Aan die kus tussen Lambertsbaai en Yzerfontein,
sal jou sorge en jou laste vinnig verdwyn
Ongeëwenaarde skoonheid rym gesaai,
waar die wonder van Fynbos die wêreld verfraai
As jy net voor jou uit bly staar,
sal jy nooit die Weskus se skoonheid gewaar
Staan ‘n slag stil om alles om jou te bekyk,
die veld sal jou met ‘n skatkis van prag verryk
Sout van die aarde mense sal jy hierlangs kry,
hard besig om te werk of kos voor te berei
Snoek en patat of waterblommetjie bredie,
vir moskonfyt op brood se ek nooit nee nie
Plaaslike vissers werk hard en gedwee,
vir seekos en kreef uit die koue diepblou see
So kom en verlustig julle asseblief gerus,
aan Paternoster se heerlike kreef en vis
Joviale toeriste wat salig in die strate loop,
waar kinders hul skulpie handewerk verkoop
Sierlike gastehuise word ten duurste bewoon,
blind teen die verslawing wat armoede beloon
By Velddrif neffens die Bergrivier,
word jy verras met nóg Weskus plesier
Hier kan jy bokkoms by die vis-huise koop,
of leer hoe mens harders uit ‘n net kan stroop
St. Helena baai en Laaiplek se werkende hawe,
waar politiek die waarheid van kwotas begrawe
Vissermanne wat ‘n bestaan probeer voer,
verloën deur gierigheid wat om elke hoekie loer
Voor Lambertsbaai kry jy ‘n opelug eetplek,
met kreef en vars vis uit die see oopgevlek
As die blou see water aan jou voete soen,
word boerekos resepte se geheime verbloem
Na die nat en koue winterreën,
word daar meer sierlikheid aan ons verleen
As die son sy arms oor die oop velde straal,
openbaar miljoene blomme hulle kleurryke verhaal
Ons eertydse beminde Weskus juweel,
word nou deur binnelanders en uitlanders gesteel
Menigte vlug nou meteens weg van die plundery,
om hulle stukkie hemel voor die res te kan kry
Wat sal word van ons Weskus se mooi,
as almal hulself eensklaps hiernatoe nooi
Ons hoop en ons bid die migrasie is gou verby,
sodat ons sierlike Weskus behoue kan bly