Glansplasing

Blou Mannetjie Sindroom

Hoekom is daar altyd in die lewe iemand wat aan blou mannetjie sindroom ly? Hy ry altyd in die vinnige baan sy spoed, meeste van die tyd vinniger as die spoedgrens met flikkerende ligte op jou gat. Jy durf nie agter hom of voor hom ry en enigsins stadiger of vinniger as hy ry nie. Hy weet altyd beter as jy en argumenteer soos ʼn passer om sy eie gat.

Sy rugby span is die enigste rugby span wat bestaan en enige ander span hoort nie op die rugbyveld nie, maar is net daar ter vernedering of om as oefen sessie vir sy span te dien. Hy argumenteer met jou asof jy sy tyd mors om in sy geselskap te wees en lyk sommer geïrriteerd met jou as jy jou opinie wil lig. Wys jy hom op Wikipedia feite dat sy span se wen persentasie teen die top 5 (sy span ingesluit) maar gemiddeld slegs 52% is en nie so oorweldigend as wat hy voorgee nie (en dat sy bek net half groot kan wees en nie 100% groot nie), het hy eerstens nog nooit van Wikipedia gehoor nie en oortuig hy jou dat dit ʼn sameswering van die regering is om mense se politieke- en geloofsoortuigings te verander en vertel jou dan in dieselfde asem van die drie wat hulle in die Currie Cup finaal in die laaste minuut van die wedstryd gedruk het in 1998.

Sy kar is altyd die beste, sy dokter is die enigste spesialis wat jou urologiese dilemma kan regruk, hy ken al die jagters, het die beste ingevoerde geweer en sy bok se horings het twee draaie meer is jou laaste trofee. Hy is die beste ou by die werk en sonder hom sou die plek se deure al lankal toegemaak het, sy kinders is die slimste en vinnigste op die atletiek baan en sy laaitie gaan ongetwyfeld volgende jaar Craven week rugby speel. Hy bring gewoonlik ʼn twee duim dik steak na die braai toe en sy vrou maak volgens hom die beste Jan Ellis poeding. 

As sy span wen bel hy almal, al was dit nie eers jou span wat gespeel het nie nie en laat jou weet hoe eenvoudig jou span is. Sy span se vlag word 10 meter bokant sy dak gehys teen die spesiale vlagpaal wat hy laat opsit het deur dieselfde kontrakteer wat die pale voor Nelson Mandela se staatshuis gedoen het. Sy kar is vol plakkers van sy span geplak en ʼn prominente anatomiese juweel hang aan sy motor haak waarmee hy die nuwe Caprivi junior Boswa, rowwe terrein sleepwa met sy dubbelkajuit bakkie afsleep Hartenbos toe elke Desember. O ja en volgens hom kry hy elke jaar die beste staanplek ........ want onthou ........ hy het “connections”. Hy dra net klere gekoop by Cape Union Mart, koop al sy daaglikse produsente by Woolies, en dink die Spur is “common”. 

Maar ou matie ........ as sy span verloor ........ sien jy hom nie vir ten minste 2 dae nie, sy selfoon is af, die huis se ligte brand nie eers nie en hy boek af siek Maandag. Hy gaan nie eers kerk toe of koop die koerant nie ........ net vir ingeval hy in iemand moet vasloop. Die vlag hang nie eers halfmas nie ........ dis sommer weg en sy foon gaan nie eers oor voicemail toe nie. Jy kry hom nie op Twitter nie, hy reageer nie op Facebook nie en sy ma sê sy is bekommerd, want nie die kinders of sy vrou antwoord hulle fone nie en sy BBM se profiel is net swart. Ja julle ken hom almal ........ en deesdae haar ook baie goed! Dit is daai ou met die blou mannetjie sindroom en hulle is in oorvloed. Jy kry hulle oral, in elke provinsie, stad, dorp en woonbuurt sovêr as Melbourne, Auckland en Buenos Aires ........ behalwe as hulle span verloor dan verdwyn hulle soos geld uit ‘n Limpopo munisipaliteit. As hulle eendag weer te voorskyn kom lyk hulle sommer siek en af ........ maar herhinder jou gou-gou net weer an daai drie in beseringstyd in 1998.

Ai Foeitog!!