Glansplasing

Vreemdeling in my eie land

Na 'n gewetensbeswaar of eerder ʼn verantwoordelikheidsaanval om terug te gaan Johannesburg toe vir besigheid (en absolute onwilligheid), bevind ek myself vir die soveelste keer op die lughawe opsoek na parkering wat stellig meer as my eerste salaris tjek gaan kos. Parkering gevind, laptop rugsak op die rug en reistas (wat ek soos daai rooi waentjie wat my pa vir my gekoop het toe ek so tjokkerkie van 3 of 4 was agter my aansleep), sit ek af na die kiosk om my kaartjie te gaan druk. Ek het die vorige dag al op internet  ingeboek om tyd te spaar en ek is mos IT geletterd en weet hoe om al dié soort van goed te doen. Inteendeel die slim web ouens het nou al ʼn APP ontwerp wat sommer jou instapkaartjie vir jou op jou foon sit, maar dis Afrika dié pappie en ek glo en vertrou die ouens daar voor by die hek gaan my uitlag en terug stuur na die inboek toonbank om ʼn “regte kaartjie” te kry. Ek hoor sommer al hoe sê  Goodwill vir my: “... eh ... sorry sir ... in fact you know ... eh ... we here at ACSA ... we don’t use that cell phone ticket ... eh ... these matchien the ghawermint give us ... eh ... they don’t in fact scan the ticket so nicely ... sorry né!”.

Onderwyl ons skuifel-skuifel soos beeste ter slagting vorentoe beweeg deur die drukgange van die lughawe, word dit eensklaps donker en ‘n skadu van vrees oorval my. Ek het dan gehoor Kaapstad is ‘n groen lughawe met natuurlike lig en hoe kan dit dan donker word as die son buite skyn .... maar toe ek omdraai sien ek dit is die kolossale reus van ‘n Kobus Wiese wat die lig uitdoof. Ek tuur onderlangs na die titaniese man en eertydse Springbok held (en mede Leeu ondersteuner) en bewonder sy deftige uitrusting en kleredrag. My ou beklaenswaardige GAME tassie en rugsakkie lyk so lamsalig en vervalle teen Kobus se Italiaanse leer Polo besigheidsmanstas wat hom ongetwyfeld in dieselfde klas as baie ander aristokrasie plaas, ‘n aansienlike man wat respek inboesem. Hy moes seker die vrees en inkrimping in my oë en lyftaal bespeur het en groet my baie vriendelik met ‘n boere Afrikaanse - “goeie môre?!”. Ek grinnik terug “môre” en wonder of ek hom moet vra wat sy opinie van Romain Poite se 2 geelkaarte teen Bismarck teen die All Blacks is, maar kry nie die moed bymekaar nie en trouens, die Lions doen ook nie so goed soos ons gehoop het nie .... ek kry dalk ‘n dwarsklap of ‘n gluur wat my in elk geval kan aanspoor tot benatting of beswyming.

Ons beweeg deur die kontrole punte, na die “Slow Lounge” – wat natuurlik glad nie “slow” is nie - vir ‘n vinnige koffie en ontbyt, in die ry soos skape deur die hek en op die vliegtuig prop ons tasse in waar ons ook al ‘n spasie in die oorhoofse bagasieruim kry, skuif in ons sitplekke in en gordel vas. Vinnig gou die ou oorfoontjies in die ore dit sodat ons nie met mekaar hoef te praat nie, blaai doelloos deur die lugredery se tydskrif en sonder rêrige belangstelling oor wat daarin aangaan en wag ongeduldig vir al die afkondigings, veiligheidsaankondigings, die goedkeuring om op te styg en die 2 ure lange sieldodende vlug na Johannesburg. Almal is in besigheidsformaat en daar is meer “laptop’s, tablets en smartphones” as krewe wat uitloop op die strand tydens rooigety. Geland op OR Thambo en die malle geskarrel na tasse, huurmotors, taxi’s en badkamers is aan die orde van die dag en so begin die lang week in dié hart van Afrika se besigheidshoofstad, die stad met die leuse “eenheid deur ontwikkeling”, Jozi, Egoli of ook bekend as die stad van ligte (Maboneng) .... en net daar begin my eensame reis as vreemdeling in my eie land!

Op pad na die motor verhurings deur die internasionale ontvangs hoor ek talle dialekte wat ek nie ken nie, sommiges kan ek eien, maar ander is totaal vreemd. Wonderlik dink ek, toerisme is mos goed vir die ekonomie en ontwikkeling. Ek probeer van die dialekte identifiseer, daar is heelparty wat Frans en Portugees praat, maar daar is ook Italiaanse, Spaans of Mexikaans (ek is nie so seker nie ... of is dit dieselfde ding?) en natuurlik Amerikaans met hulle vreeslik swaar “drawl” ... ‘n mengelmoes van “y’all”, “wicked”, “Go pahk the cah in thee yahd and let’s get a cup of caffee” . Ek raak sommer opgewonde as ek dink hoe baie mense na die sokker wêreld beker besluit het om ons ou landjie aan die punt van Afrika te kom besoek. Madiba, Robben Eiland, die leeus en springbokke wat so los in die strate loop, die honderde natuur reservate en nasionale parke, fantastiese weer en Suid Afrikaanse diversiteit, moet seker ‘n groot trekpleister vir uitlanders wees ... en moenie vergeet nie ... met ‘n $100 kan jy vrek ver kom en met ₤100 kan jy vir ‘n jaar lank bly!

By die huurmotor kiosk word ek deur ‘n baie vriendelike swart man bedien. Baie beleefd wil hy weet hoe dit met my gaan en of ek ‘n lekker vlug gehad het. My ou tjorretjie se sleutel word vinnig oorhandig en met ‘n glimlag word ek gegroet “thank you sir and enjoy your day!” en ek word na my parkering aangewys. Op pad na die kar met my my sleepwaentjie-tas kon ek nie help om te dink dat ek ‘n effense aksent by die huurmotor klerk bespeur het nie, definitief nie plaaslik soos Zoeloe, Xhoza of Tswana nie ... nee ... volksvreemd ... amper asof daar ‘n Portugees of Frans wil deurkom.

Ek klim in die ou huurmotortjie en spring op die snelweg in die rigting van ons kantoor in Houghton en probeer die kar radio instel terwyl ek met die een hand en een oog die kar in een van die 4 bane tussen die magdom trokke, afleweringsvoertuie en karre probeer hou. Nie een van die stasies is bekend nie en dit is een van daardie kosmiese oomblikke waar daar op geeneen van die stasies musiek is nie, maar almal praat oor allerlei onbenullighede (dink ek) ... maar niks wat ek kan verstaan nie. Ek is nou nie eintlik al die 11 landstale magtig nie, maar kan hier en daar ‘n woord optel. Van een frekwensie na die ander hoor ek Sotho, Xhosa, Zoeloe, Tswana en Ndebele (dink ek), maar niks Ingels of Afrikaans nie. Ek weet dat 94.7 die stasie is wat ek altyd na geluister het toe ek nog in Johannesburg woonagtig was, maar selfs dit klink nie meer dieselfde nie en vreemd ... en om alles te kroon bly dit van die stasie afgaan. Drie keer deur tussen 88 Mhz en 180Mhz op FM en nog geen stasie wat ek mee kan assosieer nie, word ek gestop by die hek van ons hoofkantoor deur sekuriteit beamptes met glim baadjies wat my vir ‘n oomblik laat dink ek is in ‘n JHB Metro Polisie padblokkade. Na vele verduidelikings dat ek personeel is en met al die dokumentasie en registers ingevul en identiteit verifikasie gedoen, word ek ten einde laaste parkering aangewys.   

Na ‘n dag se swoeg en sweet tussen al die vergaderings wat ek in die drie dae probeer inprop het bevind ek myself in die voorportaal van my Rosebank hotel. Om my is ‘n gewemel van besigheidsmense en dit lyk of hulle almal daar is vir ‘n konvensie of werkswinkel en weereens is dit volksvreemde wesens. Geskat aan hulle kaftans, dashiki pakke en boubou’s is hul moontlik afkomstig van Nigerië, Somalië, Senegal of Soedan, maar iewers van Wes Afrika.  Almal is baie opgewek, vriendelik en vrolik, maar ek verstaan nie ‘n woord nie en voel so minderwaardig soos ‘n Zim-dollar. Hier en daar maak ons oogkontak, maar al kommunikasie tussen ons is die internasionale taal van ‘n glimlag en ‘n kopknik uit ordentlikheid of uit solidariteit .... Daardie halwe glimlaggie wat sê: “Ja swaer, wat sou ons dan nou in elk geval vir mekaar sê as ons mekaar kon verstaan?”.

Later die aand besluit ek om bietjie te ontsnap uit die kunsmatige luuksheid van die hotelkamer en besluit om vir my iets ongesonds by een van die honderde wegneem eetplekke in die bekende “The Zone” van Rosebank te kry. Met my bestelling geplaas besluit ek om op een van die bankies te gaan sit en een van my lekkerste tydeverdrywe, “people watching” te beoefen ... en sowaar weereens is al 54 lande van Afrika verteenwoordig,  ten minste verteenwoordiging van 32 lande in Asia ... ek weet nie hoeveel Europeërs nie want hulle lyk mos almal dieselfde, maar ek het definitief Italiaans en Duits gehoor. As ek hulle taal kon praat sou ek sê .... welkom in die land van melk en heuning. Eers wonder ek waar die Suid Afrikaners dan is .... maar hulle kan jy almal uitken aan die hang skouers soos ‘n Three Ships Whisky bottel en ‘n aalwynpil in die kies.  

Die vier moordende dae in Jozi het so lank gevoel soos Jack Parow se pet se piek en ek bevind my terug op OR Thambo lughawe waar dieselfde roetine herhaal word .... kaartjie druk, deur die metaal verklikkers en verbode items polisie, in die ry by hek D6 na Kaapstad in afwagting vir die aankondigings dat ons aan boord kan gaan met honderde omringende besigheidsmense met hulle sleepwaentjie tasse en oorfone in die oor .... en sowaar as vet .... terwyl ek vroetel en tas na my instapkaartjie, hoor ek weer in ‘n dik aksent hoe sê een vrou vir ‘n ander .... “Ya know what, I’ve just paid a dollah fifty  for a chahger for my mohbihle Y’all” .... waar kom al die yanks vandaan? .... ek dag dan hulle sê die Chinese is besig om die wêreld oor te neem!     

Op die vliegtuig Kaap toe is dit stampvol van mens, dit lyk soos ‘n dokumentêr oor vervoer in  India .... ek verwag enige oomblik ‘n ou met ‘n skinkbord vol vetkoeke, samoesas, allerlei vrugte en speserye wat skree “two for the price of one” en ‘n ander met twee lewendige hoenders wat hy ongeërg onderstebo aan die voete dra. Daar is kinders wat skreeu, ongeduldige mense wat nie plek het vir hulle drasakke vol memento’s, etniese beelde uit die middestad van Johannesburg en selfs bottels wyn wat hulle op die lughawe se “duty free” gekoop het, weet hulle nie die Kaap is vol van die beste en wêreld klas wyne nie? Daar is tannies met handsakke so groot soos baba doeksakke, dié met doeksakke en ‘n kind op die heup en ‘n ander een aan die ander hand, toeriste met hoede uit Texas, rugsakke, nog drasakke, slaapsakke, plastiese sakke en sportsakke. Waar moet ons besigheidsouens nou ons twee toegelate sleepwaentjie tasse sit?   Mense kan baie slim wees. Nee regtig, dit klink sarkasties, maar mense kan absoluut briljant wees. Einstein en klomp ander mense was baie slim. Hulle het goed uitgewerk en voorspel wat ek nou nog sukkel om te verstaan, maar wat my nog meer verwar is hoe al daai mense met die magdom bagasie dink dat as 175 mense elk een ekstra tas, sak, rugsak of pakkie ekstra het, dit die bagasieruim met die helfte verminder, die gemiddelde gewig van die vliegtuig met 1 570kg vermeerder (±20 ekstra mense) en die risiko van “overloading” verhoog .... en jy het gedink ‘n taxi na Polokwane is gevaarlik?    

Die vlug is maar ongemaklik en steurend, langs my sit een van daai groot Texas oompies met die bekend goue broederskap ring op sy regterhandse ringvinger. Daai tipe wat jy so gereeld op die TV programme sien en ek wonder of die oom in Vietnam was ... of dalk was dit maar net ‘n ring wat hom herinner aan sy universiteits dae? Hy vang  my in ‘n oomblik van swakheid en vra:” Aw je fhrom Cahptown?” ... “Yes, but originally from Johannesburg” antwoord ek. “Whaaaht is the pohpuhlation of Cahptown?” ... vra hy .... “sorry?” vra ek .... “Whaaaht is the pohpuhlation of Cahptown?” .... vra hy stadig soos iemand wat hard met ‘n dowe mens praat .... hoe de donner moet ek weet! .... Dink ek, maar antwoord heel intelligent .... “Approximately 1 million less than in Houston”. “Oh really?!” sê hy asof hy weet hoeveel mense in Houston is?!

Ek dink terug aan die paar dae wat ek nou op besigheid was en hoe vervreemd een eensaam ek gevoel het, nie net omdat ek weg van die huis en familie was nie, maar ook omdat dit vir my voel dat ek nie meer in die stad waar ek gebore en groot geword het inpas of hoort nie. Johannesburg is ‘n nuwe stad, ‘n besige stad, ‘n (ander) wêreld stad, ‘n vreemde skyn bedrieg stad. My nuwe tuiste is Kaapstad, met sy natuurlike skoonheid, kreatiewe vryheid en ongelooflike gees, waar die onverwagte net om die draai is en die prag en skoonheid van die Westelike Provinsie net wag om ontdek en verken te word, maar ek moet bieg dat dit waar is dat die weer in Johannesburg fantasties en moontlik die beste of gematigste in die wêreld is.

Vaagweg deur die musiek op my “smartphone” en oorfoontjies (wat ek as selfverdediging teen die skreeuende kind skuins agter my en daai een passasier wat daarvan hou om sy stembande om die lugwaardin se ore te rek – al klaende), hoor ek die stem van die Kaptein. Ek kan nie eintlik hoor wat hy sê nie, maar aan die laer toon en dreuning van die vliegtuig weet ek nou al uit ondervinding was die opdrag iets soos “Cabin crew…. ten minutes to landing....... prepare and cross check”. Die passasiers raak rusteloos, die tannie skuins voor my steek haar hand uit vir haar man oorkant die paadjie net soos toe ons opgestyg het en dit is duidelik sy hou niks van vlieg nie en ek is ook nou al blikners gesit.

Alhoewel dit bewolk is buite en ons nou die koue nat weer van die Kaap nader, staar almal gehipnotiseerd by die vensters uit opsoek na die wêreld gesogde Kaapstad (terloops CNNGo, die reis-vleuel van CNN Internasionaal, het Kaapstad gelys as een van die wêreld se 10 mees geliefde stede, toe te voeg tot die Moederstad se lang lys van toekennings). Na ‘n perfekte landing op die nat aanloopbaan en kort rit na die terminaal, spring almal haastig op en lyk paniekbevange en gryp na hulle besittings om uit die buik van die walvis te ontsnap .... meer helaas .... almal moet noodgedwonge staan en wag vir die deur om oop te maak en dit voel soos ‘n leeftyd. Ek hoor hoe een vrou agter my vir toeriste waarsku om hulle juwele weg te steek, alle bagasie in die motor se bagasiebak te sit en nie nie soos toeriste te lyk nie .... goeie raad .... maar is dit nou ‘n manier om toeriste in Kaapstad te verwelkom? Mens kan sien dié vrou is ook een van dáái wat niks tussen die ore het nie, haar kop is so plat daar is nie eers plek vir ‘n kopseer nie .... en toe sê ek sommer vir die kuiergaste in my beste Ingels: “Don’t worry this is not Joburg!”.         

Terug by die huis is daar nie eens ‘n lig van verwelkoming aan nie en voel ek weereens vervreemd, maar met my intrap by die huis is almal bly om my te sien en ek is bly om by die huis te wees. Ons ruil stories en ervaringe en elkeen wil die ander se storie hoor en sy eie vertel .... en binne slegs minute vergeet ek van die vervreemding in my geboortestad en voel ek weer tuis en waar ek hoort ... soos hulle sê: "Home is where the heart is".  Ek wil elke oomblik indrink en geniet, want oor twee weke is dit weer sulke tyd!