“Normaalweg is dit maar bedrywig in die aanklagkantoor en moet polisielede met Salomo se wysheid en Job se geduld bedeeld wees om almal tevrede te stel.” HUMOR IN DIE AANKLAGKANTOOR deur Majoor C.P. de W. Crafford uit https://www.samirror.com/humor-in-die-aanklagkantoor.html
Daar is ‘n boek deur Adrew Faul by name “Behind the Badge” en die boek dek 'n wye verskeidenheid temas, insluitend redes waarom lede aansluit, opleiding, polisiëring onder apartheid en transformasie na 1994. Volgens die skrywer het elke Suid-Afrikaner 'n sterk opinie oor misdaad en polisiëring, maar die meeste weet baie min oor die lewens en ervarings van die gemiddelde polisiebeampte. Wat die boek nie dek nie is die menige lede wat voor 1994 polisie beamptes was en wat hulle moes ervaar en wat van hulle geword het. Dit is egter ‘n baie sombere en emosionele gesprek en kan vir baie lank gedebatteer word.
Wat ek ervaar het toe ek die boek
gelees het is meer - die agter elke storie tema. Daar is so baie befaamde
lede, legendes en berugte individue saam met wie ek gewerk het. Daar is
die wat roem verdien en dan die wat net in die kollig wou wees. Baie het
boeke geskryf oor hulle ervarings en van die boeke was lewens veranderend,
ander praat net groot en baie van hulle praat die waarheid baie snaaks en
sommer net bog (daar is natuurlik ‘n ander woord wat ek eerder sou wou gebruik
om bog te beskryf). Agter elkeen van hierdie stories, berigte en gerigte
is daar ook ‘n verhaal of ‘n legende. Ek het al baie oorweeg om ook ‘n
boek te skryf oor my ervaringe en ondervinding saam met baie van hierdie
skrywers of mense oor wie al geskryf is in boeke, koerante en tydskrifte.
Die vraag is egter, waaraan sal ek gemeet word? Berig, beroemd, braaf of net
nog ‘n “Glory Hunter”?
Ek het besluit om eerder staaltjies te
vertel wat ek saam met hierdie groot name ervaar het of van wat ek gehoor
het. Die wat ek ervaar het was almal waar, maar die wat ek gehoor het
twyfel ek maar sterk oor en indien dit waar is, wel dan is daar soveel meer om
te waardeer. Ek het ook besluit om dit in die derde persoon te vertel,
dan kan die leser maar self wonder watter was my eie ervaringe en watter was
net staaltjies. En so begin die eerste van baie dan...
Een aand ry Sersant Fires op sy gewone
patrollie besig met sy misdaad voorkoming en oë oop vir enigiets verdag.
Dit is die begin van nagskof en al kan nagskofte maar lank word, weet hy dat
hierdie skof ‘n bedrywige een saal wees. Dit is Vrydagaand en daar sal
baie bakleiery by die nagklubs, kroeë en selfs in agtergeblewe woon areas wees.
Dis elke Vrydagaand se storie, maar op die einde van die maand nog erger want
dan neem die wat maandelikse lone kry ook deel aan die geveg. Daar sal ma
slaan vir pa, of andersom gevalle wees, steroïde belaaide gevegte by die
nagklubs, pad woede en natuurlik moet pad ongelukke nie uit die oog verloor
word nie.
Na middernag is Sersant Fires en sy
bemanning al lekker gatvol vir dronk mense, die aanranding en opsetlike
saakbeskadiging klagtes wat al bygewoon is en al die administratiewe werk wat
daarmee gepaard gaan. Al wat Sersant Fires en sy bemanning, Konstabel Nkosi
wil doen is stop en ‘n lekker komplimentêre geroosterde kaas en ham
toebroodjie met ‘n lekker koppie soet koffie by die plaaslike padkafee.
In hierdie dae was polisiemanne nog met respek behandel en aalmoese in die vorm
van kos en die patrolliewa verniet te laat was, was algemeen en ‘n vorm van
dankbaarheid teenoor diens wat gelewer is. ‘n Skoon en netjiese vangwa of
polisie motor was ‘n teken van trots, dissipline en orde en ‘n gemeenskap
verantwoordelikheid, want Vrydae was ook inspeksie dag vir alle polisie
voertuie.
Slegs een kilometer voor die indraai na
die pad kafee slinger ‘n geel Toyota Tazz met etlike brandewyn vlekke heen en
weer oor die pad. ‘n Skoroskoro soos Konstabel Nkosi na die
verby sy jare verslete ou ryding sal verwys. “Nie nog een nie!”
skreeu Sersant Fires “..ek het so uitgesien na daai koffie breek..“.
Die gesing van jong manne is duidelik hoorbaar uit die voertuig, seer selerlik
studente wat van ‘n jol afkom. Whoop, whoop looi die sirene en die drywer
gooi amper die ou Toyota om en kom tot stilstand met een wiel op die
sypaadjie. Sersant Fires is met een sprong en twee lang tree by die
drywer se venster en al wat die besope bestuurder uitkry is “jislaaik oom,
hoe laat jy my nou skrik! Jy kan mos nie daai siren so op my gat aan sit nie,
kan jy nie sien ek is gesuip nie?!” en net daar net daar pass hy
uit op die stuurwiel uit met die ouens agter in die Tazz wat nog steeds sing en
die ou in die middel slaat die ghitaar. Sersant Fires moet hard op die
dak slaan en sy fluitjie blaas om hulle aandag te trek.
Verstommend kyk
die studente vir Sersant Fires oop mond en woordeloos aan. “Het julle nie
die sirene gehoor nie en weet julle nie dat julle gestop het nie?”
vra Sersant Fires gillende. “Nee Kaptein..” waag een ou dit “..ons
ry al die hele aand so stop stop. Tubby ry maar soos sy gat”, en klap
vir Tubby agter die kop. “Tubby is uitgepass!” bulder Sersant Fires
dit uit, “hoe laat julle so ou bestuur?...het julle geen
verantwoordelikheidsin nie?!” Stil en verbaas kyk die klompie
studente na mekaar, met ‘n vraagteken op elkeen se voorkom. Een skraap
die moed bymekaar om ‘n verduideliking te gee en sê:...”hy was te dronk om
te sing oom, toe laat ons hom maar bestuur?”. Sersant Fires is
stom geslaan, maar dink gou terug aan sy jong dae en die nonsens wat hy
aangejaag het toe hy ‘n student in Pretoria se polisie kollege was. Die goed
wat hy gedoen het as hy naweek af gekry het, kan ‘n ou ook boeke oor
skryf. Hy haal die sleutel van die voertuig het die aansit skakelaar uit
en gee opdrag dat hulle in die voertuig moet bly totdat hy terugkom om hulle
almal toe te sluit.
Net voor die einde
van die skof om 05:30 stop Sersant Fires weer agter die geel Toyota Tazz, nog
net so halflyf op die sypaadjie waar hy dit 4 ure terug gelos het. Die
venster is toe gewasem en ‘n koor van snork geluide kom vanuit die
voertuig. Sersant Fires klop teen die passasiers ruit en ‘n deur die mik
geslaap en deurmekaar jong seun draai die venster af. “Môre oom..” sê hy
verward, terwyl hy die slaap uit sy bloedbelope oë vryf. “Het julle
jul roes afgeslaap..?” vra Sersant Fires. “Ja dankie..”
sing die koor. “Hier is die sleutel..” sê Sersant Fires en
gooi dit op passasier se skoot neer. “Reguit huis toe...en julle laat nie
vir Tubby bestuur nie. hoor julle my?” Met absolute dankbaarheid
en verligting sing almal “dankie oom ons sal nie weer nie oom...baie
dankie oom”.
Sersant Fires stap terug na sy patrollie voertuig en sien uit na die einde van sy skof. Hy hoor die Toyota se slinger draai enjin vat maar traag en dan die dreuning van die moee ou skoroskor. Sersant Fires kyk hoe Tazz stadig wegtrek en versigtig in die pad inry. Tubby sit nou links voor en die nuwe bestuurder lyk maar bang en versigtig en loer met ‘n skewe glimlag van dankbare tevredenheid na Sersant Fires. Die ou karetjie is nog koud en hoes en spoeg en draai stadig in die pad om, en met die verby ry skreeu Tubby...”dankie Kaptein...!, sien jou weer volgende Vrydag aand...!”. Sersant Fires skud sy kop, maar glimlag toe in die patrolliewa inklim en sê saggies onder sy pet deur ”donnerse klomp student sal my nog na vroeë pension dryf..”