Glansplasing

Langnaweek, kort nagmerrie of hemel op aarde?

So wil ons mos toe af suiker na die Weskus toe vir die langnaweek vir ʼn bietjie rus, vars lug en die prag en praal van die Weskus blomme skouspel. Ma is al klaar opgewerk want sy weet nie of ons alles gevat het wat op haar lysie is nie - nou al so lank soos al die nuwe wetgewing wat inwerking getree sedert die utopiese demokrasie vanaf 1994 - en die die lysie kan sy nêrens vind nie. Boetie lyk ook maar bietjie af, want wat moet hy nou aan die Weskus gaan doen en daar is nie eers Playstation nie, die pad is lank en vervelig, ouboet is by sy meisie in Johannesburg en ons wag dan nou al meer as ʼn halfuur vir ma buite by die bakkie .... nou staan hy maar daar gedwee soos ʼn delwersdonkie. Ek is moerig want ek wou al die Vrydag gery het, maar ma wou eers wasgoed was en ons twee honde (soos tant Minnie se hond van die Ben & Babsie familie) agter in die bakkie kan nie hulle lê kry nie. Hulle lyk of hulle Duracell batterye gevreet het .... of soos daai opwen hondjies wat jy by OR Tambo sien hop-hop .... en elke venster van die bakkie word blindweg bestorm en die bagasie word ongeërg vertrap om by die vensters uit te kom om te kyk waar ma is.

Net buite die ingang van ons nuwe dorpshuis (met soveel ou mense soos in die warmwater swembad in Bela-Bela op ʼn naweek, wat op en af loop om te kyk watse nuwe gebeure hulle oor kan kla en skinder) skreeu ma ons moet stop en omdraai .... sy het ouma se lostoringmessie vir die naaldwerk en voorskootrokke vergeet. Bid jou aan .... reeds twee ure laat en ek moet nog die Flymo wat ek vir my broer gegee het se “spares” gaan optel wat my pa nou al weke oor karring en wat ek net na agt wou optel .... met my geluk is die plek toe vir die langnaweek (soms is die lewe mos soos n kakkerlak … meer k@k as luck!) .... en nou moet ek omdraai vir ʼn R5 se lostorringmessie.

Dis nou al na tien en die honde kom nie tot ruste nie, ma en boetie is aanmekaar, albei het iets baie belangriks om te vertel. By die garage groet die pompjoggie my vriendelik, maar die pinshers kef so ek kan hom skaars hoor. Ma gee een gil vir die honde, maar dit moedig hulle net meer aan en die joggie lag en skud net sy kop vir die entoesiastiese mensevreters. Klaar volgemaak kla ek by ma oor hoe die diesel met meer as 200% opgegaan het vandat ek die bakkie gekoop het. “Besef jy vrou dat dit my nou net soveel kos om die bakkie vol te maak as wat my eerste premie op my kar my per maand gekos het” sê ek asof die regering my gaan hoor en jammer kry. Ek vlieg sommer die hel in daar weg en jaag oop en toe na Mowers vir die grassnyer se parte. Met “flymo spare parts”, lostorringmessie gewapen, keffende honde, boetie wat die agterbeen van ‘n donkie afpraat en ma wat geduldig na hom luister sny ek na die N7 .... ek wil nog blomme langs die pad kyk voor die son verdwyn.

So twintig minute op die pad en net voor Malmesbury slaap boetie al en ma het intussen ‘n oproep van tannie Susan gekry en nou praat hulle dik stukke. Ek probeer die gesprek volg, maar ek is meer verward as ‘n bergie onder huisarres. Ek begin die pad indrink en word betower deur die groen en goud van graan en canola velde, die pragtige skoon blou lug en die vars reuk van mooi wintersdae in die Kaapse platteland laat my weer jonk en lus vir die lewe voel. Ons is sommer gou-gou by Malmesbury verby en ek verminder spoed by die afdraai na Hopefield. Die honde is alweer op en onrustig want hulle dink ons gaan stop, boetie kyk net vinnig of ons al daar is en lyk of hy ystervarke kan vang, maar gaan lê dan weer. Mark Pilgrim se stem begin nou wegraak en die Saterdag "Top 40 countdown” is ook nou net ‘n grrrr van geraas en met die opvangs wat verdwyn sit ek die radio af. 

Die radio se tweng-tweng, pang-pang en etjoing-tjoing laat net ‘n vae gesuis in my kop en ‘n verwelkomende stilte heers in die bakkie en vir die eerste keer klim ek vir ‘n slag uit die streskas. Ma staar verlangend by die venster uit en dink seker aan daardie ryk plaasboer wat sy iewers gemis het of miskien aan wat ouboet nou in Johannesburg doen. Die pyne in my heup, knie, arm en elmboog van die trekkery Kaap toe verdwyn stadig en ek begin gemaklik in my sitplek agter die stuurwiel inskuif. Plek-plek sien ons sulke blertse blomme en ek herinner myself aan die tweet van ou Steve Hofmeyer wat DJ Opperman so aanhaal: “Op die groot saaidag van die heelal het reeds ‘n entjie duskant Wuppertal oor die kaal Noordweste ‘n sakkie van die Heer se beste saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval ..."

So tien kilometer voor ons bestemming sien ek ma begin ongerieflik rondskuif en vra: “By wie gaan ons eerste om?” ... daai vraag wat beide van ons nou al dae soos kool vermy .... daai vraag wat die werklikheid van ‘n naweek by familie met sy ongemaklike waarhede en die besef dat die rus waarna jy kamstig uitgesien het en vir jouself oor gejok het nou jou bubble bars. Die eerste gedagte wat opkom is .... pasop vir jou groottoon, hy hou van stamp! Wat dit vererger is dat dit die hele familie is .... ma, pa, broers, skoonouers, skoonsusters, swaers, hulle kinders en hulle kinders, vriende van die familie en dan nog die res van die dorp wat nie van in-kommers of oor-die-brug-kommers hou nie. Daai wat sê “Gautengers of Venters lê witpens op Kampsbaai se strand” .... of .... “wat weet valies van vis, snoek en bokkoms, laat hulle terug gaan na hulle slaggate, blikbreine en fancy 4X4’s” .... en al is ma van Lambertsbaai en kom ons al meer as 20 jaar aan wal en het ons die GP nommerplate veeruil vir CFP nommers, word ons nog steeds beskou as in-kommers.

Ons eerste stop is by die vrou se familie en die res van die naweek daarna is net ‘n blur .... ‘n flits soos ‘n spotprentjie in die movies wat fast forward of rewind. Net ‘n herinnering van stembande wat om my ore rek; mense wat gelyk praat en nie wil luister nie; ‘n vloermoer wat gegooi is; ‘n geknor van iemand soos ‘n muishond met ‘n seer bal; ‘n blerrie tweegesig wat blaf met die honde en huil met die wolwe, ‘n gelag, kos wat wat vir Jan Raap en Skraap kan voer, ‘n vinnige draai by die see en mense wat jou sommer nou vertel wat moet bo dryf. Ek kan nie eers onthou of ek by die hawe omgery het en na die trolskuite gaan kyk het nie. Daar was nie tyd vir visvang, voëls kyk of bietjie stil sit by die see nie. Maar nou ja soos hulle sê: “daar waar bloed nie kan kruip nie, loop dit” .... familie bly familie.

Sondagmiddag was die plan om vroeg te ry en deur die Weskus Nasionale Park ‘n draai te maak om die blomme te kyk, maar teen die prys duurder as skaapvleis per kilo per persoon en met die son wat weg is, besluit ek maar om net die “scenic route” deur Darling te ry. Ek dink terug aan die gesprek met ‘n kollega voor die naweek wat wou weet of ons weggaan vir die naweek en toe ek vir hom sê ons gaan Weskus toe om blomme te kyk was sy reaksie net: “ .... that’s the gayest thing I have ever heard ....”. Wat weet hy nou, hy ondersteun after all die Kings! Die pad is nie meer so opwindend nie, die bietjie blomme nie meer so mooi nie en elke kilo voel soos tien. Met die inry by Darling sê ma sy is dors en Boetie beaam dit luidrugtig. Ek stop vir ‘n koeldrank, die honde begin hulle skynaanval weer van voor af, ma gil weer op hulle en die aanval is nou eers op dreef. Verby Evita se perron het Darling ook nou sy bekoring verloor en klim ek stadig terug in die streskas, my heup, knie en elmboog se pyn is skielik terug en ek wonder waar is daardie nostalgiese gedagte van die Weskus.

Daardie plek wat vir die oog miskien nie die mooiste plek is vir mense wat net daarlangs haastig verby ry nie, of stadsjapies wat permanent in hulle Blackberry, iPhone of Samsung Galaxy se donkerte instaar .... maar was jy al op Aurora ? Weet jy van Redelinghuys op die rand van Verlorenvlei naby Elandsbaai? Het jy al daardie vis reuk van die Weskus ervaar en gedroogte bokkoms langs die pas sien hang .... of op Moerie se baai net verby Jacobsbaai met ‘n hoepel-net uit die see kreef gevang en net daar gaar gemaak. Het jy al die sandduin by Tietiesbaai uitgehardloop, vars snoek en skuifies by Paternoster geëet of in Bokkomlaan se winkeltjies ingegaan met hulle skerpsinnige eienaars of net daar teen die pelikane gaan staan. 


Het jy al die lekkerste burger by St. Helena Hotel geëet terwyl jy ‘n koue bier drink en oor die baai staar of die grondpad tussen Paternoster en Agterbaai tussen die beesplase getrotseer of afgedraai tot by Trekoskraal, waar jy die mooiste blou see kan sien sonder mense en met ongerepte natuur en geen plek vir gekommersialiseerde parke, winkels, gastehuise of karavaan staanplekke nie. Of jy nou in die poele loop opsoek na seesterre en tussen die blouskulpe staan of op die rotse klouter by die Tietiesbaai en of jy nou tussen die helder bootjies van die vissermanne wat daagliks in die deinings stoei op soek na vis en kreef op Paternoster staan, hierdie is ‘n plek waar jou siel kan rus. Ry bietjie na Lambertsbaai kuslangs na plekke wat jy nog net van gehoor het, Dwarskersbos met sy strand so wyd soos die Here se genade, Rocherpan met sy kleurryke voëls (wat ek bieg ek wil nog besoek en nie net verby ry nie), Elandsbaai, Ventersklip, Leipoldtville tot in Lambertsbaai by die Muisbosskerm verby.

Ek wag vir die veiligheidshek om oop te maak by die huis in ons nuwe kompleks, dit maak ekstra stadig oop, die 50 meter na die houtdeure van die motorhuis wat sigbaar is van die hek af voel lank en swaar. Ek pak die bakkie maar moek-moek uit en al my pyne is weer van voor af terug. Die honde is al hees gekef en my kop is seer. Ma begin dadelik werk aan ons leë mae en baklei in die kombuis met die potte en panne. Boetie is so bly om sy Playstation te sien en begin sommer dadelik tokkel aan sy kitaar en ek hoor so vaagweg “Stairway to Heaven” deur sluip. Ma rebelleer oor die naweek se gebeure want sy het die hele pad terug tyd gehad om te herkou oor die verloop van sake. Sy maak streng kapsie teen enige besoeke aan enige plek noord van die Bergrivier in die nabye toekoms .... en van aftree daar moet ek maar vergeet. 

Maar laat ek jou vertel een naweek alleen saam met ma op Jacobsbaai, wanneer die son sy mooiste rooi-oranje-geel wys net voor hy na nege in die aand sy kop in die see wegsteek oor die bekoorlike baai en die reuk van rooikrans vure jou hipnotiseer en wanneer jy jou siel met jou kan hoor praat .... dan weet jy waar en wat die Weskus is. Ons stukkie hemel tussen Yzerfontein en Strandfontein ... daar waar ek elke keer van vooraf lief raak vir ma ....

.... my Weskus nooi!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking