Glansplasing

Die Ontwykende Bus

 Chevron Belyning (W1-8) tekens word gebruik om addisionele klem en leiding te gee vir 'n verandering in die horisontale opstelling van die ryvlak.

Stil en rustig op ‘n Saterdagmiddag sit Sersant Fires en teug aan ‘n koue Black Label, of ‘n Soweto Pepsi soos hy dit noem, terwyl hy sy pakkie Chesterfield voor hom rondskuif op die kroegtoonbank en sy BIC sigaret aansteker tussen sy duim en middel vinger draai en draai en draai.  Hy staar na die TV agter die toonbank, maar staar dieper in sy eie verlorenheid in verby dit wat daar uitgesaai word.

Die polisie kantien is maar leeg op Saterdae, wanneer al die kaserne inwoners óf huis toe is óf saam met hulle meisies die naweek elders gaan geniet het.  Net Sersant Fires is elke Saterdag klokslag 12:00 na middagete in die eetsaal en daarna in die kantien totdat dit weer vyfuur toemaak.

So nou en dan sal iemand vinnig inloer en ‘n bier drink, groet en dan weer aan beweeg, maar geen gereelde kliënte is daar op Saterdae in die kantien nie.  Soms, maar bitter min, sal die diens offisier inloer, net om om sy gesag en onsekerheid aan almal ten toon te stel, maar bly nie vir iets te drinke of geselskap nie.  In ieder geval is dit ongehoord vir onder-offisiere en offisiere om saam te drink en beide het hulle eie watergate, sommer regs langs mekaar met slegs ‘n hout paneel in die selfde lokaal wat die “kaf” van die koring skei.

Op die betrokke Saterdag kom daar toe wel ‘n offisier by die onder-offisiers kantien in, maar nie ‘n Luitenant of Kaptein wat gewoonlik die diens offisier is nie, maar ‘n Brigadier.  ‘n Brigadier sien mens nooit nie en hulle is mos so tussen die hemel en die aarde, met permissies gesê, net so onder Liewe Jesus.  Hierdie klas rang kom net voor as daar GROOT moeilikheid of media toesprake is.  Hierdie was ook nie sommer enige Brigadier nie. Nee dit was Brigadier Fűchter, ‘n selferkende ateïs wat per geleentheid vir die Kapelaan tydens gebed in die rede geval het en gemaan het: “Kon nou dominee, bid klaar, daar is werk wat gedoen moet word!”.

Brigadier Fűchter was die area Kommissaris en vir hom was almal so bang soos die houtjie van galg self.  Sy bedonnerde frons op sy voorkop en vuurvreter oë het jou met bewende angs gevul en menige lede het om op ‘n afstand vermy. 

Daar word vertel dat by geleentheid ‘n Sersant sonder ‘n pet op sy kop die Brigadier van vooraf sien aankom het en weggehardloop het en hom in sy kamer gaan toesluit het uit vrees vir sy toorn en ‘n moontlike “peg” of dissiplinêre verhoor.

Met sy inkoms in die kantien het die kroegman, ou Rooies, amper beswyk en spring op aandag en salueer die Brigadier.  Brig. Fűchter reageer met ‘n donderweer brul en trap vir ou Rooies uit omdat hy in sivies sonder hoofbedekking ‘n offisier salueer en kyk stuurs na Sers. Fires in die hoek. 

Sers. Fires sit kalm, onbevrees met geen uitdrukking op sy gesig op sy kroegstoel en strek sy arms voor hom uit op die toonbank met vuiste voor hom op die toonbank soos te betaam word om ‘n offisier te strek as jy sittend is na ure.

Middag Fires” sê die brigadier en plak hom in die teenoorgestelde hoek by die deur op ‘n kroegstoel neer.  Middag Brigadier” antwoord Sers. Fires terug.  Gee daar vir my ‘n dubbel Whisky op ys!” bulder die Brigadier na ou Rooies.  Ou Rooies kyk onderlangs met verbasing na die sersant en Fires knik met sy kop asof hy vir Rooies toestemming gee om die drankie vir die Brigadier te bedien.

Die volgende uur drink beide die brigadier en sersant teug-teug aan hulle drankies en staar doelloos na die TV terwyl ou Rooies met sy arms gevou teen die agterste toonbank leun en die spektakel aanskou.

Na die ongemaklike uur verby is, maak Brig. Fűchter die eerste skuif.  So wat maak julle manne so op ‘n naweek alleen hier in die kaserne?  Hoe bedoel Brigadier nou?” vra ou Rooies op aandag.  Dit is nie ‘n strikvraag nie Rooies en jy kan maar ontspan” sê die brigadier kalm en met ‘n effe persoonlikheid vir ‘n slag.  Nee ons is maar verveeld hier in die barracks Brigadier, so ons eet en slaap en kyk maar TV” antwoord ou Rooies.  Nou waar kom jy vandaan ou Rooies?” vra die brigadier belangstellend.  Ek kom mos van Kakamas af Brigadier..” so asof die brigadier dit nou moes weet.

Intussen sit Sers. Fires nog en teug en staar daar in sy hoek en toon geen teken van belangstelling in die gesprek nie.  En hoe behandel die lewe jou Fires?  vra die Brigadier.  Brigadier weet mos” antwoord Fires stomp.  Ja. Ja Fires ek weet dit, maar wat doen jy met jouself oor naweke en na ure hier alleen?”.  Ek hou myself maar besig Brigadier” antwoord Fires ontwykend.  Ok Fires, ek kan sien jy is jou vriendelike self soos altyd  en gaan voort met sy doellose gesprek met ou Rooies wat gehoorsaam saampraat en antwoord en wonder hoekom die Brigadier nou vandag hier sit en gesels en hoekom hy nie in die offisiers kantien kuier nie. Maar niemand durf hom vra nie en niemand sal ook weet nie, net bespiegel.

Op die kop 17:00 roep ou Rooies “last round” en is klaar bevrees omdat hy dalk amper te laat is en die Brigadier juis hier is om hom te toets, maar die Brigadier skreeu dadelik:  Is jy befok!? ... ek sê wanneer jy toemaak en in elk geval begin die rugby game nou en ek wil eers die game klaar kyk!”.  Ou Rooies kyk angs bevange na Sers. Fires, wat weer net knik vir die nodige toestemming en vertroosting en ‘n effense grynslag is amper te bespeur op sy bakkies.

Sers Fires sit onverpoos in sy hoek en grynslag vir die petalje wat voor hom afspeel en bestel sy laaste Soweto Pepsi, want hy weet hier kom moeilikheid.  Die “gevaarlike” en kwaai ou man wat almal so bang voor is, sit nou hier in die onder-offisiers kantien en gil en skreeu vir die TV en die spelers op die veld soos enige ander ou op ‘n Saterdag en na elke drie vir sy span beveel hy ou rooies om ‘n ronde vir almal te gooi. Later hang ou Rooies soos ‘n nat vadoek oor die brigadier se skouer en moedig die spelers op die veld jubelend aan.  

Na afloop van die rugby en na vele sopies vir die brigadier en ou Rooies laat weet die tap meester die kantien is nou toe. Slingerend loop tap meester en kwaai brigadier hand om die lyf die gang af verby die eetkamer tot in die parkeer area, waar die twee nuwe drinkers broers afskeid neem.  Ou Rooies is op na sy kamer toe in die kaserne en Brig. Fűchter na sy staatsvoertuig in die parkeer area met Sers. Fires kort op sy hakke.  Sonder om om te kyk, mompel hy na die sersant, “sal jy weer agter my aanry huis toe ou Fires en net seker maak ek raak nie die pad byster nie?”. “Ek maak so Brigadier, weer net tot by die grootpad of tot by die huis hierdie keer?”. “Tot by die huis asseblief ou Fires” laat weet die brigadier. “Reg so Brigadier” antwoord Fires.

Die brigadier ry netjies by die polisie terrein uit en in die donkerte in op die pad uit na die hoofpad. “Hy ry nogal mooi en reguit vir ‘n ou wat nie eers reguit kan loop nie dink Sers Fires so vir homself. By die T-aansluiting sit die brigadier soos gewoonlik sy flikkerlig aan om regs te draai, maar swaai net effe regs en ry reguit in die veld in langs die chevron teken verby waar hy in ‘n stofwolk tot stilstand kom. Sers. Fires stop langs die pad aan die oorkant van die pad en hardloop na die brigadier se kar toe om te kyk of hy OK is.

Wat de donner doen Brigadier!” skreeu Fires op die brigadier. “Ek weet nie ou Fires, ek wou net die bus voor my verbygaan en toe land ek hier in die veld?Dit is nie ‘n bliksemse bus nie Brigadier, dis ‘n chevron teken wat al jare hier staan!” gil Sers Fires op die brigadier. “Jy moet my maar huistoe neem ou Fires, maar ek ry nie in jou klein Golfie nie, ons moet met my kar ry.  Jy kan hom môre na kerk weer vir my terug bring.” “Brigadier, vanaand ry jy in style in my kar en jy hou jou bêk” blaf Fires braaf terug na die brigadier. “Môre het hy kamstig alles vergeet en is weersy ou bedonderde self” dink Sers Fires.

Windpompe

Jy kry hulle oral in die platteland gesaai

in afwagting vir die winde om te waai

met koppe regop soos ‘n Sonneblom

meestal pen orent, ander skeef en krom

 

Van die Weskus op tot middel in die Karoo

wag hulle geduldig vir die reën van bo

om die aarde te voed met lewens water

uit genade gestuur van die hemelse Vader

 

In die Kalahari waar droogte baljaar

lyk hulle maar moeg jaar na jaar

hulle koppe hang verlep en geboë

skaam en verleë in hul onvermoë

 

Die mielies en gewasse pronk in die Noordwes

die Genade het die grond se dors geles

blink in die son draai nuwe lemme bly

om vars water in die plaasdamme te lei

 

Die plase lyk mooi, maar die dorpe is besmet

wie sal ooit hierdie wanbestuur kan red

korrupsie in dorpe en stede maak my bang

selfs van die windpompe se koppe hang

 

Stadig draai hul kreunend en vergete

party geroes of stukkend en verslete

in die veld staan hulle eensaam en verlate

opgeneuk en flenters soos Wolmaransstad se strate

 

 

Al is van hulle moer toe gepomp en ongedaan

sal windpompe altyd bly voortbestaan

in die hart van ons Boerevolk sal hy bly leef

al is dit net as baken om vooruit te streef

Elandsbaai

Elandsbaai tussen Redelinghuys en Verlorenvlei

of van Velddrif langs Dwarskersbos verby

op die grondpad langs die spoorlyn moet jy ry

tot daar waar jy die beste kreef aan die Weskus kry

 

Ongerepte natuurskoon met fynbos besaai

blomme en kleureprag wat die omgewing verfraai

die reuk van die see wat kreef se skuilplek verraai

destyds het die vissermanne hier koning gekraai

 

Jong avontuur soekers wat branderplank ry

‘n verskeidenheid voël spesies baljaar in die vlei

rots tekens uit die Bobbejaan berg wat jou verlei

in die grotte sal jy oeroue Boesman kunswerke kry

 

Sout van die aarde mense by die ou fabriek se kaai

maak hul bestaan uit die see al word hulle verraai

uitvoer krewe (nie vir ons bedoel) word hier afgelaai

skelm kwotas wat ongewenstes se sakke belaai

 

As jy ooit kans kry om Elandsbaai toe te ry

op die N7 of teen die kus langs verby

maak seker dat by die hotel gaan draai

en beslis ‘n paar krewe langs die see kom braai