Glansplasing

Die Virus

Die mensdom is in hul huise vasgevang

Ingeperk om mekaar weer te ervaar

Van vooraf lief te kry en te aanvaar

Ons vryheid gaan van ons gedrag afhang

 

Party beweer dit is ons eie toedoen

Moeder aarde veg genadeloos terug

Oorbevolking, gemors en versmorende lug

Om natuur en mense weer eendag te versoen

 

In ‘n verdeelde wêreld met selfsug daarin

Mens wat nie omgee of die aarde vergaan

Nou gedweë gedwing om saam te staan

Moet ons nou oor ‘n nuwe toekoms besin 

 

Met vrees en paniek besaai

Baatsug van die egoïstiese mens

Koop gulsig al wat kan vir die spens

Drankloos voel ander verraai

 

Dit gons en daar word baie gepraat

Sameswering, nalatigheid of noodlot

China, Amerika, terroriste deel van die komplot

Sal ons ooit weet wie het die virus uitgelaat


In ons huise sal ons volhard sonder verset

Hou die nuus dop in groot verwagting

Aanvaar die noodregulasies met minagting

Julle sal klaarkom met wat jul het!

 

Almal probeer om kop bo water te hou

Die geestelik geveg om normaal te bly

‘n Ewige stryd om die virus te vermy

Ons kan maar net bid en te vertrou

 

Koester hierdie kosbare tyd wat God ons gee

Leer geduld, geloof en verdraagsaamheid

Ervaar rus en vrede, liefde en familie tyd

Aan die ander kant sal ons nou ‘n nuwe wêreld betree

Kleur

Die opwinding borrel in my,
genadig is nog ‘n week verby.
Naweek ontvlugting lê voor die deur,
weg van dit wat my ewewig versteur.
In raadsale vergader hulle uur op uur,
net om repeterende opinies te verduur.
 
Die pad huis toe is in donker omvou,
dik verkeer laat my gemoed grou berou.
Opgewonde op pad Weskus toe,
met die kreef wat ek in my gedagtes proe.
Vrye beweegruimte wat ek na smag,
Weg van dit wat ek daagliks verag.
 
Op die Klipheuwel pad by Fisantekraal verby,
sal jy die stank van vark mis of iets dergeliks kry.
‘n Laaste poging om jou geesdrif te smoor,
om jou vir oulaas die geraas in jou kop te laat hoor.
En dan ontbloot sy haar.. verleidelik en onbeskaamd,
in lower kleure is die natuur eerlik verwaand. 
 
Die winterreën hierdie jaar al was dit maar min,
het met sy wonderwater sy kant gebring.
Allerweë het die oeste gewasse in oorvloed gegee,
om ywerig ‘n nuwe seisoen in te tree.
Spog en pronk die veld soos 'n windgat pou,
en noop my om op die pad na bevryding te hou.
 
Malmesbury is ‘n waansinnige geskarrel,
bevlek met gemors wat in die wind rond warrel.
Langs Dieprivier brug lê ‘n besope man,
klaar in sy eie donker wêreld vasgevang.
Oorkant die pad vanwaar hy in sy eie pyn lê en kwel,
word hy ongenaakbaar deur sy ewe besope vrou geskel.
 
Uit die dorp se geraas en malle rumoer,
wyk die kraaie wat alweer in my kop rond sloer.
Net voor Rondomskrik se plaas,
word my kop ontslae van al die geraas.
Voor my is die hemel doek ‘n kaleidoskoop,
ten einde laaste van die grou gestroop.
 
Die helder vlam oranje bal in veelsydige kleure omring,
rooi skakerings van granaat pitte wat die roesbruin indring.
Oranje pampoen, mandaryn geel, lemoenskil en koraal,
bloos appelkoos met sagte kleure uit ‘n kinderverhaal.
Robyn pienk en die bloue-pers-violet van ‘n aandblom,
verdiep in die kleure wat steeds verander en ek staar verstom.
 
Teen die ‘n sierlike hemel tapisserie  met sy warm palet,
is die sonsondergang besig om hom teen die donker te verset.
‘n Diep amarant of purper rooi wat uitdoof na framboos,
pers lelies wat die wange van die wolke laat bloos.
Ek wil dit vasvang en met ander deel, met woorde .. 'n tafereel,
hierdie rooi, pers, oranje en geel.
 
Almal het dit al gesien, beleef en ervaar,
en op sosiale media weer in ‘n oogwink laat vaar.
Bekyk op die streel paneel van jou slim foon,
om onsself teen die skoonheid van die natuur te verloën.
Ek moet hierdie mooiste mooi uit God se hand herleef,
dit met woorde beskryf soos Opperman, Totius en Boerneef.