Chevron Belyning (W1-8) tekens word gebruik om
addisionele klem en leiding te gee vir 'n verandering in die horisontale
opstelling van die ryvlak.
Stil en rustig op ‘n Saterdagmiddag sit Sersant Fires en
teug aan ‘n koue Black Label, of ‘n Soweto Pepsi soos hy dit noem, terwyl hy sy
pakkie Chesterfield voor hom rondskuif op die kroegtoonbank en sy BIC sigaret
aansteker tussen sy duim en middel vinger draai en draai en draai. Hy staar na die TV agter die toonbank, maar
staar dieper in sy eie verlorenheid in verby dit wat daar uitgesaai word.
Die polisie kantien is maar leeg op Saterdae, wanneer al
die kaserne inwoners óf huis toe is óf saam met hulle meisies die naweek elders
gaan geniet het. Net Sersant Fires is
elke Saterdag klokslag 12:00 na middagete in die eetsaal en daarna in die
kantien totdat dit weer vyfuur toemaak.
So nou en dan sal iemand vinnig inloer en ‘n bier drink,
groet en dan weer aan beweeg, maar geen gereelde kliënte is daar op Saterdae in
die kantien nie. Soms, maar bitter min,
sal die diens offisier inloer, net om om sy gesag en onsekerheid aan almal ten
toon te stel, maar bly nie vir iets te drinke of geselskap nie. In ieder geval is dit ongehoord vir
onder-offisiere en offisiere om saam te drink en beide het hulle eie watergate,
sommer regs langs mekaar met slegs ‘n hout paneel in die selfde lokaal wat die “kaf”
van die koring skei.
Op die betrokke Saterdag kom daar toe wel ‘n offisier by
die onder-offisiers kantien in, maar nie ‘n Luitenant of Kaptein wat gewoonlik
die diens offisier is nie, maar ‘n Brigadier.
‘n Brigadier sien mens nooit nie en hulle is mos so tussen die hemel en
die aarde, met permissies gesê, net so onder Liewe Jesus. Hierdie klas rang kom net voor as daar GROOT
moeilikheid of media toesprake is.
Hierdie was ook nie sommer enige Brigadier nie. Nee dit was Brigadier Fűchter,
‘n selferkende ateïs wat per geleentheid vir die Kapelaan tydens gebed in die
rede geval het en gemaan het: “Kon nou dominee, bid klaar, daar is werk wat
gedoen moet word!”.
Brigadier Fűchter was die area Kommissaris en vir hom was
almal so bang soos die houtjie van galg self.
Sy bedonnerde frons op sy voorkop en vuurvreter oë het jou met bewende angs
gevul en menige lede het om op ‘n afstand vermy.
Daar word vertel dat by geleentheid ‘n Sersant sonder ‘n
pet op sy kop die Brigadier van vooraf sien aankom het en weggehardloop het en
hom in sy kamer gaan toesluit het uit vrees vir sy toorn en ‘n moontlike “peg” of
dissiplinêre verhoor.
Met sy inkoms in die kantien het die kroegman, ou Rooies,
amper beswyk en spring op aandag en salueer die Brigadier. Brig. Fűchter reageer met ‘n donderweer brul
en trap vir ou Rooies uit omdat hy in sivies sonder hoofbedekking ‘n offisier
salueer en kyk stuurs na Sers. Fires in die hoek.
Sers. Fires sit kalm, onbevrees met geen uitdrukking op
sy gesig op sy kroegstoel en strek sy arms voor hom uit op die toonbank met vuiste
voor hom op die toonbank soos te betaam word om ‘n offisier te strek as jy
sittend is na ure.
“Middag Fires” sê die brigadier en plak hom in die
teenoorgestelde hoek by die deur op ‘n kroegstoel neer. “Middag Brigadier” antwoord Sers.
Fires terug. “Gee daar vir my ‘n dubbel
Whisky op ys!” bulder die Brigadier na ou Rooies. Ou Rooies kyk onderlangs met verbasing na die
sersant en Fires knik met sy kop asof hy vir Rooies toestemming gee om die
drankie vir die Brigadier te bedien.
Die volgende uur drink beide die brigadier en sersant
teug-teug aan hulle drankies en staar doelloos na die TV terwyl ou Rooies met
sy arms gevou teen die agterste toonbank leun en die spektakel aanskou.
Na die ongemaklike uur verby is, maak Brig. Fűchter die
eerste skuif. “So wat maak julle manne
so op ‘n naweek alleen hier in die kaserne?” “Hoe bedoel Brigadier nou?” vra ou
Rooies op aandag. “Dit is nie ‘n
strikvraag nie Rooies en jy kan maar ontspan” sê die brigadier kalm en met
‘n effe persoonlikheid vir ‘n slag. “Nee
ons is maar verveeld hier in die barracks Brigadier, so ons eet en slaap en kyk
maar TV” antwoord ou Rooies. “Nou
waar kom jy vandaan ou Rooies?” vra die brigadier belangstellend. “Ek kom mos van Kakamas af Brigadier..”
so asof die brigadier dit nou moes weet.
Intussen sit Sers. Fires nog en teug en staar daar in sy
hoek en toon geen teken van belangstelling in die gesprek nie. “En hoe behandel die lewe jou Fires?” vra die Brigadier. “Brigadier weet mos” antwoord Fires
stomp. “Ja. Ja Fires ek weet dit,
maar wat doen jy met jouself oor naweke en na ure hier alleen?”. “Ek hou myself maar besig Brigadier”
antwoord Fires ontwykend. “Ok Fires,
ek kan sien jy is jou vriendelike self soos altyd” en gaan voort met sy doellose gesprek met ou
Rooies wat gehoorsaam saampraat en antwoord en wonder hoekom die Brigadier nou
vandag hier sit en gesels en hoekom hy nie in die offisiers kantien kuier nie.
Maar niemand durf hom vra nie en niemand sal ook weet nie, net bespiegel.
Op die kop 17:00 roep ou Rooies “last round” en is
klaar bevrees omdat hy dalk amper te laat is en die Brigadier juis hier is om
hom te toets, maar die Brigadier skreeu dadelik: “Is jy befok!? ... ek sê wanneer jy
toemaak en in elk geval begin die rugby game nou en ek wil eers die game klaar
kyk!”. Ou Rooies kyk angs bevange na
Sers. Fires, wat weer net knik vir die nodige toestemming en vertroosting en ‘n
effense grynslag is amper te bespeur op sy bakkies.
Sers Fires sit onverpoos in sy hoek en grynslag vir die petalje
wat voor hom afspeel en bestel sy laaste Soweto Pepsi, want hy weet hier kom
moeilikheid. Die “gevaarlike” en kwaai
ou man wat almal so bang voor is, sit nou hier in die onder-offisiers kantien en
gil en skreeu vir die TV en die spelers op die veld soos enige ander ou op ‘n
Saterdag en na elke drie vir sy span beveel hy ou rooies om ‘n ronde vir almal
te gooi. Later hang ou Rooies soos ‘n nat vadoek oor die brigadier se skouer en
moedig die spelers op die veld jubelend aan.
Na afloop van die rugby en na vele sopies vir die
brigadier en ou Rooies laat weet die tap meester die kantien is nou toe.
Slingerend loop tap meester en kwaai brigadier hand om die lyf die gang af verby
die eetkamer tot in die parkeer area, waar die twee nuwe drinkers broers afskeid
neem. Ou Rooies is op na sy kamer toe in
die kaserne en Brig. Fűchter na sy staatsvoertuig in die parkeer area met Sers.
Fires kort op sy hakke. Sonder om om te
kyk, mompel hy na die sersant, “sal jy weer agter my aanry huis toe ou Fires
en net seker maak ek raak nie die pad byster nie?”. “Ek maak so Brigadier, weer
net tot by die grootpad of tot by die huis hierdie keer?”. “Tot by die huis asseblief
ou Fires” laat weet die brigadier. “Reg so Brigadier” antwoord Fires.
Die brigadier ry netjies by die polisie terrein uit en in
die donkerte in op die pad uit na die hoofpad. “Hy ry nogal mooi en reguit
vir ‘n ou wat nie eers reguit kan loop nie dink Sers Fires so vir homself. By
die T-aansluiting sit die brigadier soos gewoonlik sy flikkerlig aan om regs te
draai, maar swaai net effe regs en ry reguit in die veld in langs die chevron
teken verby waar hy in ‘n stofwolk tot stilstand kom. Sers. Fires stop langs
die pad aan die oorkant van die pad en hardloop na die brigadier se kar toe om
te kyk of hy OK is.
“Wat de donner doen Brigadier!” skreeu Fires op
die brigadier. “Ek weet nie ou Fires, ek wou net die bus voor my verbygaan
en toe land ek hier in die veld? “ Dit is nie ‘n bliksemse bus nie
Brigadier, dis ‘n chevron teken wat al jare hier staan!” gil Sers Fires op
die brigadier. “Jy moet my maar huistoe neem ou Fires, maar ek ry nie in jou
klein Golfie nie, ons moet met my kar ry.
Jy kan hom môre na kerk weer vir my terug bring.” “Brigadier,
vanaand ry jy in style in my kar en jy hou jou bêk” blaf Fires braaf terug
na die brigadier. “Môre het hy kamstig alles vergeet en is weersy ou bedonderde
self” dink Sers Fires.