Dis vroeg Saterdag oggend en ek is regtig niks lus vir
die optog Hermanus toe nie, maar ons het belowe om vir ons vriende van
Johannesburg daar te gaan kuier vir die naweek. Ons het hulle baie gemis vandat ons na die
Kaap verhuis het en al het ons reeds saam met hulle die week vantevore gekuier
in die Kaap sien ons hulle des moontlik eers weer volgende jaar, net as hulle
wéér afkom Kaap toe.
Ek dink nie dis die kuier self waarna ek opsien nie, maar
ek dink dis die heen en weer ryery tussen Kaapstad, die Weskus en die Suidkus
en die kort tyd wat ons het om te rus voor ons weer moet gaan werk.
Dit reën saggies toe ons so net na sewe wegtrek by die
huis en ek wonder so in my binneste wat die naweek vir ons sal inhou. Op Sir Lowry’s Pass is dit so mistig dat ek my
noodligte moet aansit en ʼn kwart van die aanbevole spoed moet ry om te verhoed
dat ek in die kar voor ons vasry. Ek
wonder onbewustelik of dié onheilspellende mistigheid en trietsige weer nie ʼn
teken vir my inhou om dalk eerder terug te draai huis toe nie.
Ek beur stadig vorentoe en probeer die karre voor my se
rooi ligte bespeur, maar sien niks en ry al hoe stadiger. Oor die pas en teen die afdraand lig die mis
effens en ek sien tot my verligting die gloeiende rooi ligte van ander karre
voor my en die spanning in my nek en skouers gee skiet. Ek tel nou lekker vinnig spoed op en probeer ʼn
bietjie tyd opmaak vir wat ek verloor het, ek het trouens laat weet dat ek nege
uur sal aanmeld vir ontbyt en skielik ek is so honger, ek kan ʼn perd opvreet en
my mond met die joggie afvee.
Die verkeer kom skielik tot stilstand en ek moet hard rem
trap om nie in die kar voor my se gat vas te ry nie. ʼn Vragmotor vol vrugte is die oorsaak van die
plotselinge slakkepas. Niemand kan verby
die trok kom nie en ons almal wag maar geduldig om verby te steek. Een vir een sluip die karre verby die trok en
soos die duiwel dit wil hê, toe dit my beurt is om verby te steek, land ons
teen ʼn bult met ʼn dubbel streep en ek moet geduldig wag tot aan die anderkant
van die opdraande.
Net soos ek dit in my kop voorspel het is daar ʼn string
aankomende verkeer aan die ander kant van die bult en kan ek weereens nie
verbysteek nie. Toe ek ten einde laaste
'n kansie kry sit ek my flikkerlig aan en kyk in my spieël voordat ek my Sarel
van der Merwe skuif maak. Ek gooi amper
die bakkie om soos ek terug swenk om uit die pad te kom van ʼn BMW wat van agter
af verby gejaag kom. Ek gil so hard dat
Boetie uit sy MP3 beswyming ontwaak en Ma kwaai en bleek om die kiewe na my
laat staar. “DIE GOED RY SOOS HULLE GATTE MAN!”, sê ek vererg en bly
maar agter die ou vrugte trokkie. Gelukkig draai die trok 2 km later af Grabouw
toe en kan ek weer spoed optel.
Ek sit voet in die hoek en sleep vir die R43 afdraai na
Hermanus toe, maar sowaar as vet daar land ek sowaar agter ʼn Coke lorrie wat
seer sekerlik by die vrugte trok bestuurder lesse gekry het in lorrie dryf,
want selfs ʼn skilpad maak meer vordering as hy net sy kop uitsteek! Met die
reën is die sproei so erg agter die Coke lorrie ek kan nie eers sy nommerplaat
lees nie, wat nog van sien of daar verkeer van voor af kom. Hoe sê hulle? Hoe meer haas, hoe minder
wortels!
Nou weet ek verseker ons gaan nie betyds wees vir ontbyt
nie en die Hermanus trippie is klaar ʼn gemors. Ek moes dit geweet het en omgedraai het toe ek
die eerste keer wou, maar nou is dit te laat en ons is amper daar. Twee minute voor nege stop ek voor die
Johannesburgers se rondawel en die kommentaar so deur die gegroet is in die lyn
van: “Jy ken jou tyd nê?” “Julle is net betyds vir ontbyt!”, sê
Faantjie. “Jy weet mos my ou maat ek is nooit laat nie”, spog ek sonder
om te noem van die mis, trokke en padvarke langs die pad, so asof ek dit so
beplan het.
Tydens ontbyt besluit ons om Gansbaai toe te gaan vir die
dag. Dankie tog dink ek in my
stilligheid, ek is tog nie lus vir Hermanus se geskarrel en toeriste nie. Ons spring almal in Faantjie se nuwe Ford
Ranger, wat sy tweede vakansie in Hermanus kom hou het en ook nie meer so nuut
is nie. Ouder gewoonte ry Faantjie daai
bakkie soos ʼn Avis huurmotor, of soos ʼn polisie konstabel ʼn patrolliewa ry. So deur die ratte so hard hy kan met kinders
agterop. “Jy moet stadig Jan Bêrend
se windhond” maan Ma vir Faantjie skrikkerig aan, ... “onthou die
kinders agterop” en sy loer agtertoe om te kyk of Boetie en die kinders
oukei is. “Hulle moet vashou, hulle
weet mos ek speel nie” sê Faantjie skertsend.
Skaars uit Paradise Park, so 8 km buitekant Hermanus en
daar staan die verkeer. “Is daar ʼn
ongeluk?” vra Ma bekommerd en kyk onwillekeurig agter op die bak of Boetie
en die ander kinders nog lewendig is. “Nee,
dis maar Hermanus se daaglikse verkeer” sê Faantjie asof dit so moet wees. ʼn Sirene looi in die agtergrond en van agter
af kom ʼn ambulans ... “ek het darem gedink dit moet ʼn ongeluk wees ... ek
hoop nie iemand het seer gekry nie” sê Ma en kyk weer agter op die bakkie
of die kinders nog oukei is.
Faantjie en van die ander karre trek links af op die geel
streep om plek te maak vir die ambulans en ʼn ou antie, wat lyk soos 'n
treksprinkaan agter die stuurwiel, met ʼn klein blougrys karretjie dog ons maak
almal plek vir haar en sy stoot regs langs die karre verby gedetermineerd
Hermanus toe. “F@<<$n, Bl!<$mse ou F@<<$n, B!tch!!!” skel
Faantjie die vrou en mik met die Ranger se neus na die antie in die klein
karretjie ... “amper is sy na moer!”. “Die DONNERSE KAPENARE RY SOOS
HULLE GATTE!!!” gil Faantjie en druk die Ranger se neus verby al die karre
in sy gewone bedonderde Johannesburgse oorlewings en self preserverings
bestuurstyl.
Hermanus is ʼn prutpot van bedrywighede met voetgangers
wat voor die karre inloop en verwarde toeriste wat soos dronkies van die een
kant van die pad na die ander kant slinger om by winkels en restaurante uit te
kom. Ek vergaap my aan al die mense, hulle gewoontes en kleredrag en probeer
vasstel wat die aantrekkings krag of betowering is wat mense so na Hermanus
lok. Is dit die walvis bedrywighede, die Europese voorkoms, die klimaat ... of
is dit waar die wie’s wie van wie’s uithang?
Jong seuns loop sonder hemde en die jong meisies met
chiffon deurskynende bloesies oor hulle tweestuk bikini’s. Jy kan die besoekers
uitken aan hulle plakkies, skoene en “sneakers” , want die “locals”
dra nie skoene nie en hulle is maar skaars tussen die ooglopende uitlanders en
vakansiegangers uit al vier windrigtings en nege provinsies van die land. Daar
is selfs mense sovêr as Limpopo, Mpumalanga, Botswana en Suid-Wes of ekskuus
Namibië.
Ons laai die kinders af naby die esplanade met duidelik
veiligheids instruksies en leviete en vra hulle om dit oortuigend te herhaal,
sodat ons gemoedsrus kan hê. Ons stoot
aan deur die dik verkeer en raak net nog ʼn segment van die duisendpoot wat deur
die strate van Hermanus vleg.
Uit die dorp, rigting Gansbaai, maak Faantjie daai bakkie
se keel heel oop en verskeur daai Ford Ranger die vogtige lug voor hom vraatsig
oop. Die stuurwiel in Faantjie se hande is sy visier waarmee hy mik na die
volgend kar. Die petrol pedaal van die bakkie word die katrol, waarmee hy die
karre voor hom inkatrol tot teen aan die Ranger se neus. Dan lyk dit of hy daai
kar insluk, kou soos ʼn Rottweiler ʼn hoender verorber, en dan weer uitspoeg
langs die pad soos hy hom verby ja na die volgende kar in sy visier. En wanneer
hy vasval agter ʼn kar wat die ongetemde Ranger terughou, hoor jy Faantjie se
oorlogskreet: “DONNERSE KAPENARE!!
JULLE RY SOOS JULLE GATTE!!”
Veilig en verlig aangekom in Gansbaai lyk dit op die oog
af ook maar besig, maar daar is ʼn opmerklike rustigheid oor die bedrywighede.
Jy voel dadelik die kalmte van die mense en die omgewing.
Ek dink opgewonde terug na my kinderdae op Gansbaai saam
met my familie en veral my niggie Magda wat my in haar Citi Golf leer bestuur
het. En Nugget haar 'ginger' kêrel met die sproetgesig en deurmekaar hare en
hoe ons perd gery het op die strand.
Alhoewel die dorp bietjie uitgebrei het lyk dit nog net
dieselfde soos ek dit onthou meer as 30 jaar terug. Dit is dieselfde
vriendelike sout van die aarde mense en natuurlike ruwe en ongerepte skoonheid
met wit geboue en huise wat jou na die hawe nooi. Die hawe met die
visserskuite en bedrywighede en die
mengsel van unieke identifiseerbare reuke van vars vis, ou vis, visolie en
diesel, net soos daar by Laaiplek, St Helena Baai, Paternoster, Saldanha en
Lambertsbaai. Ja daar aan die Weskus!
Die Weskus wat so deel van my DNA geword het.
Faantjie soek ʼn ATM en ons jaag tussen die koördinate wat
die banke op die GPS aanwys en jy moet vinnig kyk of jy sien niks van die dorp
nie. Geld getrek en parkering gevind by die hawe wil die vrouens by die
winkeltjie op die hawe inloer vir iets snaaks, soos ʼn bokkom of twee of ʼn
vissie om te braai of ʼn sonhoed of sommer snoek biltong.
Ek merk ʼn paar jongetjies daar op die kaai wat besig is
om met handlyn vis te vang en stap nuuskierig nader. ʼn Paar ander nuuskierige en geïnteresseerde
manne staan alreeds vir hulle en dophou en die plaaslike latjies van die dorp
laat loop met hulle sêgoed. Hulle moet
mos wys waaroor dit nou eintlik gaan hier op Gansbaai.
“Vang julle harders?” vra ek onnosel. “Nueeee
oem ... musbankeghrs!!” “Wat maak julle met die Musbankers?” vra ek
weer onnosel. “Ons vang met hulle
kabeljou oem!!” sê die een mannetjie wat op ʼn druppel soos Fiela Komoetie
se hanskind, Benjamin lyk. “Waar vang julle die Kabeljou?” vra ʼn ander
man skielik baie geïnteresseerd. “Daaghr by Haiklup oem” sê Fiela se
kind. “Waar is Haaiklip?” vra die ou weer. “Daaghr by Fghranskghraaal
oem!” sê Fiela se kind met so groot frons op sy voorkop asof hy nie kan
verstaan hoe ons nie dit weet nie. “Nou vang julle met lewendige aas of sny
julle dit op” vra ʼn ander geïnteresseerde ou. “Nuee ... net so liewendig
oem” mompel Fiela se kind ...
“Ek vghries hulle oem, dit weghrk net so lekkeghr”
se ʼn ander mannetjie wat my aan 'n jonger Tommie Laubscher laat dink en op 'n
groot buiteband sit en visvang. Aan sy
effens gesette lyf kan 'n mens sien hy is nie so rats soos die ander wat op en
af op die groot buitebande (wat in die water aan kettings hang vir die skuite)
rondspring nie. Hy is ongetwyfeld die
laerskool eerstespan se vaskopstut en miskien sal hy ook eendag soos oorle
Tommie Laubscher vir die WP en die Bokke uitdraf. Sy onbeweeglikheid is seker ook hoekom hy sy
aas vries en eers later as hy weer krag het, eerder Steenbras vang wat nie so
kwaai terug baklei as hy aan die lyn is nie ... of so verstaan ek maar van die
ouens wat groot hengel praat.
Faantjie roep my en wys ek moet aankom ons moet jaag na
die volgende plek toe. Ons besoek die
Upper Deck waar ons ʼn doppie drink en die 'Baggghr Lady' se kêrel spontaan saam
met ons vir die “Facebook - Check In” foto staan en eis dan R12 of ʼn
bier vir sy dienste. Ons koop vir hom ʼn Black Label vir sy inisiatief, maar
eintlik om van sy lyf lastigheid verlos te word.
Ons gaan drink later ʼn paar doppe by die C-View Sports
Bar (sonder die sea view) en hier verkyk ek my aan die ‘locals’ wat op ʼn
Saterdag pool speel in die een hoek en hier vlak langs ons ʼn paar ouens wat
ernstige domininoes speel. Die domino
stukke word hard op die tafel neer geklap en iets onverstaanbaar word geskreeu
elke keer as hulle dit so klap asof dit die laaste spyker in die kis is, of die
doodskoot wat nou die wenner gaan aankondig, maar dan gaan die spel net
onverpoosd voort. “Wat gaan jy maak as die bul jou ja!?” skreeu die een
en klap dan ʼn dubbel ses op die tafel neer, loer dan uitdagend vir die ander en
wag vir hulle om ʼn 'move' te maak ... “nou gat jou bêk oephang soes ʼn gaghr
vis!” klap ʼn ander een sy domino op die tafel ... “vat só!” ... klap
'n ou met een tand links onder en twee regs bo in sy mond (hy herinner my aan
Knersus), die domino dat hy van die tafel af hop en doer trek tot by die kroeg
toonbank ... “Nee man!! Jy’s no so confused soos ʼn honger baba in ʼn topless
bar!!” skerts een en Knersus lag uit sy mag uit sodat jy die drie tande in
sy mond se wortels kan sien.
Die C-View Sports Bar is nie sommer watse Bar nie. Daar
is ʼn jong knaap van Moorreesburg met moderne klank toerusting op die klein
verhogie in die hoek en hy sing Steve Hofmeyr se Pampoen amper net so goed soos
Steve self. Net soos Steve ken hy elke
Neil Diamond 'song' en sing dit met entoesiasme en vol self vertroue. Nadat hy eers lank gepleit en goed om verskoning gevra en voorbrand gemaak het vir wat volgende
kom, sing hy “Die Blou Bul eet nie van die vloer af nie.....” opgedra
aan oom Piet wat die 'song' nou al van die vorige aand af knaend versoek.
Die C-View Sports Bar het ook twee kroeë. Een vir die
gewone bier, brandewyn en coke en wyn en 'n ander een net vir shooters. Daar is
afgesien van die pool tafels, die lewendige een man vertoning en die daaglikse
domino uitdaag reeks, ook dobbel slot masjiene so half weggesteek in die hoek
asof dit die onwettigheid daarvan regverdig ... maar daar is nie ʼn “sea view”
nie.
ʼn Bietjie later kom daar ʼn groepie van so ses of sewe
dames aan met een jongetjie met ʼn pers pruik en oordadige pers lipstiffie
aspris groter as haar mond om haar lippe geskilder. Dit is duidelik ʼn henne
partytjie en een van die ouer henne het besluit om die toekomstige bruid te
trakteer of eerder bloot te stel hier by die C-View Sports Bar. Die aanstaande
bruid wat soos ʼn pers Annie lyk, is ooglopend al reeds effe aangeklam en is
baie vriendelik. Sy het ʼn blikkie in haar hand waarmee sy geld bedel vir die wittebrood
of die eerste maand se inkopies of iets dergeliks en almal in die kroeg dra by
tot die liefdadigheid projek. Pers Annie voer die opdragte van die ander henne
foutloos en gehoorsaam uit en sluk alles wat die henne voor haar neersit met
minagtende gemak af.
Dan kom Annie nader hier na my en Faantjie se tafel toe
en vra vir Faantjie: “Sal oom asseblief met my dans? Oom is glad nie onder
enige verpligting nie en oom hoef nie met my te dans as oom nie wil nie, maar
as oom wil ... dan moet dit lang arm wees”. Faantjie staan swaar teen die
een been op. Hy trek sy kruk nader waarmee hy nou so swaar loop na sy groot
ongeluk vroeër in die jaar, vat met sy een hand vir Pers Annie om die lyf en
leen met sy ander hand op die kruk. En dan waggel hy en Pers Annie in die
rondte vir ʼn wals.
Die ander henne kekkel al te lekker en lag vir die hele
affêre en nou word daar foto’s van Pers Annie geneem vir die vale, want hulle
het nie verwag Faantjie sal ja sê nie. “Dankie oom”, sê Pers Annie, “oom
dans baie lekker ... soos ‘n pro”. Nou word Pers Annie gesleep na die
verhoog toe en sing sy uit volle bors saam met Moorreesburg Steve “... dis
net ʼn vrot pampoen en ʼn stukkende skoen en ʼn trekker wat se tyre lêk ...”
en later groet die klomp henne op pad na die volgende uitdaging vir Pers Annie,
nou bietjie minder vas op haar voete.
Ons besoek aan Gansbaai het tot ʼn einde gekom en ons moet
terugkom by Paradise Park om seker te maak die kinders is oukei. Hulle het
inisiatief aan die dag gelê en ‘n Tuc-Tuc gevang om hulle terug te vat kamp
toe. Ek is heilig oortuig daarvan dat hulle niks sal oorkom nie, maar Ma is nou
ongemaklik en soek nou “proof of life”.
Faantjie is weer agter die visiere en mik-mik vir die
karre tot by die kamp en elke nou en dan hoor jy sy oorlogskreet: ... “DONNERSE
KAPENARE!! JULLE RY SOOS JULLE GATTE!!”.
Terwyl ons so aan die jaag op pad terug kamp toe is, dink
ek onwillekeurig terug aan Pers Annie. Die eensame hennetjie saam met moeder
hen, skoonmoeder hen en hulle henne vriendinne. Almal bo 40 behalwe vir
skoonsuster hen en niemand anders nie. Waar is Pers Annie se henne vriendinne
dan? Ek hoop maar vir haar onthalwe dat haar vriendinne vir haar later ʼn
ordentlike henne partytjie sal hou.
Later die aand sit ons by die pragtige Bientang's Cave
restaurant op die rotse van Hermanus, teen die see met sy asemrowende uitkyk
oor die baai en sy eksotiese atmosfeer. Rondom my hoor ek die vreemde tale van uitlanders wat
aansit vir vars seekos en ek is in vervoering terwyl ek so oor die majestueuse waters
uit staar. In die verte kan ek Gansbaai se liggies sien. Gansbaai waarna die
mense stroom om Shark Cage Diving te doen of om Walvisse van nader te bekyk. Om
die natuurlike paradys tussen die berge en die see se vars lug in te asem of om
die dosyne staproetes tussen die fynbos of op die lang wit strande te stap.
Vir my gaan Gansbaai net soos al die ander klein kus
dorpies oor sy mense en hulle dinge. Oor Fiela se kind en sy vriende wat
visvang daar in die hawe; die entrepreneur wat instaan vir ʼn foto vir ’n Black
Label; die domino konings en Knersus daar by C-View Sports Bar; Moorreesburg
Steve en Pers Annie. Dit is mos wat vir Gansbaai lekker maak.
Die volgende oggend ry ons die skilderagtige roete oor
Kleinmond, Betty's Baai en Rooi Els. Boetie en Ma slaap op pad huis toe en ek
is afhanklik van my eie denke en verbeelding. Ek dink weer aan al die karakters
en mense van Gansbaai met hulle eenvoudige visserman bestaan en leefstyl. Die
uitgestrekte skoonheid teen die see en kus met sy heerlike en soms onaangename,
maar verwelkomende en ongeëwenaarde reuke. Sy pragtige skepping en ongerepte
natuur. Ek het altyd gewonder van wie Worsie Visser sing in daai liedjie van
Gansbaai, maar nou weet ek wie maak vir Gansbaai lekker!