Glansplasing

Sosiale of Fatale Kommunikasie

Die hele wêreld is op sy op sy kop .... onderstebo .... holderstebolder .... van die pad af .... en omgedop. Niemand praat meer ordentlike met mekaar nie! Dis ʼn afjak hier, ʼn kort opsomming daar, die stilmaak van ander om jou eie storie eers te vertel .... en dan word die storie in kernwoorde vinnig saamgevat en in “shorthand” oorvertel .... met geen punte, deeltekens, kommas, hoof- en kleinletters, diftonge of korrekte uitspraak nie .... of is so omslagtig en omsamehangend dat jy die draad van die storie al in Potchefstroom verloor het en net duskant Williston weer probeer sin maak van alles. Elke ou dink sy/haar storie is die interessantste of belangrikste.
Indien jy in die tyd van die groot depressie of in die tyd toe alle mans nog verpligte diensplig moes doen (weermag diens vir die wat na 1994 gebore is) en jy goed gemanierd grootgeword en opgevoed is om ander in die oë kyk terwyl hulle praat, sien jy sommer die intensiteit waarmee die mallemeule storie vertel word. Die geweldige angs en vrees dat hy/sy nie die storie kan klaar vertel voordat die lewe (die belangrike insetsel op die TV, die kort geheue van ander, ʼn belangrike SMS of ʼn baie belangrike afspraak) jou in die rede gaan val. Mense praat vinniger, harder, meer intens en onverstaanbaar. Dis nie meer ʼn gesprek nie .... dis ʼn strategiese skynaanval met ʼn bemeesterde lokval van sarkasme, manipulasie en ʼn wetenskap van sosiale beïnvloeding. ʼn Gesprek het nou verander in ʼn interpersoonlike kommunikasie oorlewingstrategie om ander van jou opinie te oorreed. ʼn Psigologiese manipulasie of  tipe invloed wat poog om ʼn ander se gedrag en persepsie deur fyn beplande breinspoeling te manipuleer.
Rêrig?! .... so erg?! .... Wat het gebeur? Is dit die vinnige gejaag na niks .... die kakkerlak resies na wonings, besittings, behoeftes en gekhede .... of is dit die nuwerwetse kommunikasie middels, style en talente .... of die ontploffing van selfone, tablette (nie die antibiotiese soort nie) en rekenaars wat gepaardgaan met al die sosiale netwerk moontlikhede? Kom ons wees nou maar eerlik, daar is so veel seepkiste om van te kies .... amper so veel as goedkoop Chinese produkte by ʼn vlooimark. Daar is Mxit, Twitter, Yammer, Facebook, Instagram, WhatsApp, BBM, Linkedin, Google+, MySpot, ePals, MySpace, flickr en wat-nog (laasgenoemde nie ingesluit nie). Hier kan jy oneindig baie deel ..... opgewondenheid, aankondigings, plesier, vreugde, prestasies, griewe, protes, besware, kwale, versteurings, kritiek, planne, idees, voorstelle, verhoudings, kennisse, assosiasies, stories, poetsbakkerry, grappies, kaskenades en vele meer. Ek is oortuig daarvan dat hierdie vryheid van spraak en vokale beweging oor grense en openbare sosiale podium wat nie voorheen bestaan het nie het mense baie meer waaghalsig en roekeloos maak. Ons het nou kuber boelies geword en skinder is nou baie erger.  Almal kan nou jou opinie sien, selfs mense wat jou nie ken nie en aan die ander kant van die wêreld woon, kan daarby betrek word. Waar dit begin het by ʼn opinie of iets wat jou pla eindig dit nou op in ʼn openbare debat waarby almal betrek word en waarop hulle ook kommentaar kan lewer .... en dit .... in my opinie .... maak mense paranoïes.
Hierdie paranoia is egter erger as bokkoors of die vrees vir groente.... jy begin dink dit onderdruk en krimp jou kreatiwiteit en jy sweer dit kweek sosialistiese ideologieë wat kan lei tot apokaliptiese gevolge.  Jy glo dat dit jou opinies, belangstellings, norms en waardes beïnvloed .... en daar lê die probleem. Op sosiale netwerke kan jy sê net wat jy wil sonder dat iemand jou in die rede val, mense kan nie jou lyftaal, gesigsuitdrukking (of afwesigheid daarvan) of reaksie sien nie en enige opinie of kommentaar is oop vir interpretasie en as jy nie saam stem met ʼn opinie of kommentaar nie .... woerts-warts .... “delete friend”, “unfollow” of “Bar profile”. Die internet is een groot gemeenskap, dit is soos ʼn hoërskool met sy groepies van rugby jocks, nerds, slimkoppe, rokers, gamers en Dexter of "Silence of the lamb" tipes.
Status: “It is during our darkest moments that we must focus to see the light - Aristotle Onassis” sê Willem op Facebook. Daar is 22 likes en 4 mense wat kommentaar lewer oor hoe sterk ʼn ou moet staan, hoeveel vriende jy in moeilike tye het ..... en 2 verwar focus met fotografie en laat hulle uit oor die belangrikheid van sluiterspoed en beligting. Twee dae later pos Willem ʼn Bybel versie en niemand sê niks .... dieselfde middag lees Willem se status soos volg: “ Ek is nou so kwaad ek kan my agterent met ʼn pofadder afvee ..... as een ou nou weer die @#$%^ bal aanslaan blaas ek my top!!!!”.... Daar 126 “likes” en soveel “comments” Willem se selfoon vries in so ʼn mate dat hy dit moet “reboot”. Met die eerste asem wat sy selfoon intuig pos Willem op Twitter soos volg: #crapphones @blouwillemvanpretoria - vandag gooi ek hierdie foon dat hy trek!!!! Die volgende dag (Sondag) pos Willem 3 Bybel versies en ʼn "status update": “Aim at heaven and you will get earth thrown in. Aim at earth and you get neither - C. S. Lewis” .... niemand sê niks. Intussen het Willem 3 resepte, twee video’s (een van ʼn kat wat klavier speel op die maat van ʼn kraan wat drup en een van ʼn twee jarige kind wat ʼn trekklavier met sy tone agter sy rug speel), ʼn prentjie van mej. Kyrgyzstan in net ʼn G-string en lugwaardin wat 'n skemerkelkie op Air MayBe bedien .... en Gawie se nuutste foto’s van sy Italiaanse vakansie saam met sy onderklere model meisie (gelukkige bliksem!) en 28 nuwe “friend requests”. 
Die eerste drie dae van die opvolgende week mis Willem 8 afsprake, 2 “deadlines” en sy dogter se voorlees van NP Van Wyk Louw se Ballade van die bose by die kunswedstryd .... want tussen facebook, Twitter, ʼn “profile update” op LinkedIn en SuperBru kon Willem nie tyd kry vir alles nie .... en toe sy vrou hom heel onskuldig vra .... “het jy melk en brood gekry my lief?” .... vlieg Willem haar van ʼn kant af in en verduidelik in mooi en duidelike verstaanbare Afrikaans en met gebare wat lyk of hy verkeer aanwys, hoe belangrik en kosbaar tyd en die bestuur daarvan is. Die een-man debat duur langer as wat 7de laan al op die TV is en Willem word net al hoe kwater. Ma het al lankal kos gemaak en bedien en skottelgoed gewas, sussie se huiswerk help doen, klere vir die volgende dag gestryk, kosblikke met toebroodjies, gesonde vrugte en ʼn lekkerny vir Lientjie ingepak (wat so tussen hakies A++ goud vir Ballade van die bose by kuswedstryd verwerf het) en is al besig om haar voorlegging vir môre se belangrike vergadering op haar skootrekenaar te finaliseer .... en intussen het sy ook haar BBM status ge-”update”, die selfde 3 resepte ge-”copy & paste” na haar rekenaar toe en 18 “friend requests” aanvaar.... hulle noem dit blykbaar “multitasking”.  
Die probleem is heel eenvoudig .... ons braai nie genoeg nie! Daar is geen beter sosiale interaktiewe platform as ʼn braai nie. Brood breek met braai broodjies en lekker karoo skaap ribbetjies op ʼn oop vuur, met regte hout, is so terapeuties soos ʼn 4-in-1 spa. Die reuk van rooikrans, skaapvet en boerewors is mos so sinoniem met ons boere as geliefde tydverdryf soos beurt-krag en ESKOM .... daai toon-krul  plesier van siep-sop-bek-brand-lekkerte. Watter ander kosmaak proses het ‘n nasionale vakansiedag .... behalwe nasionale braai dag? Hier word opinies gelig, die nuutste nuus, huisgenoot staaltjies en rubrieke, rugby, politiek, ekonomie, dokumentêre insetsels, sosiale aanvaarbare gedrag en statusse, moets-en-moenies, litigasie, belasting skuiwergate en slaggate, resepte, geloofsoortuigings en die nuutste tegnologiese prestasies en produkte  word bespreek. Die gebruik van sonde sap maak die bekke gladder, mense slimmer en mooier en kilojoules is vir eers iets van die verlede soos chips gedip word en biltong en droë wors gedors word. Die vleis bly rou en die mense raak gaar .... totdat een se selfoon lui en ʼn ander ʼn nat kol met sy snoet op sy nuwe slimfoon druk om sy “status updates” te lees en die vrouens ook nou al foto’s onder mekaar begin “bluetooth”, “post” en “share”. Ons moet meer braai .... maar sonder selfone .... en as jy iets moet “post” of “update” en internet moet gebruik, wees maar gewaarsku en versigtig .... en as jy nie bereid is om dit wat jy kwytraak vir jou ma in haar gesig te sê nie .... is dit nie geskik vir ʼn sosiale netwerk nie!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking