Jou jakkals, jy dink jy is beter as ander
Gulsig vir aandag wat almal negatief verander
Glo alles kom jou toe en dat jy alles verdien
Listige geveinsde ondier, ek kan deur jou sien
Jou gedurige beledigende manipulasie
Om jou kloue in te slaan op ander of die situasie
Soos ‘n Hiëna, berekend, maar onverstandig
Maak jy die mense om jou doelbewus vyandig
Sonder grense of respek en tot jy eie vermaak
Boelie jy almal uit vrees vir weerwraak
Jy voel magtig as jy sien jy kan iemand beheer
Om hulle tot jou voordeel te manipuleer
Jy is die slang wat jou emosionele gif versprei
Spoeg beskuldigings om jóú tafel voor te berei
Met jou gevurkte tong doen jy jou aanbeveling
Die plan is net verdere onderlinge verdeling
As iemand jou planne en aksies wil aanspreek
Seil jy ongedeerd weg om jouself te versteek
Met jou skerpioen knypers beklemtoon jou selfsug
Jou gebrek aan empatie kan gevoelens verwurg
Nimmer apologeties en sonder enige berou
Sal jy jou aantygings aan ander toesnou
Jy raak gou die slagoffer as jy kwesbaar is
Jou gifangel reg om jou onderduimsheid te beslis
Jy het my lank onseker en onbekwaam laat voel
En jou mond maklik oor almal se foute uitgespoel
Vir ‘n lang tyd het jy my geluk probeer steel
Net om jou enorme ego te streel
My laat twyfel oor my kwansuise onvermoë
Sodat jy beter kan voel oor jou eie misnoeë
Jy het gedobbel met my etiek en integriteit
Om jou eie agenda opwaarts te bepleit
Jare se harde werk en ervaring probeer stuit
My loopbaan by die venster uitgesmyt
Jy het my magteloos en ondergeskik laat voel
My selfvertroue met jou gif en leuens oorspoel
Maar tot hier toe en nie verder nie my ou maat
Vir te lank het ek jou optrede toegelaat
My oë het oopgegaan en my die lig laat sien
Ek weier om jou verder met lojaliteit te dien
Om onder ‘n narsissistiese egoïs te werk
Is hoegenaamd nie die moeite werd
∞