor nie. Die dag as jy erkenning kry word ‘n medalje
stilweg agter toe deure aan jou bors vasgesteek. Geen publieke erkenning op ‘n medalje parade
of erkenning in ‘n “bestseller” vir jou nie my ou maat!
Dit is ook seker hoekom so
baie van ons adrenalien “junkies” geword het of soms na die bottel
gegryp het, juis omdat ons gedoen het wat gedoen moes word, wetende dat ons nie
raak gesien gaan word nie. That was
part of the job.....! Ek het nou
onlangs die eerste keer in my lewe fisiese hartseer ervaar en gehuil. Hartstogtelik soos ‘n baba het ek skaamteloos
gehuil toe my ou kameraad aan ‘n hart aanval dood is. Nie in ‘n kontak nie, nie aan diens nie! Alleen in sy bed. Geen staatsbegrafnis vir hierdie yster nie! Elke keer as ek daaroor praat of daaraan dink
huil ek van voor af. Ek kan dit nie keer
nie en weet nie hoekom nie. Afgesien van
die feit dat ek en hy al in ‘n kontak saam was en ek hom met my lewe vertrou
het, en dat ek onlangs na jare weer met hom verenig het, dink ek ook dit is
omdat ek tot die besef gekom het dat ek nooit weer die voorreg sal hê om
operasioneel te wees nie. Dit is verby
vir en my kamerade en ons is verby ons verval datum. Selfs my protégé wat nog steeds operasioneel
is en sy kant bring se rak lewe gaan een van hierdie dae verval. Die besef dat my kanse verby is sny soos ‘n
koue winter deur my. Geen geleenthede
meer vir ons nie.... Vir die laaste 20 jaar het ek agter ‘n lessenaar in ‘n
kantoor van korporatiewe wolwe gesit en ‘n leuen gelewe net om te oorleef en om
na my gesin om te sien. Ek is natuurlik
ongelooflik dankbaar vir die kans om stabiliteit, sekuriteit en ‘n dak oor ons
koppe te kon sit, maar is dit my nalatenskap? Wat het ek om te wys daarvoor?
Ek wens soms dat die regte
manne wat in ons situasie was meer met mekaar kon deel, sodat die stilte tussen
ons, om hierdie aaklige geskiedenis onder die mat te probeer vee, die
selferkenning aan ons te kan gee en ons kan bevry van dié wat dit so aandik en
verheerlik. Ons wat die waarheid ken en
nou bedreigde spesies geword het moet nou ons eie potjie krap. Ons moet nou entrepreneurs word,
selfonderhoudend wees, ons eie besighede begin om te oorleef. Verwerp uit die nuwe bedeling moet ons
aanvaar, vergewe en om verskoning vra! Wie
gaan vir ons om verskoning vra of aanvaar dat ons ook hier hoort en dit verdien
om hier te wees. Sal ons ooit vergewe
word?
Jy my broer of suster wat
nooit ‘n wapen op jou bors gedra het of ‘n wapen in jou hand gehad het nie en
wat met outoriteit wil kom praat oor wat reg en verkeerd is en die verlede. Ja, jy wat tussen jou vriende so spog oor jou
veldslae en jou bravade! Julle wat so
graag op Facebook, Twitter en Instagram julle stories deel, foto’s plaas en
opinies lig...., bly maar eerder stil. Jy
ken nie die volle, hartseer waarheid soos wat ons dit beleef het nie my ou
mater!
Op die einde van die dag sal
ons ook seker maar sing soos Koos Kombuis in sy liedjie Boer In Beton:
Iewers in my klink
die stem,
van Strydom,
Verwoerd en die knipmeslem
van patriotisme
wat nog flits,
al maak ek Sondae
vuur met blits
elke voorvader 'n
pionier,
en ek weet ek
hoort nie hier
ek sit in laatnag
kroeë rond,
maar ken nie meer
die reuk van grond
daar's iewers
velde wat nog roep,
daar’s iewers nog
'n boere stoep
die Groot Trek oor
die oop Savanna,
die blink loop van
'n Sanna
Trots moet ons aanhou veg vir
ons voortbestaan en kontak hou met mekaar, want ons alleen weet waaroor dit
gaan. Ons, die onteerde, onerkende,
gemuilbande kollektief, in ewige verbintenis tot die suksesse van ons
opofferings, die vooruitgang van ons nasie, en die standvastige lojaliteit aan
ons kamerade wat ons skouer aan skouer saam mee geveg het.
Nooit ooit sal ons bedel vir troos, vergifnis en
erkenning nie!