Glansplasing

My Lewensreis

In die hoëveld is ek gebore en getoë

Gegroei, geleer, geval en gevind

My tiener hart gebreek uit en liefkry se onvermoë

Heel laas uit liefde in die eg verbind

 

My Weskus nooi wou die vuur in my bedaar

Toe ek onseker die wêreld agternagesit

Dapper het ek die lewe in die oë gestaar

Slegs deur die Vader se hand beskut

 

Later my vroutjie se geboorteplek leer ken

Lambertsbaai, Velddrif en Paternoster se bekorings

Ongerepte met sy eenvoudigheid moes ek verken

My lot aangewys deur die lewe se vuurtorings

 

Na elke besoek aan die Weskus jaar op jaar

Moes ons terug na die stad in die noorde se gejaag

Om van vooraf weer die druk en stres te aanvaar

Die alewige roetine wat ons drome weereens vertraag

 

‘n Halfeeu oud is my my wens eers bewaarheid

Ek en my liefling het in die Weskus kom woon

Rustig en veilig van die res van die land se naarheid

Met aanskoulike sonsondergange beloon


Die laaste pylvak wenpaal toe lê voor ons deur

Om van vooraf weer ‘n nuwe lewe bou

Ons sal sukkel, swoeg en swaarkry en voort beur

Om ‘n nalatenskap vir ons kinders en hulle kinders te behou

 

Optimisties benoud durf ek die hindernisse aan

Nuwe uitdagings en dinge om te leer

Slag gereed om geleenthede hok te slaan

Gee my wysheid en waardering O Liewe Heer!